Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik
Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik
Op die bus, op pad terug.
Die Melktert Kommissie draal die stilte doof terwyl los gesprekke tussen stoele die tyd uitkoop. Ek asem my laaste teue van Mosambiek in terwyl haar vingers deur die ruite met my hare speel.
Ek wou dit onthou, dus is die getorring met letters niks minder as die kommentaar op die storie wat reeds in ons foto’s en flikkerbeelde afspeel nie. ʼn Storie waarin jy ook ʼn karakter is.
Meteens gluur die lyne my aan, wil weet watter letters ek aan hulle gaan hang en, soos die markte waar lappe en klere aan toue in die wind wil dans, soek ek ook die bont-baljaar wat jou ʼn stukkie Mosambiek laat beleef.
Ek sien hoe jy terug is in die dorp, jou gordyne in die nag oopmaak, opkyk na bo en wonder wat van die sterre geword het …
ß)
—
28 Junie
Dis net ʼn draad
Uitgetorringde erts staal gespan tussen ons …
Jou spore trap soos myne …
ʼn Herinnering in stippels gesoom.
Eintlik is dit net denkbeeldig
Tog kan ek my nie ‘oor’ dink nie,
Net ʼn stempel verder
Asem ek dieselfde lug …
Jy ook.
Is ons grens net soos die skemer
Die gordyn tussen dag en nag?
—
29 Junie
Ken jy stilte?
daardie plek waar selfs die niks
ophou raas
—
My kinders kyk vanaand vir die sterre
en saggies kan ek hoor hoe hulle ogies
in blinkers wonder …
maar diep in My sakke gons
legioene meer …
fyn sand vir die heelal se vensters bestem
elkeen met sy eie vonkel.
—
Nie net ʼn Poskaart nie.
Nee, hier groei regte gras uit die murasies
– selfs op die dakke –
en dís wat my van Afrika bekoor,
waar selfs dié halms deur ons
imperialisme se geboue boer.
Saggies sluip sy ook so jou hart binne
haarwortels tuur in die takke van my bestaan
en ritmes in my los woed
soos ons tussen die gehuggies vaar.
My wit vel skif minder
In die nasie se gedagtes,
Asof mens dit kan voel?
—
30 Junie
Ons is in Mosambiek
Tofo om presies te wees.
Dis bewolk, tog jolig in die bus,
Dis ook toe dat “Ek herhaal Jou”
Oor die luidsprekers speel.
Ek hou van Afrika
—
Soms voel ek so geïnspireerd
Dat ek niks het om te skryf nie …
—
Die skanse van ons skadu’s
omlyn skaars die groter gestalte
soek rus in sy obskuriteit
maar vlek sonder om ooit merk te los …
—
Instinktief hunker ʼn kind na sy
Moeder se bors.
Iets van daardie begeerte
bly soek.
—
ʼn Fetale vreugde vir ʼn moeder
se bors roer in my wese.
Kan ʼn man in eenvoudigheid
soveel plesier vind?
Sou selfs die begeerte
vir ʼn vrou kan skif
in vergelyking met Jou,
Jou kinders,
hierdie Land.
—
1 Julie
Jy het aan my bors gevoed.
Ek het jou in my arms gedra.
Die rus vir jou het vroeër gekom.
Toe jy die gevolge van my skande dra …
—
My kinders huil in Afrika
die sorge van ʼn oorlog blind
met my hande leeg wil ek jou vra
wie gaan hulle harte verbind …
—
2 Julie
Baringsnood.
Daar is ʼn lus wat ek uit die ou dae ken,
ʼn kompulsiewe drang wat wil hê,
sy volle oorgawe wil stuur in net een rigting.
Word ek hier in die vreemde versoek?
Het my wag my in die steek gelaat,
en so oorgelewer aan die bose?
Al was dit net vir ʼn oomblik,
Was dit genoeg om te besef:
Ek moet en Wil nog in die hande kry …
Want net stukkies van dié God is te min vir my.
—
“Bon dea, Senôr.”
“Porvavor.”
“Muento beng Obrigado …”
In ʼn vreemde ongeloof straal sy gesiggie,
Lettertjies verstrengel uit sy mondjie
Terwyl hy vir my die speletjie verduidelik …
“Si, Senôr?”
Hy kom agter die wit man verstaan glad nie
Tog gee dit nie om nie.
Iewers het hy en sy twee maatjies
van daardie leë 25l kanne in die hande gekry,
ʼn harde grondwal gevind,
ʼn opregte Mosambiekse glyplank gebou.
Sommer daar langs die nasionale pad.
—
Oral langs die pad het hulle van ver af al gewaai. Dis seker nie elke dag dat ʼn witman met ʼn driepoot en videokamera verbygestap kom nie.
Opmerklik het sy nie eens opgekyk nie …
“Bon dea?”
Sy sê niks.
Langs haar kom ek eers agter dat sy skaars kan sien.
—
Hier is dit nou, die doolhof van my verwagting
Blyk die stilte te vervreem
En jy dra nog die Skugter Droom.
Was daar ʼn seisoen, mag dit lente wees
Want net bloeisels kan in kranse vir jou staan.
—
Wat doen ons hier?
Kyk my Britse Jesus
Jou verward aan?
Elke volk, Elke stam … in sy eie taal.
—
Hoe tel ek die splinters op?
Waarheen dra ek die skerwe van my bestaan?
My hande is flenters
My knieë dra die letsels van jare se glas
Tog prewel ek steeds
“God wees my tog net genadig”
“o-Jirre!”
Soms is ek voor my vyande
Om die stok te slaan,
Skel en laster ek aan die kruis langsaan …
“o-Jirre”
—
3 Julie
Weer is my pen leeg
uitgeteer oor bladsye suf en sier.
weer is my woorde hol
dors gedagtes op soek na betekenis.
—
Kon ek ooit ʼn duideliker wete gehad het?
Kon Jy enigsins Meer vir my bestaan?
stilweg hunker ek steeds
dors my wese na ʼn groter belewenis …
Jou vorm bly my ontwyk
tog met elke spieëling
sien ek Jou skadu om die hoek verdwyn
ruik ek Jou in die wind
en weet Jy is daar!
Kan ek enigsins beteuel?
Is daar rede om te rem?
Waarom sou ek terughou?
Waarom sou ek skugter?
As alles in my slotsommend weet:
Dis net JY
“Net JY”
Eggo dit in die duisternis
—
4 Julie
ʼn Mens het sterre gekyk
Wanneer jy die aarde se beweging in hulle kon sien.
—
Die oggend dra hom saam met die eerste brode uit,
Terwyl die oond nog warm word,
Met ʼn rooi gloed luier die strale vir eers.
Later sal hy nog wit brand
Ek hoor jou hart teen myne
en die bos transponeer jou vreugde tot ʼn kwetter skal.
Salig dryf hy na die ander kant
terwyl ons in die sweet van ons aangesig
die tyd verbou.
Dan kom dit weer
aan die oorkantste oewer
met die dag ryp en vol gebeure
hang die stof swaar in die laaste knal.
ʼn Afwagting rol tapyt
oor die venster van die heelal
—
6 Julie
en hier sit ons onder die sterre
terwyl ʼn beeldbeuel gedaantes
teen ʼn lap laat dans
die kinders van Afrika se gesiggies
gloei in die golwe lig
wat oor
hulle spoel
Betowerd staar hulle na die
gedoente wat die
vreemde mense hier kom opslaan het
die kragopwekker knetter eenkant
teen ʼn rustige pas
en die film kom tot sy einde
tog is dit net die begin
want die Man in die storie lééf
—
Dis eintlik vroegaand toe ons
die eskomdonkie agter op ʼn fiets wou laai
nie dat die fiets vanaand nog gaan kan ry nie
want die saal moes waai om plek te maak.
Daar stap ons soos die Israeliete
net sonder die vuurkolom … ?
—
Die fiets
Ons ontwaak met die luier van die bus wat die stilte verskeur,
een vir een soos meerkatte uit ʼn gat peul die span en sy geselskap
selfs van onder uit die bus.
Dit was ʼn kort nag.
Terwyl ek ʼn draai om die bus loop sien ek ʼn fiets.
Niks vreemd nie.
Dié stapelvervoer sien jy oral in Afrika.
Slaapsakke word opgerol en koplampies krap in sakke rond
– ons moet al op die pad wees voor die son opkom.
Reg om te roer, merk ons dat die fiets nog houtgerus langs die bus lê …
Onraad?
ʼn Portugese brabbel laat ʼn man heel verleë van agter uit die bus verskyn,
skamerig verlaat hy sy bus-ster-hotel,
of verlaat sy hotel hom toe ons in die donker oggend in verdwyn.
Tog nie met leë hande nie?
Nee, niks is weg nie
ek dink net aan die kampvuurstories wat hy nog gaan vertel van sy
nag in die bus.
—
As ek nog een foto of stukkie beeldmateriaal neem van iemand
wat met ʼn fiets langs die pad ry of selfs net stap
gaan ek sekerlik die mense tuis frustreer
wanneer ons deur die magdom beelde moet spartel.
Tog bly dit betowerend
glo ek eers dat ek in Afrika is
wanneer ek dit oral sien.
My Afrika, waar enige ding met wiele
“4×4” is en ʼn vrag kan dra …
—
Ek sit in ʼn kerk, een van die groteres wat ek al in Afrika gesien het.
So graag as wat ek Portugees sou wou leer, help die dubbelmedium preek glad nie.
Wat ek wel kan sê is dat die Engelse weergawe darem goed was.
Wat nie uit die stukkie hierbo so duidelik besef word nie, is dat ek in my persoonlike hoedanigheid goed geskool is om in amper enige posisie te kan slaap en dat ek so deur die foto’s neem en beeldmateriaal invorder, dié paar lyne kon skryf … ên slaap. Jip, ek het meeste van die diens gemis en later moes hoor dat die maat wat gepreek het nie noodwendig 1000de kassette sou verkoop nie.
—
Die afgelope week spieël
deur die gange van my gedagtes
—
Sou die stilte hom verwaan?
Sou die tyd homself verspeel?
Sou jy die muur afbreek
wat nog net aan jou kant bestaan …
—
It’s funny how we despise death,
Funny how we shy from something
Completely out of our Control.
It’s all Good, Take me
Ek het iets dié nag bespeur in die bus toe ons deur die slaggate ploeg, net om later te hoor daar was nogal ʼn klomp mense wat gebid het dat ons tog net veilig by die huis sou kom … hie-hie
—
Hierin word die teendeel bewys
Wanneer jy vind voor jy soek.
—
7 Julie
Ek dink aan die algemene handelaar
met haar tafeltjie langs die strand
in Vulankulos
vir ʼn paar “meitjies” het sy
haar hele besigheid laat skuif
sodat ons bus kon verby kronkel
op pad na ʼn geteerde weg.
—
EN1 – Hoofweg
Ek sal maklik ons drade
ruil vir die seltorings hier.
Al ontsnap stukke teer hier en daar
bly dit steeds mooi,
Dalk moet hulle maar gras plant?
—
8 Julie
Gisteraand het die span ʼn hele pub
oorgeneem en gedans soos Afrikaners.
Vanoggend het ons dolfyne en walvisse
gesien toe die son oor die see opkom.
—
Ek vind in jou die maat en metrum
van ʼn diepe siele rus
gekunsteld tot die ritme
van ʼn oeroue puls . . .
beur die stilte deur
—
Dis waar die nag begin
ʼn noue aanskouing
Nee, ʼn noue ontkoming
met vergetelheid
Jou flikkers dans oor die plafon
skimme van die eeue
kryt uit teen die eindelose nag
—
9 Julie
die rustigheid klad deur
die kontoere van Jou raak
stadig skulp ek my in Jou vrede in
tot ek weet – nou is dit veilig …
gepantser in Jou vorm
breek die diepste ween los
en die hunker na Jou nabyheid
vind my terug op Jou bors
dit is waar ek sal wees
in die skade van Jou sy
in die letsels op Jou rug
reg by Jou
—
ek speel met lettertjies
en kyk wat hulle aanvang
soos kinders op die strand
baljaar hulle vorms in die sand
—
10 Julie
Die landskap treur in die maanlig
terwyl Mosambiek stadig uit die bus se vensters spoel.
Ek dink ʼn stukkie van my hart
kruip hier iewers weg …
Ek sal moet terugkom
om hom te kom soek,
weer en weer
… maar nie té hard nie …
—
Weer soek ek woorde om Jou
om te soom.
die gedagte van Jou teenwoordigheid
blyk nie te vinde te wees in letters nie
Jy bly onseglik
en hoogs onmisbaar
—
28 Junie – 10 Julie 2008
Soos dit met sommige stukke skryfwerk is, gaan dit wat ek bedoel het, dit wat daar staan en dit wat jy gedink ek daar geskryf het vyf verskillende goeters wees. Ek het partykeer gedink dis ʼn gediggie of woorde vir iemand van die teenoorgestelde geslag, net om later te besef dat Iemand dit eerder vir my geskryf het. Nog iets wat ek nie beplan het nie.
Partykeer kom daar ʼn spieël op en jy dink: “nee, gelukkig is ek beter as dit, wie is die mens in dié prentjie, Here? Moet ek vir hulle bid …?”
Oeps.
