2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie
2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie
“Strokie asseblief” sê ek amper outomaties terwyl ek my kaart vir die dame gee. Ons is hoflik met mekaar. Sy vra toe “So, hoe celebrate jy dié Heritage Day?”. Ek dog dis Braaidag …
“Ek gaan dit vanaand verseker op ’n spesiale manier doen …” mompel ek deur die valhelm.
Net soos die tolhek in my spieëltjies spoedig verdwyn en ek my oorgee aan die rustige verlaat van die stil snelweg waai die herdenking ook uit my gedagtes.
Maar ’n paar dae later het dit weer begin knaag, soos ’n slegte hoesie wat net nie wil paai nie. “Goed” gee ek oor aan die eerste wonder: “Wát is my erfenis?”. Dadelik dink ek aan kulture wat ek as ryk aan erfenis ag en besef dat 350 jaar skaars ’n tiener is in hulle geselskap. Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dis dalk seker hoekom dit so stil is.
Nukkerig neul ek toe dat al wat ons as Afrikaners op Erfenisdag saambind ’n kosmaak ritueel is wat terugdateer na die oermens toe.
—
Ek luister Tori Amos, dis ná twaalf, slaap is seker ‘n goeie idee, ek tap skottelgoedwater in en al waaraan ek kan dink is my eerste vakansie in Jeffreysbaai Desember 1996. Daar was ’n oom in die woonwapark wat my en ’n vriend in sy motor gelaai het. Ons het baie draaie in die dorp gery tot ons in ‘n woongebied voor ’n vervalle huis tot stilstand gekom het. Hy het heel opgewonde uit die motor geklim en ons R50 of so iets belowe as ons sy gras (wat halflyf hoog was) sal sny en die erf bietjie opruim.
Ons was nie daarvoor te vinde nie.
Ek besef nou meteens ek kan bly wees hy was nie ‘n pedofiel nie. Goddank!
Nou dat ek daaraan dink, het ek daardie vakansie iets van my erfenis begin beleef! Afrikaans.
Dis die vakansie waar ek in Afrikaans begin skryf het. Daar bestaan wel ’n volle 11 bladsye van skryfwerk voor daardie vakansie – als in Engels. Die pad af see toe en die tydjie daar het letterlik vuur gemaak onder die lettertjies in my wese en hulle het uitgesmet* tussen daardie eerste blou lyntjies van ’n klein notaboekie.
Iewers in die jare voor dit het ’n liefde vir letters en hulle rangskikkings in my grein kom ínvlek dat, selfs nou, ek hulle in arms vol wil laat bos-staan in die vase van hierdie aardse kruik.
—
Oulaas
Hopies verdriet lê alleen,
met net ’n naam
’n datum,
wat as merker dien.
Gestasioneer
weg van liefde,
tussen kroesies halfwoestyn klipkoppies.
’n Blom het verskyn,
tussen klip en harde grond,
soutwater-liefde
het hom gestreel,
en in die Sondagoggenddou
wat soos ’n diamante lê en glimlag
het dominee, “Amen” gesê.
Swart geklee,
het ons in die somerson
weggestap
van dié rusplek
in stilswye
vir die laaste keer …
—
Mens moet seker ook eers iets hê, voor iemand anders dit kan erf?
—
Lina is seker een van die meer vreemder dames wat al by ons gewerk het. Soms as ek wakker word en nie ten volle besef dis al weer Maandag nie bevestig haar giggel so vroeg in die oggend dit vir my.
(Wat dínk jý?)
Ja, die ou siel het die gewoonte om sommer vroeg in die oggend by ons huis op te daag en met die intrap gou ’n geselsie aan te knoop. Dis nie dat sy een of ander verbale diarree of iets het nie, sy wil net sê hoe dit gaan en ook graag weet hoe dit met ons gaan.
“… hie-hie … kyk hoe maak hulle. Hulle bel in, tsjik en antwoord die vraag daar by die radio en wen dan sommer ’n duisend rand. Hie-hie … hoor daar!” Verduidelik-vertaal sy vanmiddag terwyl haar stasie oor die draadloos blêr. Ek sit en eet terwyl sy langsamig aan ’n beker tee sit en drink. Ons het vir ’n tyd – toe sy alleen in die dag by die huis gewerk het – gedink sy luister skelm Radio Pretoria, net om later te besef sy skakel na die naaste Afrikaanse stasie toe net voor sy in die middae loop.
Dis dalk deel van die erfenis wat ons generasie moet probeer nalaat, ’n verlore vyandskap verdoesel deur jare se wedersydse aanvaarding en begrip …
Wedersyds.
Mag ons eendag om dieselfde vuur sit, verskillende stasies luister, maar dieselfde vleis braai.
—
Ek luister na Eva Cassidy wat haar weergawe van John Lennon se “Imagine” voordra. Dis eintlik hartseer? Eintlik wou ek dié gedagte op die vorige bladsy sy punt laat bereik het waar mens goed voel oor jou liberale opinies en jou aandeel in die goedheid van die wêreld. Waar ek voel my kinders gaan in ’n ander Suid-Afrika woon waar ons mekaar nie haat nie.
Toe nou nie. Ek het van Erfenisdag af net te veel oor die hele ding gedink om dit soo maklik te laat verby gaan. Waaragtig spoor ek toe iewers deur een nag in die Beeld ’n beriggie raak oor die stoere Afrikaner wat 16 Desember 2008 ’n 170 jaar se bestaan wil vier.
Ek wonder of hulle weet COPE wil dit hulle ‘stigtingsdatum’ roep. Ja, waaragtig!
Of almal dit wel stigtelik gaan vind, weet ek nie.
So “ons” foeter weer met een of ander ossewa-replika deur na die regse dorpies om 170 jaar te vier. Soos ou Steve en meeste van die res van die Afrikaanse “ek en my kitaar het ’n CD”-troepe, kom dié stukkie ‘erfenis’ nie noodwendig in my boksie trousseau wat ek nalaat vir my ongebore kroos nie. Ja, ek weet die boere het die Here belowe. Ja! Ek weet hulle het die geveg gewen. MAAR wat ek wil weet is wat presies jy dink hulle belowe het en hoe die wen daarin pas.
Terwyl ons klippe in die bosse gooi: nee dié is nie ’n Belhar belydenis nie. As ek alles in die Voortrekkermonument opvreet beteken dit dat ek die vrymesselaars ook in my erfenis absorbeer? Nie ’n manier nie. (Oeps! Het ek dit hardop geskryf? Toemaar, almal in ons verlede was sulke sout van die aarde dat hulle NOOIT met sulke goeters betrokke sou raak nie … belowe.)
Sover ek die geskiedenis reg verstaan (en ek weet dis subjektief tot die regerende party …) wou die boere die ‘donker kontinent’ betree met die ‘lig’ van hulle boodskap. Was daar ’n bloedige geveg om juis dáárdie boodskap die duisternis in te dra … het hulle in die mis gebid vir oorwinning in die stryd tussen lig en donker.
Vandag glo ek nog stééds dat daar duisternis in dié kontinent is en wil ek deel wees van die span wat die Lig inbring. Dat ons in die proses met Taal en kwas die akoestiek van elke dag omlyn en ons belewenis uitsprei oor doek en esel is ’n voorreg wat ek waardeer.
Dít is my erfenis.
*’uitgesmet’: ʼn Konsep tussen uitgesmyt en besmet. Ek dink dat iets jou aansteek om te begin skryf en dat daar soms oortollige woorde ook in die proses uitkom. Van daar af begin die woorde konsepte oopkloof in mense se gedagtes om vir hulle óf ook die oortuiging te gee óf dit te laat verwerp óf selfs net te daag om daaroor te dink. Nie alle konnotasies van siekte is dus regtig relevant met die beskrywing nie tog vind ek soms dat die enigste effektiewe kroniese behandeling vir my siekte is om te skryf.