2009-01-02 Welkom by die Stofpad Langs Gedagtes
Welkom by die Stofpad Langs-Gedagtes
Deur Reinard Bekker
Deur in die huis sal ek sommer met die intrapslag die formaliteite uit die weg wil ruim. Kry die koffie of gooi ʼn goeie pinotage want dié langpad het nie tyd vir jaag nie.
Stofpad Langs is ʼn tv-reeks waaraan ons huidig werk. Dit het op 25 Desember 2008 op Tafelberg begin en eindig in die draai van Maart-April 2009 by die Voortrekkermonument. Want ons kan!
Stofpad Langs is seker soos ʼn bak lasagne, eenvoudig en, sonder om enige geheime resepte te probeer uitlap, kom dit bloot neer op pasta, maalvleis, kaas en ʼn witsous. Die pasta sal ons vergelyk met geskiedenis en ʼn redelike fokus op “Die Vergete Grootpad” s’n in spesifiek. Oom Barrie, ʼn sendeling van Noenieput, ry nou vir die sewende keer verder as 1000km met sy perd – hy is ons maalvleis vir dié gereg. Ons volg sy spore op die hakke van vergete togryers.
Maar om die hele spulletjie saam te bind benodig ons ʼn goeie sarsie kaas en witsous, dit sal vertolk word deur die talle onderhoude met boere, museumtannies, knapwinkeleienaars en soms eksentrieke karakters soos hulle uit die stof reis …
Vir die inhoud van die program sal julle moet wag tot dit op die kassie skyn.
Die res van die volgende drie maande se gedagtes sal straaltjies in hê van die mense wat jy heel moontlik net as ʼn naam, van en funksie aan die einde van die program sien verbyrol.
Barrie Burger kom van Noenieput in die Kalahari, Noord-Wes van Upington af. Hy is ʼn sendeling wat met sy perd (Queen) lang afstande aflê– soos die togryers van ouds – in sy geval meestal alleen.
Anita Erasmus is die regisseur van die produksie en ook een van die direkteure van Everland Productions – die maatskappy wat Stofpad Langs vervaardig. Sy was 12 jaar lank as MD by Maranatha Platemaatskappy betrokke. Sy en Ansie is die ‘Executive Producers’ van die film ‘Tornado’ wat later die jaar uitkom.
Ansie Nel is ook hier al is dit nie fisies so nie. Sy behartig Everland se sake in Pretoria en verslind die foto’s wat ons op Facebook laai.
Mart-Marie Schoeman is die produksie sekretaresse en reël die meeste van ons logistieke dinge, sy is die stem wat al die mense met wie sy die afgelope paar maande oor die foon gesels het, wil ontmoet. Sy bestuur saam met Sarina die kiekiemakers vir die prentjies wat ons wil onthou.
Mocke Prinsloo is die ou sonder hare wat sy beeldhou vernuf met die videokamera toepas en so die hart van die tog opvang. Hy is gelukkig met Sarina getroud en ek dink sy stem saam. (Hie-hie)
Sarina (ja, haar van is net soos Mocke s’n ook Prinsloo), sy vis vir ons foto’s uit die plekke wat ons besoek en hou Mocke se hand vas. Sy, soos Eva, het ook die mag oor die Appel en redigeer saam met Anita die beelde dat hulle op die kassie kan riel.
Bennie Jansen is ons jongste ruiter op die tog, hy is 15 maar sal jou herinner dat hy darem dié jaar ook verjaar en 16 word. Hy ry agter die skerms saam op Tornado, die perd waaroor die film gaan wat oom Barrie en sy perd se storie vertel. Hou die teaters dop – die film kom aan die begin van April uit.
Estiaan Cronjé is die logistieke bestuurder en vorm saam met Bennie deel van oom Barrie se ondersteuningspan. Hy is veral vernuftig om na ʼn lang dag in die son nog steeds plek te hê vir ʼn glimlag. Hy gaan nog ʼn stuk grond van sy eie hê waar die mens en natuur mekaar kan bekyk. Ek hoop hy sal my nooi om te kom kuier …
Ek dra ook ʼn loerkas rond en help om die prentjies in te roep, soms voel ek meer soos Noag wat maar net die skippie het en die diere daag self op. Meer van wat ek aanvang sal deur die gedagtes skemer.
Aan die praktiese kant: ons ry ʼn gemiddeld van 20km per dag, daar is plekke waar ons in tente langs die pad slaap en plekke waar die boere amper handgemeen raak met mekaar om vir ons slaapplek te verskaf.
Voorlopig sal dit dan al wees.
Die boeretroos se beker daar langs jou is seker al leeg of, as dit ʼn glas van die rooies was, het dié ook al klaar gesneuwel, so as jy gou voor jy aangaan ʼn tree saam met my wil stap: Soek ʼn plekkie wat regtig stil is, sit …
Luister
Die mense van hier sê dat die Karoo is stil genoeg dat jy jou eie hart kan hoor klop …