2009-02-04 ‘n Stofpad Gedagte_04 Eelte
‘Eelte’ is seker nie heeltemal die regte woord nie. Dalk is dit meer soos ‘vanselfsprekend’; ‘aanneem’ mag dalk weer begin wegdryf van die idee af. Hopelik gaan die punt homself beskryf.
Ek dink dis ʼn goeie ding om so elke nou en dan net te kyk wat jy het en dit van voor af te begin waardeer. Gisteraand lê ek in my slaapsak en opkyk. Sterre. Meteens val dit my by dat ʼn ritueel wat nogal deel geword het van ons toerbestaan is om satelliete te tel. Dis niks vreemd om iewers langs die vuur te sit en sommer in die middel van die gesprek uit te val met “oe! Daar is nog een”. Gou kyk almal op, plot die beskrywing en sien die liggie verby zoem. Teen dié tyd verwar ons hulle nie meer met die pendelaars se stille vaart in lugskepe nie.
Sal jy vanaand gou vir my iets gaan kyk? Ek het nog nie satelliete in die ruim gesoek terwyl ek in die stad was nie. Hulle lyk maar soos dowwe sterretjies wat beweeg, amper so vinnig soos vliegtuie – dit wissel soms. Kyk of jy een sien.
Ek gaan dít mis. Om satelliete te soek en onder die sterre aan die slaap te raak . ʼn Koel windjie in die aand, net genoeg om die muskiete te jaag en die dag se warm weg te sus. Vlaktes. Wyd en aaneen.
Die afwesigheid aan mure om my.
Dit het ʼn maand gevat om moeg te raak vir tent opslaan en netso onder die sterre te gaan lê. Dit was eintlik ʼn eenvoudige besluit: dis warm, ons slaap in die tent maar los die vensters oop? So wat doen die tent eintlik? Niks. Nou slaap ons buite.
Eintlik het dié hele konsep ʼn lang toeloop. “Die afwesigheid aan mure om my.” Dit gaan nie net oor binne of buite die tent slaap nie. Dit het al weke gelede begin waar ons op plekke gekom het en nie alles wat ons het KAN toesluit nie. My bakkie sal gelaai wees dat die seiltjie boep staan agterop en nou moet ons hom iewers los – wat!? Gaan niemand wagstaan nie?
Mense los sommer hulle huise oop. REGTIG! Dan kom ons by hulle aan en als staan oop. Nog ʼn ding wat die mure afgebreek het, het gebeur toe drie van ons span terug moes gaan Pretoria toe om aan ʼn ander program te werk. Die yskassie en vrieskassie was agter in daardie voertuig, nou moet die yskassie agter op my bakkie en ek het nie ekstra batterye in om hom te dryf nie. Oplossing? Laat luier die bakkie elke nou en dan vir ʼn halfuur of so. Gevolge: stap na bakkie toe – die sleutels is in hom want die sigaretaansteker gee nie elektrisiteit na die yskas toe as die sleutel nie eenkeer aangedraai is nie – draai die knormoer en laat die bakkie luier. Los maar die venster oop. Terwyl die bakkie luier, loop weg en vang ʼn middagslapie. Ja, gaan slaap maar.
Maak net seker van een ding: dat daar genoeg brandstof in die tenk is.
By Droogvoetsfontein was dit bedompig in die verlate huisie wat ons vir ʼn nag oorgeneem het. Ek was nog besig om die vensters oop te maak toe ek besef daar is geen tralies, gaas, diefwering of so iets voor die vensters nie. Dan kan ek mos die voordeur ook oop los. Nee, nie net ongesluit nie. Óóp.
Stadig het die mure verbrokkel.
Dis weer soos die gal in die blou bokkie se kop, die dink wat in jou begin as jy sestien is. Ons loop nie kringe in ʼn bos nie – selfs nie hier in die vlaktes nie – maar die wêreld word ʼn ander plek. Saul het nie verniet daardie eerste keer hom verskrik toe hy besef dat die dorp nie ín die bos is nie.
Nie almal wil jou doodmaak of jou goeters steel nie. Nie almal haat jou vir jou pigment nie. Terwyl ek skryf voel dit asof die woorde die belewenis verdwaas, eintlik gaan dié gedagte oor die goeters wat ons het en nie as vanselfsprekend moet neem nie. Dinge in die lewe wat deel van ons algemene belewenis is en nie eintlik vir almal so ‘algemeen’ is nie. Eenvoudige dinge soos om die sterre in die aand te kan sien, of selfs om met NET sterrelig die wêreld om jou in die nag te kan gewaar.
Ons kan so gou mure om ons bou wat ons van al die skade moet beskerm dat ons die lewe begin mis. Ek dink my broer het dit baie jare gelede raak beskryf net na daar by ons ouerhuis ingebreek is: “hulle kan jou besittings steel – dié kan nog vervang word – jy moet net nie toelaat dat hulle jou vrede ook steel nie …”
Kan ek dan afleidend sê dat die wêreld jou dalk forseer om mure om jou besittings te bou, jy moet net nie mure om jou lewe ook bou nie.
Dalk ís dit dan soos eelte. Dis immers my eie vel wat so verhard teen die kitaar se staalsnare. Eelte wat my vingerpunte teen die pyn beskerm, maar my hart oop los om die lirieke en melodie te voel, die lied toe te laat om my in my binneste te roer.
Ja, as ek in die dorp kom sluit ek darem my bakkie se deure.
Maar dis al wat ek sluit.
knormoer, =e, (omgangst.). Selfaansitter van ‘n motorvoertuig.