2009-05-18 ‘n Gedagte_Rook dit
Marcel was nie sommer die “standaard” tipe ryloper nie, wel nie op die maniere wat jy dink nie. Ek het Marcel nie langs die pad opgetel en ʼn geleentheid gegee omdat daar niemand anders naby was nie. Dit het so bietjie toevallig gebeur, tog met genoeg ryloper elemente om vreemd te wees. Soos in die “standaard” gevalle het ek Marcel nie van ʼn kant af geken nie, die uwe het trompop die volgende oomblik voor my gestaan en vir ʼn saamrygeleentheid gevra.
Hoekom nie?
Noudat ek daaraan dink, ek het vir Johan iewers in die Karoo opgetel, naby een van daardie plekkies waar jy nie lekker weet waar dit is nie, tog is jy nou daar. Eintlik was dit nie ʼn plekkie nie. Daar was niks. Al wat ek kan onthou was die man langs die pad met sy slierte, sak en tas. Dit was ʼn voorreg om dié navorser ʼn geleentheid te kon gee. “Eintlik lyk ek nie altyd so nie, dit kom maar so saam met die lang paaie.” Ek knik. Die sak het ons sommer agter in die bakkie gegooi maar die tas het hy nie onder uit sy oë laat uitgaan nie.
Ek raak soms aan die slaap en het die geselskap meer waardeer as wat dit oor enige samaritaanse gebruike gegaan het. “Eintlik skryf ek ʼn boek,” loer-sê hy versigtig oor na my kant toe. “Jy sien, Reynold, my familie se storie is ʼn interessante een. Dit is hoekom ek al dié dokumente het. Dis navorsing wat ek nou al van regoor die land bymekaar gemaak het.” Hy het nog redes gehad. Kan hulle net nie onthou nie.
Marcel was anders, merkbaar gespanne.
“Jong Reynold, dis nou ʼn ding dié hoor, my tand is seer. Magtig, ek weet nie meer wat om te doen nie. Eergisteraand vra ek twee kleurlinge of hulle dalk plan het vir my. Man, dit was nie ʼn goeie idee nie, hulle begin toe hier in my mond grawe met ʼn skroewedraaier, maar dié ding was heeltemal te stomp en te dik. Wat kan jy nou maak, hulle is twee en die politiek het mos verander. Ek het maar net vasgebyt en dankie gesê.”
“Eintlik wil ek vra of jy dalk ʼn kleiner skroewedraaiertjie het en my met die tand kan uithelp?”
Dis gevaarlik om rylopers op te tel, jy weet nooit waarin jy jou begewe nie. Ek is nie tandarts nie, ek was wel in ʼn tegniese skool maar of my gevaarlike kennis van houtwerk hier van hulp gaan wees, weet ek nie regtig nie.
Amper angstig vra Marcel of ek verantwoordelik is, “wil net seker maak of ons veilig gaan ry”. Die bakkie skommel en stamp bietjie omdat ek nie veel ag gee aan klein duikies in die pad nie, hy het nie die sagte rit van ʼn duur luukse Duitse motor nie. Dit word van links beantwoord met “oe! Sjoe … Daar’s-hy, ons is nog veilig, moet nie worry nie, ons gaan veilig ry …”
Huh? Ja, en dit was net die begin.
“Ry jy vinnig?” Adrenalien puls deur my are … Is dit ‘n vraag, voorstel of ‘n begeerte!? “Ons KAN as jy wil.” Die glimlag op my gesig verwar Marcel wat lyk of die eindtye aangebreek het.
Ek ry 100km/h.
Dis toe wat ek dit voel. Heel onverwags terwyl ons om die een draai kruie en ek met albei my hande op die stuur en met al my oë op die pad gefokus is. ʼn Ferm greep aan die linker kant van my kop lei die volgende woorde in: “Ek bestraf jou satan, jy en jou demone …”
Soos stadige beeldmateriaal in ʼn aksie film draai die oomblikke in minute om en die held van ons storie beur reikhalsend voort om die chaos te keer, om die wêreld te red en ons spring op in die fliek en skree soos by ʼn sport wedstryd. AAaaaaagghh!
“… Los hom!!! gees van verwerping, LOS HOM!” Dis eintlik ʼn mooi dag, die kosmos langs die pad staan geil en room die begin van die koue seisoen in sagte skakerings van pienk en lig pers.
Teen die tyd is selfs my puisies uitgedryf.
Eindelik kom die slotsin gevolg met die “Amen” punt.
Sieklik skree die rubber oor die teer terwyl die bakkie liggies na links skeef trek oor die pad en in ʼn stofwolk langsaan tot stilstand kom. Die eerste deur om oop te bars is myne gevolg deur ʼn ferm stappie waarna die passasierdeur oop bulder. Ek hoef niks te sê nie, my aksies spel dit onomwonde. Versigtig klim Marcel uit, tassie en al.
Wag ʼn bietjie …
Ja, dit het gebeur, ja daar is baie detail uitgelos – ek wil nie noodwendig alles wat uit my gedryf is sommer vir die wêreld uitblaker nie. Ja, Marcel was DOODernstig. NEE, ek het nie in ʼn groot gejuig gestop en my ryloper net daar langs die pad gelos nie.
Ek was so uit die veld geslaan deur die gebeure dat ek net houtgerus aanhou ry het. Tevrede dat ek van al my sonde vergewe is en van alle demoniese besetting bevry is, sit ʼn minder gespanne Marcel in die linkerkantste truspieëltjie en staar. Ek het intussen vinniger begin ry en pas my beste bestuursvermoë toe dat die spoed nie bespeur word nie. Dit werk! (Ek hoop nie daar is kameras nie…)
Die lighartige luim van dié gedagte moet nie met spot verwar word nie, Marcel is ook nie aan die wêreld onder daardie naam bekend nie, tog is daar ʼn punt aan die storie.
Die fanatiese uitdrukking van dié persoon se geloofsoortuiging het my laat wonder hoe ons soms die wêreld verwar met die dinge wat ons aanvang. Kyk, die hart is opreg, maar die logika ontbreek. Sou jy ooit dié bevlieging ervaar om demone uit die bestuurder van die voertuig waarin jy ook sit, te dryf, maak seker julle staan stil en dat die enjin nie eens luier nie. Nee, skrap daardie idee. Moet nie dit in ʼn voertuig doen nie, want as jy reg bespeur en legio besluit om vir almal in hom ʼn beurt te gee om ʼn bestuursles te kry mag jy dalk net meer avontuur beleef as wat daardie dag kan behartig. Jy mag dalk net ook wil seker maak jou versekering en medies dek sulke tipe aktiwiteite.
Uit geleenthede waar ek al mense onder die invloed van die bose gesien het is dit oor die algemeen goeie praktyk om nie voertuie, plaasimplemente en ander dergelike toerusting in die gebeurtenis in te sleep nie. Ek wil jou nie skrik op die lyf jaag nie, kry maar net eers bietjie ondervinding in die gebied voor jy te veel bewegende dele in die praktyk inbring.
“Are you smoking what you’re selling?” uit ‘Velvet Elvis’ deur Rob Bell
Ongeag die opinie wat jy dalk mag hê van “Marcel” het ek gewonder oor die idees en filosofieë wat mense om my by my “koop”, kan ek met dieselfde ywer my oortuigings in my eie pyp stop en dit rook?
Lekker gelees, sommer ‘n hele paar inskrywings hier gelees en geniet!