Swem Jannie, swem!

Hy het duidelik ‘n “uncapped” verbinding nodig… Of hy dit besef of nie.
‘n Ander tipe konteks: Ek het nie juis ‘n diep sielsverbinding met sport nie. (Eufemismes gee blykbaar diepte of iets aan skryfwerk.)
So van vreemdhede gepraat. Ek het tips nodig dat ek nie in die “pool” verdrink nie. Enige voorstelle vir hoe ek die “SuperBru” swembad kan oorleef sal waardeer word? Persoonlik dink ek daar was iets in die drinkwater gister want ek was duidelik op iets (of onder die invloed van iets – ek drink nie vir mediese redes) toe ek gister ingeskryf het vir diè gala. Ek is bly die pous is naby, ek moet bely: Ek het ingeskryf vir “SuperBru”.
Al die gedoentes bring herinneringe terug in my gewaarwording. Ek onthou ‘n gala waaraan ek op skool moes deelneem. Iemand met insig, of net ‘n duidelike uitsig op my vorige plons ervarings, het my in die kantste baan geplaas. Dit het verseker dat toe my bydrae gelewer moes word dat ek nie sou versuip nie. Ek het ingeduik, geskop en spoeg en arms geswaai vir ‘n vale. Dit was ‘n skouspel om te beleef. Eindelik het ek daar uitgekom.
Halfpad.
Ek het soos ‘n nat hond angstig aan die kant gegryp, asem gehaal, geswem, gegryp, asemgehaal, geswem, ens. Die marteling het gelukkig ‘n einde ook gehad. Ek het geslaag in wat ek wou doen: die ou wat tweede laaste gekom het sou verloor as ek nie deelgeneem het nie. Hy voel beter en ek voel belangrik dat ek op so ‘n jong ouderdom al iemand kon aanhelp in die lewe.
Wel, die koei is deur die kerk. Dis Vrydag. Ek het my groen en goud aan. Daar is een of ander voorspel wat vanaand die begin van die wêreldbeker aankondig. Geniet dit.
Sterkte… ek kan net loop met my twee voete, verder nie veel sport nie… 🙂