Dit het begin met films soos “American history X”. “Tears of the Sun” het my gemoed van voor af geskud, so ook “Hotel Rwanda” en hier ʼn paar jaar later in ʼn kliniek op Maforga bars ʼn Magtige God los deur ʼn siek kind.
Sonder om die films ʼn onreg aan te doen wil ek vir jou iets van die tema vertel. In swart letters. Dis nie mooi films nie. Hulle gaan jou nie soos “August Rush” ʼn warm gevoel gee voor jy met ʼn glimlag gaan slaap nie. ʼn Swart sweer het uit my hart geteer toe ek besef dat mense wat sinneloos doodgaan my nie juis ontstel nie.
22:53 pm
Die Kommissie het intussen ophou speel, iewers in die uiltjie. Die sterretjies pryk ook vermoedelik nog agter die intimiderende wolke, intussen sluip spookbeelde van voorheen glorieryke dorpies by my venster verby. Dat sommige van die span se name my nog ontgaan is nie minder waar as die feit dat julle lewens deur myne gespoel het. En dit in ʼn land waar verspoeling soveel verwoesting bring, kan ek sien hoe juis die teendeel tussen ons gebeur het.
Terug by die films.
My reaksie op die sinnelose geweld het my gekonfronteer toe ek besef dat die Maforga vigskinders dié wêreld verlaat soos hulle hom betree het, as kinders. Die besigheidsman in my het die “col
lateral damage” bepaal en koud bevind – dié kinders dra geen sent tot die wêreld se ekonomie by nie.
Amper dadelik wou ek my van sulke gedagtes vervreem, maar soos die kinders het hulle blymoedig agter my aangehardloop oral waar ek geloop het, want sien: hulle is my wesies, my buite-egtelike skande wat net erkenning wil hê vir hulle bestaan. Kan ek die swart hoekies in my hart eien en voor my Bruidegom erken: “Ja, dis wat daar binne aangaan” en hulle vir die gekruisigde hande gee wat juis daarvoor betaal het.
Eers toe ek die waarheid in my eie hart deur die oë van my Vader sien kon ek die kinders van die land optel en op die heup rond dra. Kon ek die vreugde in hulle oë sien en hulle spore in die sand volg wat vir sommige net ses jaar daar gaan wees voor die wind dit uitvee …
Die punt: Hy het ʼn heelal geskep, alles in perfekte balans geplaas sodat ek dalk 70 jaar op aarde kan beleef en ervaar wat die engele nooit van Hom sal ken nie. Wie is ek om die kinders nie daardie belewenis te gun nie, al is dit ʼn effektiewe druip persentasie in vergelyking met my lewe tot dusver.
Immers het Sy Seun ook vir hulle gesterf. “Moet die kindertjies nie verhinder nie …”
ʼn hart verander
Vir die rekord: Dit was nie op die vrywaringsvorm wat ek geteken het nie, nie eens in kursief of die fyn skrif nie …
Deur my venster het die wolke plek gemaak vir die maan, treurig en mooi. Dis amper twee weke gelede toe ons hierdie pad gery het, helder oordag. Met relatiewe skoon klere, wel ʼn bietjie geskend deur ʼn nag op die bus, maar nietemin skoner. Ons was soos die gestrykte klere ook onaangeraak, anders as nou.
ʼn Gesprek van vroeër vanaand speel terug: “Ek sou nooit in Pretoria ʼn gebraaide hoendersosatie by ʼn straatmark gekoop het en ʼn feesmaal van dit gemaak het nie …” Dan onthou ek soos gister die eerste vleis wat ek by ʼn mark net suid van Angola in Namibië gekoop het, toegedraai in twee dae gelede se koerant. Die ondervinding is nog lank nie vir my ou nuus nie.
Dis nog iets van Afrika wat nie sy bekoring verloor het nie: haar manier om jou vir ʼn dans te vat – of dit nou deur die slaggate van jou eie lewe is of ʼn goeie 80’s sokkie tussen die banke van ʼn bus. Kort voor lank ry jy in ʼn taxi en beleef die wonder van ʼn drywer se geloof(?) in ʼn skedonk se vermoë om jou deur die strate te verplaas. Dieselfde Afrika dra jou op haar hande met ʼn bord pap en ʼn paar bone, vrouens wat sing en klap terwyl die hart in dromme tot diep in die nag puls.
Afrika, waar die liggies van die stat nie die hemel toe skyn nie.
—
Nie meer die buitelander nie
Nie minder die vreemdeling nie
Al ken die strate my naam
Is dit nie meer ek nie
Ek kyk om my en sien dat dié stad
nie verander het nie
haar wesies dans nog by die ligte
groen, geel en rooi …