die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

2008-03-09 ‘n Gedagte Alleenmandaat

Dis 09:47, Sondagoggend. Terwyl ek en ʼn vriendin in die week gesels het oor ons planne vir die naweek kom dit op dat sy nie dié Sondagoggend kerk toe gaan nie. Sy gaan ook nie kerk op TV kyk of oor die radio luister nie. Sy het ander planne. Haar ma het gewonder wat Jesus daarvan sou sê …

Ek het ook begin wonder.

Dit het ongemaklike vrae laat ontstaan en ek wou nie eens daaroor skryf nie. Wel, terwyl ek ook nie nou by die kerk is nie en nie van plan is om ʼn tweede diens te gaan opsoek nie, sal ek maar kontroversieel wees.

Ek vra voorlopig om verskoning vir die tannie daar in die derde ry met haar vrolike blommetjieshoed aan. Sien, my ma hét my geleer mens dra nie ʼn hoed in die huis nie maar vir een of ander rede is dit anders as jy kerk toe kom.

Terwyl ek so gewonder het, het daar twee vrae by my opgekom oor Sondagoggend se kerk mis. Het die kerk alleenreg op Jesus? Het die kerk ʼn alleenmandaat?

Dis soos om ʼn motor elke 10 of 15 duisend kilometers vir sy diens te neem. Mis jy dit is daar moeilikheid met die enjin. Nou wonder ek in hoofletters. Is dit nie onverskillig van my om ʼn diens te mis nie? Gaan my tenkie nie leegloop nie? Wag! Daar is Woensdag se kleingroep of die middel-van-die-week diens … so, as ek Sondag wil gaan bergklim kan ek nog Woensdagaand rapporteer vir my diens.

Ek is nie ʼn motor nie.

Ek dink dis ʼn goeie idee om voor einde volgende jaar te trou. Ek sal vir my ʼn fraaie aster iewers opspoor, haar wyn en sjokolade voer tot sy ja sê of verslaaf is. Met haar trou en dan net kyk wat die diensvoorwaardes is voor ek kontrak teken. Saterdae kan sy Menlyn toe gaan vir haar kleinhandelterapie; tone, naels en hare gebeur elke tweede Dinsdag en dan iewers in die week kan ons saam ʼn reeks op die betaalkanaal kyk.

Tweemaal per jaar vat ek haar see toe vir die sout-lug wat sy so koester en loop saam met haar op die strand terwyl die son sak. Jy sien, sulke goeters sit haar liggies aan en hou haar tenkie vol. Sy is wel ʼn bietjie meer moeite as my bakkie maar ook soveel dieselfde: altwee het so nou en dan maar hulle olietjies nodig, of liefie dit nou op die hande sit of die rimpels daarmee streel loop sy gemiddeld op ʼn punt of twee …

My liefie is ook nie ʼn motor nie.

Hoekom maak ek van my verhouding met God ʼn diensrekord by ʼn handelaar? Geen wonder Christenskap het vir sekere mense ʼn vyfjaar of 100 000 km onderhoudsplan geword nie.

Die tannie in die derde ry raak nou ʼn bietjie ongemaklik. Die blommetjies op die hoed probeer agter die wit gaas wegkruip maar helaas dit luk nie.

Dis dalk waar ons die pot mis sit (ek wonder altyd van watter pot daar gepraat word, siende dat dit die aard van die gemors bepaal wanneer dit mis gesit word …). Het jy al gehoor hoe mense sê hulle tenkie is nou leeg en te danke aan hierdie vergadering van die gelowiges sien hulle nou weer kans vir die res van die week …

Ek is sommer hartseer. Is dit al wat van ons godsdiens geword het? ʼn “Regmakertjie”, daardie ekstra ietsie wat gewone Coca-Cola ʼn ouderdomsbeperking gee … wat my gewone week draaglik maak ..?

Of, is dit half moontlik dat ons die hele punt mis?

Die tannie in die derde ry sweet gulhartig voort. Sy het al drie snesies uit die boerebeursie gehaal en ek wonder wat nóg daar gaan uitkom.

Oom Gous daar langs haar wonder ook.

Iewers in ʼn stadium het ʼn skoolsisteem ons denke betree (betreur?) en ons oortuig dat jy nét dit weet wat dié priester jou leer … dat sommige studente HG is en ander nie. Groot ons verbasing as daar ʼn ander Leermeester is ..?

Ek wonder soms hoeveel van ons beplanning beplan ons voor of na die Leermeester se inset … siestog, nét ʼn insetsel … Goed, ek slaan nou wyd, maar dis my diens hierdie.

Ek dink nie mense leer binne die klaskamer nie. Vandaar die verbasing as ons studente so baie van seks en partytjiepoeiertjies weet, jy sien, hulle leer dit by die maatjies op die skoolgrond. Die maatjies langs hulle in die klas. Die maatjies daar buite. Die gemeenskap van die heiliges.

Hierdie is nie ʼn griefskrif teen die instituut nie, maar eerder teen die institusionalisering van die lede en hulle verhoudinge, veral dié van hulle verhouding met HOM. Dis nie meer die gemeenskap van die heiliges nie maar die vergadering vir die afhanklikes. Het ons nie dalk mense sjokolade en wyn gegee, gewag dat hulle ‘ja’ sê voor ons van hulle ʼn bruid maak nie? Dalk moes ons maar eerder brood in plaas van sjokolade gebruik het …

My punt is nie dat ons die ouditoriums moet afbrand en in huise vergader nie, nog minder om dié gemeenskap te verlaat nie. Ek is eintlik jammer oor hulle wat die “lig” gesien het en die gemeenskap verlaat het. Deel eerder daardie lig met ons. Ek glo die rol moet verander, die tafel moet draai en dat ons van ʼn ander kant af die storie moet benader. Dat ons moet beleef wat verhouding beteken voor ons leer wat metamorphoo is …

Die tannie in die derde ry staan stadig en moeilik op, vat haar handsak en skuifel tussen die stoele uit na die gangetjie toe. Oom Gous sit ʼn oomblik om sy sonde te bely. Die tannie het haar deel gedoen en haar diens bygewoon … ek wonder of sy geluister het.

Jy kan van HG Hoër Graad maak of Heilige Gees … net soos jy wil.

Metamorphoo: Rom 12:2

Single Post Navigation

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: