die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the category “Gedagtes …”

2010-09-23 ‘n Gedagte Oranje

Die lig is oranje.

Uit van die reaksies wat ek gekry het oor die ongeluk wat ek Maandag 20 September 2010 ervaar het op die hoek van Duncan en Duxbury Weg het ek die volgende te sê:

Weet hoe laat dit gebeur het? 12uur die middag. Maak seker jy het ‘n notaboek naby en terwyl jy uit die motor klim skryf neer wat jy sien: Nommerplate, straatname, kleur van voertuig, “Hello ek is …” “Wat is jou naam? Is jy ok?” Kyk na jou skade, en kyk na hulle skade. Neem foto’s van beide voertuie, al is dit net vir jou facebook profiel. Telefoonnommer? Maak seker jy skryf so gou moontlik jou weergawe van die gebeure neer. Maak ook sommer ‘n nota sou die ander persoon saamstem of nie.

Ek is wel nie ‘n kenner van ongelukke of die gereg nie.

Sy is vreeslik jammer. Het nie my remligte gesien nie. Het gereken ek gaan oor die oranje lig ry, seker eerder “deur die kruising terwyl die lig oranje is”, nietemin het sy toe dienooreenkomstig met haar afleiding nie regtig spoed verminder totdat sy in kontak met my stilstaande voertuig gekom het nie. Met die impak het sy spoed verloor en goeie laerskool wetenskap bewys deur dat my bakkie twee meter of so vooruit gebeur het voor ek toe vir die tweede maal tot stilstand gekom het.

Sy is regtig jammer …

Ek kyk in die spieëltjie, sy bly sit. Ek bly sit. Ek moet seker uitklim. Ek gaan laat wees vir my vergadering. Sy sit nog steeds. Die kruising word ‘n miernes van voertuie wat voortvleg. Ek klim uit. Agter ons sug die gesigte want hulle gaan nou ook laat wees. Sy klim uit, ogies groot: “Ek is jammer”. Haar motor gaan nie dieselfde wees nie. My bakkie se sleephaak het bietjie karakter by … dis al.

‘n Aasvoël het opgedaag in die proses waar ons die skade bewonder. Die verkeerslig het al minstens een siklus rooi-groen-oranje en rooi deurgewerk en ‘n paar verligte motors het by ons verbygeskuur. Eintlik is ons in die pad. Sy bel mense, ek bel mense. Dit lyk soos die gepaste ding om te doen. Ek het wel my notaboek al bekrap en hou die Brooklyn polisiestasie skuins op in Duxbury dop, dit gaan nog ‘n rukkie wees voor ons soontoe kan gaan.

Dié aasvoël is gaaf, help om die Polo uit die pad te kry en ons verskuif die bewondering na die parkeerarea van Hillcrest swembad. Die man daar wou nog vir parkeergeld vra – tog het hy bevind dit is nie ‘n geleë tyd om sulke aansprake te maak nie en dat ons nie juis in ‘n swembui is nie. Sy het wel eers seker gemaak die aasvoël mág haar voertuig wegsleep en hy het haar voertuig verwyder na die versekering die ‘groen lig’ gegee het.

Dis ‘n uur na die ongeluk toe ons by die polisiestasie instap. Daar is reeds ‘n ry. Hier sit ons, en meld ons onbeplande ontmoeting soos die ander mense hier aan. Sonder bohaai vul ons ‘n vormpie in en kry ons ‘n verwysingsnommertjie. Twintig minute later is ons ook statistiek.

Dit was ‘n ongeluk.

Ons is dankbaar dat nie een van ons het seergekry nie. Sy is dankbaar sy het versekering. Ek is dankbaar ek het nie skade nie.

My bakkie se alarm gaan af na my pa my Donderdagoggend roep. Hy wou net die deur toe maak. Toe maak? Iemand het in my bakkie ingebreek. Ek het eers na 12 gisteraand tuis gekom. Ek sien die wit kolletjie waar die verf van die Polo van Maandag nog op die sleepstang sit. Die seil is oop en die skuifruitjie agter die sitplek lyk nie normaal nie – hy moes plek maak vir ‘n arm om die deur oop te maak.

Alles is nog daar.

Ek sukkel om regtig vies te wees. Selfs toe die R10 wat in die asbakkie woon nog daar is kon ek nie lekker verstaan wat dan nou juis die motief was nie.

Ek is dankbaar.

Iewers deur die oggend na ‘n oproep en draai deur die dorp stop ek weer by die huis en alles op die bakkie is weer soos dit moet wees. Geen koste.

My tyd is gesteel en dis seker die meeste van my skade.

Ek is wel herinner aan ‘n openbaring wat al ‘n wyle by my prut. Iets in my wil die reg opneem om daadwerklik en spesifiek die REG te hê om vir iemand te kan bid sou hulle van my steel of my wederregtelik en doelgerig skade veroorsaak. (natuurlik sluit dit nie die jong dametjie van Maandag in nie want dit was ‘n ongeluk) Ek weet nie of dit juis kansel-teologie is nie, ek weet nie eens of daar noodwendig skrif daarvoor is nie. Dit is wel net iets wat binne in my wil opstaan en sê: “Hey, as jy van my kan steelverplig jy my om spesifiek vir jou te bid en gee jy aan my die eksklusiewe voorreg om vir jou redding te vertrou. So! Mag jy die Allerhoogste se liefde ervaar, mag jy Sy seën leer ken en mag jy in Hom vind die effektiewe uitlewing van jou tyd!”

Terwyl ons dan nou besig is om alles en almal uit te sorteer: Sal dit dan ook lekker wees as die mense (ek dink hulle is wit en ek het my redes hoekom ek so dink) wat ons grassnyers ‘n ruk terug geleen het, sonder om te vra – ons het geslaap toe hulle kom kuier het – as hulle dit sal terugbring en sommer die rante ook sny terwyl hulle hier is.

Eintlik is dit ‘n lekker plek dié, en leef boosdoeners oral waar daar mense is. Dus, wanneer daar van jou wederregtelik geleen word kan jy altyd kies of jy jou vrede agterna gaan stuur en of jy jou vrede gaan behou.

Mag jy nie moed verloor nie. Mag jy beleef hoe jou vrede joune bly en hoe selfs in hierdie wêreld jy nie uitgelewer is aan al die elemente daarbuite nie.*

* Mat 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen


Make_An_Honest_Living_$

Loer gerus in op hierdie advertensie.

Advertisements

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_02_pylvak

Ons het vanoggend uit Kuruman vertrek, al vier van ons. Die rugsakke het saam met ‘n nuwe vriendin terug gery en die getroudes het gemaklik gesit. Al het ons ‘n paar gesprekke gehad wat mens kan laat dink dat die wêreld se probleme opgelos is, het die avontuur van terugry nie heeltemal ingeskop nie … dis eintlik ‘n rare ervaring.

Pretoria bly mooi, dit is altyd lekker om die stad uit die verte te benader. Vandag kom ons uit die weste en die geboue lyk indrukwekkend. Dit is Sondag.

Met dié dat die eerste geboue om ons toring en ek moet opkyk, ver na bo, om die blou lig te sien. Omhels sy my. Gaan my oë toe. Ervaar ek weer daardie bekende klem en meteens spoel die afgelope week se gebeure weer deur my wese en onthou ek daardie eerste keer toe ons op ‘n sandbank teruggekyk het en die klowe ons omhels het. Ure vroeër was die vlaktes agter ons en sug die aarde weg om die spilpunt van ‘n silwer lyntjie doer onder …

Die reis het eintlik met daardie eerste SMS begin en nou, nou dat ons hier op die rand van ‘n diep dalkloof met steil wande staan, kan ons nie meer omdraai nie.

Ek en Franszo het ‘n dag voor die ander deurgery – eintlik het ek gedink daar gaan meer mense wees met dié idee, helaas nie en net voor donker die dag voor ons begin stap, het van die eerste medestappers in Ai-Ais begin arriveer. Van ons het darem al soortvan by ‘n vergadering voor die tyd ontmoet en sommige was reeds kennisse, tog het ek seker meer as die helfte van die mense glad nie geken nie.

Ek het soms ‘n uitdaging met die onthou van name. Dié wat my ken kan al die tekens onderskei sou ek daardie oomblik die naam vlugtend in my gedagtes beleef. So, ek maak assosiasies – dit help … soms.

Maki was maklik, dink “Sushi”. Haar vriend se naam is Henk (hulle hou hande vas en maak ogies vir mekaar) beide Maki en Henk het k’s in hulle name (onthou dit!). Maki het ‘n rubber hoender saamgebring, ek en die hoender het nie juis gesels nie maar ek dink sy naam is Hoender (maklik genoeg). Hoender kom saam, soms agter op Maki se sak en soms dra Henk hom. Ek is eintlik nie 100% seker hoekom hy saamgekom het nie, maar Hoender lyk super op foto’s. Henk se duur stapskoene is kort voor die tog gesteel, so hy loop met ‘Converse’ ‘sneakers’. Ek kan dink dat geharde stappers vies sal wees dat Henk so goed gedoen het met wat sommige mense sal bestempel as ‘winkelsentrum pantoffels’. Hy doen animasie en ander media gefokusde werk in die Kaap terwyl Maki kuns veroorsaak en ‘n krale winkel in Pretoria het.

Magdel het ek darem van sien en ander skrams ontmoetinge geken. Ons het ook gemeenskaplike vriende. Sy doseer kuns en veroorsaak skilderye. Ja, ons was nog op pad af die eerste dag van die tog en terwyl ander mense na hulle asem snak (party omdat dit so mooi is en ander omdat hulle bloot net uit asem was) het sy argeloos kwassies, ‘n verfbordjie en houertjie water te voorskyn gebring en ‘n landskap geverf. Niks vreemd daaraan nie. Sy was ook so gaaf om uit rooi en blou velt lap vir ons almal (29 stappers) vissies met geel knoopogies wat met daardie klein kopergeel doekspeldjies kan vassteek, te maak. Ek het nou nog myne.

Voor my het Elaine soms gestap. Sy het ‘n kettie agter aan haar rugsak vasgemaak en twee Smurfs soms saam met haar kamera te voorskyn gebring. Haar vriendin het vroeër die jaar ook dié roete gedoen, ook met twee soortgelyke Smurfs byderhand en strategiese foto’s van dié animasie karaktertjies afgeneem. Otto het ‘n plastiekpyp by hom, dit het my ‘n oomblik geneem maar ek het wel tot insig gekom dat dit niks anders as ‘n visstok daar binne in is nie. Dit is immers die VISrivier!? Hy het sommer by die eerste watergat al ietsie uitgetrek. Daniel, wat ek darem al ‘n paar jaar ken en ons het saam geswot, het ‘n toilet saamgedra. Dink: opvoustoel sonder rugleuning met wit toilet ring en deksel. Jy grawe die tradisionele veldtoiletgat, maar eerder as om jou konsentrasie tussen balans en waarvoor jy die gat gegrawe het te koördineer kan jy dié stoel gedoente bo-oor die gat korrel en rustig op hom sit. ‘n Eenvoudige luuksheid wat die dames terdeë waardeer het.

Soos wat dit maar in die lewe gaan dink ons ander mense is vreemd omdat hulle nie ons eie vreemdheid deel nie. Dit was toe heel normaal vir my om moeite te doen om my selfoon saam te neem. Nie omdat ek gedink het ek kan iemand spesiaal uit die kloof bel nie (geeeeen sein!!!), nee, omdat ek nie juis ‘n digitale kamera het nie en die eenvoud van my selfoon se kamera geniet. Dit is ook oulik dat my selfoon ‘n tweetalige woordeboek op hom het en ‘n GPS. Ek was lanklaas so tevrede met ‘n stukkie tegnologie soos wat ek met my foon is. Vir die rekord en nie omdat ek ‘n sent van hulle gaan kry nie: dis ‘n Nokia E72 wat in sy “offline mode” die volle vyf dae van die tog gehou het en my ‘n dag of wat na die tyd toegelaat het om oproepe te maak – alles sonder om batterye te ruil of weer te laai!

Daar was nie enige gebrek aan uniekheid by die res van die geselskap nie, ek wou maar net ‘n paar van die karakters aan julle voorstel, veral Hoender.

Daar bestaan ‘n stilte wat min mense ken. ‘n Stilte wat in jou wese insyfer, jou kan deurtrek en in sy demper ritme ‘n dans tussen die slag van jou asem en die puls van jou hart laat wieg.

 

2010-08-07 – “Die Tweede Dag”

Ek vind spore van my begeerte

In die sagte kreet van ‘n horison

– ‘n Bakhand hunkering wat pleit

 

in spieëlbeeld met die kroes kinders,

is dit my hart wat angstig vir sielekos vra…

 

2010-08-08 – “Die Eerste Nag”

Ons ekspedisie lei ons af in ‘n kloof

Om ons groei die mure rots

En terwyl ons deur die skerwe van ‘n vóór vergete tyd loop

Breek nuwe betekenisse in ons wonder oop

– Mooi; het nie net een kant nie

En gedra haar glad nié tipies nie …


2010-08-09 – “Die Eerste Oggend Onder”

Dit was koud deur die nag, maar van so aard dat

jy die bewuswording-wakker waardeer het die oomblik

wat jy besef al die sterre is nog daar. Wanneer die

enigste gordyn tussen jou en die hemel twee ooglede is,

en jy weet die klowe oor jou waak. Dan rus jy anders.

Waak jy nie uit vrees nie maar uit die gemoedsrus

van duisend helder ligte – wel nie om jou nie,

maar BO jou.


Na die Nag se windjie

Het die duine van ons vergeet

Spook slegs skimme van spore

By dié wat daar was en dit wee


Met die oggend jonk en vaak

Kry die rimpels hoendervleis

Waar ‘n luggie die water raak

Soos die dag uit die aarde ruis


2010-08-11 – “Voetnota”

Stapstok haak voor ete in klippe vas.

Duct tape korrigeer die skade …

(Dit was eintlik die tweede keer op die tog waar ek en die duct tape slaags raak. Die eerste keer was net voor die eerste skemer toe ons begroet is deur ‘n trop bobbejane wat op die oorkantse oewer amok gemaak het. Elaine se kettie het handig gekom om net-net die grens tussen mens en dier te bevestig. Tog was dit soms nie genoeg nie. Ek het ekstra skoenveters uit my sak gekry, duct tape en “baby wipes”. ‘n Paar toetsmodelle en ‘n stel veters later staan ek toe met Dawid se getroue wapen aan my sy. ‘n Slingervel.

Ek het jarre laas een van dié primitiewe uitvindsels bedryf en is redelik bly ons moes nie reuse of kos jag met die ding nie, hy het wel geen respek gehad vir die afstand na die oorkantste oewer nie en het gemaklik my klippe tussen die bossies doer anderkant laat spat.)

 

2010-08-12

Hoor jy die sterre?

Snaaks hoe die stilte om jou

Die dreuning binne stilmaak …


Dis anders as om stil te word in die stad

Dáár maak die stilte jou alleen.

Hier word jy en die stilte een.


Stilword

Vandag was soms harde pad

Onder ‘n genadelose son

Ek wonder of dit regtig te veel raak?


Saterdag, “Die Sewende Dag” 14 Augustus 2010

Iets in die Natuur voel of dit die

Genadeloos in ons wil toets

Asof die barre aarde my bloed soek

Om die grond weer Rooi te vlek

So soek die genadelose natuur sy

Genadelose kinders in my

Wil sien hoe my lippe bars

Hoe ek dors word …


My oë gaan oop … jakarandas? Beton en teer verneuk my hart en ek sukkel om die stille waters van die kloof te vind.

Die laaste stukkie huis tóé wonder ek of ek dalk nie te min geskryf het nie. Ou bekende strate smeer deur die ruite van die BMW maar my hart dwaal nog iewers anders. Iewers waar ek nie woorde het nie, en dit is genoeg.


125x125_Make_Money_Online_NO_LIST

Loer gerus!

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_01_paaiement

Dis al ná nege in die aand toe Franszo se wiele hier stop, hy kyk vaag rond, dan vir my: “Waar is die waentjie?”

Waentjie?!

Ons is vier mense wat tot in Upington ry. Gerrit en Carné gaan Kalahari toe en ons skuif dan aan Ai-Ais toe. Ons tel hulle so drie uur môreoggend op – die ding is net dat die voertuig se bak al vol is as net ons twee rugsakke daarin gelaai word …

Gerrit en Carné gaan Kalahari toe om foto’s te gaan neem, so 180km noord van Upington by ‘n plekkie met die naam Noenieput. Hulle moet warm goeters vir die nag vat en koel goeters vir die dag. Carné gaan alle toerusting wat sy nodig het moet saamvat …

Die slaap was min, maar dis in. Ons stap op by die trappe na getroudes se woning en word vriendelik begroet met ‘n voorkamertjie vol goeters. Ek weet nie of ons maar deur die slaap was en of ‘n kinderlike geloof ons getakel het nie, maar ons het rustig die voorkamer begin leegdra, wetend dat daar niks plek in die kattebak is nie.

Gelukkig is dit nie soooo ver Upington toe nie en die getroudes is immers een, so met als gelaai en hulle wat soms liefderik styf teen/op mekaar sit, is ons Upington toe. Het ek genoem dat Gerrit ‘n nekstut dra? Dit het wel gehelp toe hy regop moes sit en slaap.

Knus langs mekaar (en hulle bagasie) het hulle die rit Upington toe oorleef.

‘n Voorsmakie van vlaktes lei ons na die grens en deur die hekke spoel ons in ‘n ou bekende Namibië in. Meteens roer beelde weer deur my gedagtes van vorige kere wat ek nag of dag die landskap deur vensters bewonder het en al was daar met tye glas tussen ons kon dit nie die aanraking keer nie, ken my hart nie die verskil in sy verlange nie.

Karasburg in ligblou pienk …

Karasburg het ons hartlik begroet, toe ons met die uur se terugskuif in tydsverskil tussen RSA en NAM nog ‘n SPAR oop kon kry vir die volgende twee dae se proviand. Met dié dat ek en Franszo by die vulstasie uit die wit Duitse motor klim, verwelkom Karasburg se straathoekbeamptes* ons toe in hulle volle glorie. Op ‘n afstand het ek gedink hulle is bietjie vroeg uit om sommer so helder oordag hulle dienste te verkwansel totdat ek met ‘n skok besef dat dié beamptes … nie tannies is nie …

Flitse van Priscilla Queen of the Desert kom saam met die rasperstem-komplimente in my gedagtes op en ons besef die broers het dalk net die verkeerde afleiding gemaak. Sonder om te skroom het ons nie juis ons tyd in die winkeltjie gevat nie en redelik doelgerig ons uit die voete van die “stad en sy geraas” gemaak.

Jy was heel moontlik nog nie in Namibië tot jy nie minstens ‘n honderd kilometer teen 100km/h op een van hulle grondpaaie gery het nie. (Jy sal ook kennelik knik met ‘n skelm glimlaggie wetend dat mens soms sukkel om by 100km/h te hou …) Naas die soutpaaie noord van Swakopmund bly dit een van die belewenisse in NAM wat my elke keer verras – hulle grondpaaie is anders as ons s’n. ‘n Eufemisme om die minste te sê.

Al was dit reeds donker …

Toe ons by Ai-Ais insluip, het die warm gloed van die son se onder die nag verloën met landskappe binne in my gemoed vertoon.

Sulke dae – al is hulle soms in wakker-ure bietjie lank en ver as mens die pad net as ‘n afstand ag – sulke dae roer rykdomme in my hart en waardering vir die eenvoud van elke oomblik in sy pag.

Eintlik gaan hierdie storie oor die Visrivier … Die doel van die paaiemente is nie om jou te verwar nie, maar bloot om stukkies in te skadu voor die kleur by kom of om die raam van die legkaart te bou voor die prentjie blom.

… word vervolg …

*Straathoekbeampte: Ek is redelik onder die indruk dat dié woord my eie letters is. Dit is ‘n eufemisme vir mense wat nie letterlik op straat werk nie, maar wel van die toeganklikheid van strate gebruik om hulle kliënte te ontmoet. Hierdie konsulterende amptenare is deel van een van die oudste bedrywe in die geskiedenis van die mens. Die rede hoekom ek soms verkies om my eie woord te gebruik is omdat kinders in die gesprek nie noodwendig gaan weet waarvan ek praat nie, maar ook omdat ek geen bewyse het van die werk wat dié mense doen nie. Jy kan ook nie net links en regs mense van ‘n sekere misbedryf beskuldig nie, so dan voel dit of ek hulle darem die voordeel in die twyfel gee deurdat mense soms twyfel oor wat ek dan nou regtig bedoel met dié woord straathoekbeampte.

NS: Jy het opgelet dat ek niks van seks in die bg. beskrywing genoem het nie. Jy het eintlik jou eie afleiding gemaak oor wat ek met die woord bedoel.

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_00_in_lyding

“… daar is 4 gaatjies oop op die Visrivier stap, 7-14 Augustus …”

– SMS uittreksel

Ek is in Durban, het pas teruggekom van die Kaap af en gaan binne ‘n paar dae terugry Pretoria toe. Dié uitstappie het nogal onverwags gebeur; ek en my broer het mekaar op Kaapstad Internasionaal ontmoet en na ‘n bietjie rits en kuier, saam teruggery Durban toe. (Dit is die verkorte weergawe van die kort weergawe …)

Dis 08:54 ‘n maand voor die tog deur die kloof daar in Namibië toe ek die SMS kry en eintlik wou ek net Franszo (vriend soos ‘n broer) se reaksie toets, so toe stuur ek bogenoemde SMS aan … Toe hy gretig instem, het ek gewonder of hy net my reaksie toets …

Daar is vissies in die water …”

My pa het my op my eerste staptog saamgevat. Ek was klein. My “rugsak” was eintlik ‘n gedoente waarmee jy ‘n kind kan abba, die tipe waar sy bene deur twee gate onderin uitgesteek het en as jy ‘n prettige hoed op sy kop sit behoort hy nogal houtgerus die wêreld kan bekyk. Hy het van ‘n “buiteraam” gebruik gemaak om die sak in plek te hou sodat die kind netjies op jou rug kan pas. Ek het onlangs een Saterdagoggend heel toevallig ‘n soortgelyke een by die Boeremark gesien.

n Aanpassing of twee later het ek my eerste eie rugsak gehad en al het net my kussing en slaapsakkie daarin gepas het hy volgens my net soos my pa se rugsak gelyk. Ook blou met ‘n buiteraam en al.

“… kyk hoe swem hul rond…”

My pa sê dat “as jy die Vis stap, dan gaan jy terug in tyd” en vir iemand wat van klippe verstaan soos sommige tannies van hoede en winkelsentrums verstaan, het ek nogal gehoop dat hy sou kon saamgaan. Dit was dalk gepas dat ek toe met ‘n buiteraam rugsak gestap het, gelukkig twee generasies later van die eerste een wat ek besit het, tog ‘n goeie aanduiding dat die modes in stapkultuur redelik verander het van my vorige ervaring met dié betrokke sak.

Nietemin is ek en Franszo nie sommer bang nie en het ons alles in ons sakke gekry wat nodig sou wees vir die ondervinding.

Jag

Van al die basiese elemente van oorlewing moet mens nie kos agterweë laat nie. Ek was al ‘n paar keer met werksopnames in die knyp in dié area en aangesien daar nie plek is vir ‘n yskasjag* nie moet mens maar van ander tegnologie gebruikmaak. Ek wonder nogal wat ons voorouers sou sê van vriesgedroogde etes? Ek sou nou nie die res van my bestaan op dié goeters alleen wou vertrou nie, maar het kans gesien om die gemak daarvan vir vyf nagte te geniet.

1. Sny sak bo oop met Leatherman. (As jy wil skeur doen dit versigtig, anders spat alles die hele wêreld vol en moet jy ‘n uitkenningsparade doen om agter te kom watter van die goeters op die grond is vriesgedroog en watter is net dooie insekte of takkies …)

2. Gooi kookwater in en herverseel.

3. Wag 10 minute.

4. Eet bobotie.

 

Kuite

Uit die aard van die kommunikasie en die feit dat net ‘n uitgesoekte minderheid bevoorreg was om die volle visuele impak in lewende lywe kon beleef, voel ek nou in my beskeidenheid genoop om wel iets van my fisieke samestelling te sê. Om nou nie té breedvoerig te wees nie, gaan ek my beperk tot net die nodigste van feite.

In voorbereiding vir ‘n tog deur die onherbergsaamheid van een van Suidelike Afrika se natuurwonders en met die beskikbare tyd in ag geneem het ek my sukses eerder berus op genetiese erfenis as op oefenprogramme. Dis waar ek waarlik dankbaar is vir al die (kinder) jare wat ek met net my fiets moes kom waar ek wou wees. (Moet nou nie simpel wees nie, ek kon darem in die motor saamry as my ouers met vakansie gegaan het.)

Van die bobene gaan ek min sê omdat ek juis hulle met ‘n kniebroek bedek het, my knieë het onderskeidelik een blou en een wit bedekking gehad vermom as ondersteuningsbande en my enkels (in sekere kulture ‘n sensuele liggaamsdeel) was genoegsaam met kouse en weermagstewels bedek. Maar my kuite. Dié was oop vir die wêreld om te sien.

Dit het wel ‘n paar dae geneem voor die glorie van my genetiese erfenis aandag sou trek.

Eintlik was ek verlig dat mense nie te veel klem daarop gelê het nie in vrees dat medestappers selfs dalk nuwe inhibisies sou ontdek. Tog het die manier waarop van die susters na ‘n paar dae “kyk sy kuite!” uitgeroep het, my bietjie laat onrustig voel oor die manier wat hulle** ontbloot was. Dit het my egter diep begin kwel toe van die broers begin aanmerkings maak…

Kreef

Kreef wat gaar is, is nie net rooi nie, dit wil soms voorkom of daardie rooi glinster. So, na ‘n paar dae in die kloof het ek gesorg vir die Kreef in die Visrivier. Die vorige keer toe my kuite gekreef het was dit in bloedige Januarie op ‘n treinspoor net buite Ceres. Wat hierdie geval anders gemaak het was die Wit voete en Wit knieë en Wit bobene wat die hele gedoente beklemtoon het. Genadiglik is daar nie permanente skade nie en met die gulhartige hulp van twee fisioterapeute wat allerlei salfies gesmeer het, het ek nou twee koffiekuite wat bietjie skilfer …

 

word vervolg …

 

 

* Yskasjag: Mans is redelik goed in die area. Jy maak die deur oop en met die geduld van ‘n gesoute jagter staar jy in die vêrte tot jy die ritsel van prooi gewaar. Dit help soms om ‘n kinderlike geloof te hê dat daar meer in is as wat jy daarin gesit het en om dan dieselfde area gereeld fyn te kam, juis om seker maak niks ontbreek jou waak nie.

**Die kuite natuurlik!

 

2010-07-09 ‘n Gedagte … Sokker en lukraak met Elias

Jy ken vir ‘Elias’, jy het hom seker al ontmoet en diep gesels sommer so uit die bloute. Ek het vanoggend weer vir Elias raak geloop. Vandag was hy ’n petroljoggie.

“Yebo Baba! Unjani? Ai Ngikhona! Fill it up!” (Bafana en Mexico het Vrydag die baljolyt afgeskop…)

Ek hou van Sondae, alles is anders, in sommige plekke rus selfs die strate, voel jy hoe die stilte sug en jou wese ook asem uitblaas.

“Heita! Did you see the game? 1-1 Eisshh!”

Elias gloei sommer toe ek dit sê, en terwyl hy die 95 by my motorfiets se tenk ingooi kyk hy my in die oë, korrel weer en begin hy heel passievol praat: “You know, this thing unites us all, white-black, everybody, we can stand together”. Hy vat aan sy eie swart vel toe hy ‘white’ sê en wys na my toe hy ‘black’ sê. Elias is kleurblind.

Ek is nie juis sportbesorg nie, tog was ek die afgelope tyd betrokke met werk by die balgedoente tot so ’n mate dat iets begin afvryf. Ek het oorweeg om selfs ‘n hemp te koop, tog het daardie oorweging nie lank gehou nie. (Ek lyk glad nie goed in soveel geel nie!)

Elias gesels nog, iewers het hy oor Nkulunkulu (God) begin praat, dat ons vir die land moet bid, dat hy elke dag met God gesels

Eintlik is die tenk lankal vol, maar ons gesels nou lekker. (Nee, dit loop nie al uit oor die kante van die tenk nie. Elias is nie dom nie – hy weet hoe om brandstof in te gooi.) Hy vertel hoe ’n vrou se geliefde haar gelos het, sy kom petrol ingooi het en hom vertel het wat aangaan. “My friend, to drive around like that is not good, her mind is all around thinking what to do now and in her heart she was not well, but you see, she should pray. And I told her, ‘You know, God will give you someone who will love you, just pray’, I was afraid she would make an accident driving like that …”

Elias is dalk kleurblind, maar nie onoplettend nie.

Hy maan haar toe om huis toe te gaan en te gaan bid, val homself in die rede en sê sy moet eintlik net daar en dan begin om te bid. Sy het toe glo haar motor so skuins uit die pad getrek, ’n rukkie daar in die parkeerarea van die vulstasie gesit, gebid, en toe gery.

Onthou, Elias gooi dalk brandstof in maar jy moet hom nie vlak skep nie.

“We need to pray for this country, I don’t want all this fighting. See now with this game we don’t fight – it unites us and maybe we can live together … I like that …”

Eintlik het ek nie nodig gehad om brandstof in te gooi nie. Ek was eintlik ‘veronderstel’ om by die kerk te wees, ek het uitgeloop. Op my fiets geklim, gery. Dit was ’n lang week, ek sal seker vanaand weer ’n draai gaan maak.

Ek het nog nooit beplan om ‘Elias’ ‘raak te loop’ nie. Gewoonlik is hy/sy nie iemand wat ek verwag nie. Tot ek halfpad deur die gesprek met ‘n ryloper/kelner/iemand wat sommer net daar staan of ‘n toevallige ontmoeting (wat sal die persoonsnaam vir so ‘n iemand wees?) besef dat hulle nie ‘uit hulself’ praat nie. Dié besef is belangrik, meeste mense weet nie altyd wat die konteks is waarin hulle met jou praat nie, nog minder iemand wat jy pas ontmoet. Ongeïnhibeerd sê hulle wat hulle beleef, en as dit ‘Elias’ is, is dit goeters wat jy móét hoor.

Elias het my bedien. Ek kon sien hoe die wonder in my verwonderd na Hom kyk en luister. Hoor hoe dat Hy omgee, wil hê dat ek teen die stand van sake kan vertrou dat Hy gaan deurbreek.

Mense sê dis sommer toevallig. Goed, ek stem saam. Dit was donker … toe-val-Lig. Daar is net Een wat die begeertes van my hart kan bepaal, wat die som van my gedagtes ken en Wie genoeg omgee om selfs ’n lukraak gesprek vir Sy wil te gebruik.

Nee, ek dink nie elke riet in die wind is ’n bode van die hoogste gesag nie, of selfs dat van dié neonwagte wat die bloutrein ry almal eerste klas is nie. Ek het al van vreemde gesigte gehoor wat in die skadu’s reik en van fortuine bo menigte verwagting. Tog, vind ek oomblikke waar iemand uit ’n groter Hart praat en mis ek dit vir niks in hierdie wêreld nie.

Dalk was dit toevallig dat die naamplaatjie van dié vriendelike broer “Elias” heet. Ek weet dit was nogal interessant toe ek twee dae later met ’n ene ‘Theo’ praat. Hy het sommer op my afgeloop en die gesprek begin. Theo swot regte en dis al. Geen noemenswaardige openbaringe nie, hy het selfs geweet dat sy naam Grieks is en dat sy ouers hom só gedoop het met ‘n Tswana van en al.

n Geleentheid kan ook beskryf word as ’n gunstige toestand om iets te doen. Daar is ’n gesegde wat lees dat die “geleentheid maak die dief”. Ek stem nie saam daarmee nie. Almal kry geleenthede, nie almal gebruik dit nie (hetsy dit is om suksesvol te wees of te steel…). Elias stel vir my geleenthede voor waar Iemand vir jou iets kan sê en die aard van die gesprek jou dadelik sal laat wonder of hierdie persoon nie dalk Hulp gehad het nie. Ons het sulke mooi geveinsde boksies waaruit wysheid mag kom, tog het die maats die tweede ‘Elias’ gemis wat die tweede Adam aangekondig het…

Mag jy die riete van die trompette kan onderskei en die bode van elke ander hier-jy. Mag jy elke geleentheid wat Hy in jou lewe het onvermydelik raak leef.


Elias – In sommige vertalings gaan jy nie van Elia lees nie maar van Elias …

Neonwagte – ‘n Eufemisme vir boemelaars

Theo – Grieks vir ‘God’

In sekere opsigte was Johannes die doper die ‘Elias’ wat moes kom om die Messias aan te kondig. (Mat.17:10-12)

2007-06-25 ‘n Gedagte Matrix (nr drie van drie)

Dit was nou nogal stil vir ʼn wyle. Twee redes: die een is dat die skaal nog sif, die ander is dat ek in die proses tot ʼn beter insig gekom het oor die opinie van God … of te wel, die gebrek daaraan …

Ek wil net in dié stadium my dank aan Jaco betuig vir die insigte omtrent Opinicus. Dan wil ek ook dankie sê vir al die terugvoer wat ek op my gedagtes kry, ek verwelkom hulle enige tyd.

Ek het in my vorige gedagte die stelling gemaak dat God ʼn opinie het.

Ek dink ek was verkeerd.

Die afgelope tyd het ek ʼn nuwe vlam van belangstelling beleef met die fliek “The Matrix”. Net die eerste een op die oomblik.

As ek die skrywe wil kort hou gaan ek ongelukkig BAIE van die haaslopies omtrent The Matrix moet uitlaat. Maar glo my, enige selfstudie wat jy gaan beywer sal nie ʼn mors van tyd wees nie …

ʼn Laaste woord voor ek begin: Dit is nogal noodsaaklik dat jy ʼn goeie idee het wat in die fliek gebeur het en jy moes die laaste twee Gedagtes (2007-05-05 en veral 2007-05-18) gelees het.

“What is the Matrix? … It is the world that has been pulled over your eyes to blind you from the truth …”
“You are a slave born into bondage … a prison for your mind …”
-Morpheus

Morpheus: The Roman god of sleep and dreams …
Thomas A. Anderson / Neo: The word ‘Neo’ is an anagram of the word ‘One.’ Neo is also Greek for ‘new’, suggesting messianic overtones for his mission in the Matrix. There is also a reference to humanity with “Anderson”.
Trinity: The character’s name is derived from the name given to the triune Godhead in Christianity.
Nebuchadnezzar: The inscription on its core reads “Mark III No. 11 made in the USA year 2069.” Mark 3:11 reads “And whenever those possessed by evil spirits caught sight of him, they would fall down in front of him shrieking: ‘You are the Son of God!'”

ʼn God wat ʼn opinie het, is soos Neo voor sy dood. Sy gawes beïndruk mense en – soos met Jesus – wou hulle sien wat hy nog kan doen. Jesus het ook eers die wêreld verander met Sy dood want toé eers het die Nuwe Testament vir almal in werking getree.

Wat hét die wêreld verander? ʼn Mandaat om die bose te oorwin? Liefde vir die wêreld! Nie ʼn skermutseling tussen God en ʼn gevalle engel nie! Ek dink nie die Here soek troepe om Hom te help veg teen ʼn gevalle engel nie – Hy probeer nie maatjies aan Sy kant kry sodat Hy die boelie na skool in die parkie kan takel nie!

Morpheus: “I’m sorry, usually we don’t free a mind this LATE …”
Die geveg is nie teen die masjiene nie, maar teen die persepsie van realiteit in mense se koppe. Ons het nie Christene wat “verlang” na die “wêreld” nie, ons het mense wat fiksie en realiteit verwar …!

So, hoe kan ek The Matrix vat en waarheid daaruit probeer verduidelik? Suggereer ek dat die twee broers wat die konsep in die lewe geroep het gelowig is? Die naam van die fliek stel dat dié nie ʼn eendimensionele idee is nie maar ʼn matrix is [“A rectangular array of elements (or entries) set out by rows and columns; an enclosure within which something originates or develops (from the Latin for womb)”].

Dit daag jou oorsprong en die setel van wat jy glo en hoekom.

Hoe het twee potensiële heidene so ʼn raak-waarheid verbeeld? Ek dink deur bloot die leemte wat elke mens in hom het effektief te beskryf … ons verdowingsmiddels kan die wêreld stilmaak totdat waarheid deur dit iets in ons laat resoneer. Ons soek liefde wat die waarheid in ons kan red en in oorvloed laat leef buite die leuen waarin ons gebore is.

Anders gestel: As jy onthou het die god van verdowing/slaap die EEN daaruit laat opstaan en vir hom die waarheid gewys. Toe die Smith vir Morpheus ondervra was dit vrugteloos, totdat hy hom met waarheid konfronteer en Morpheus nie sy verdowing kon toepas op dit wat toe in hom resoneer nie …

Neo sterf … Trinity maak hom wakker met liefde … en meteens word een van die eerste stellings reg aan die begin van die fliek waar (natuurlik net binne die konteks van die fliek). Net voor hy die wit hasie op die meisie se skouer sien sê die man vir hom: “You are my own personal Jesus Christ …”
Maar toe was hy nog die ongelowige Thomas … met sy dood en herlewing besef hy, hy is die EEN en sy laaste woorde in die fliek?

“I’m going to show these people what you don’t want them to see, I’m going to show them a world without you, a world without rules and controls, without borders or boundaries … a world where anything is possible …” *

Goed, wat dan van God se opinie wat nie meer bestaan nie? Maklik. Totdat Neo gesterf het was hy ongelowige Thomas en was dit net Morpheus se opinie dat hy die “EEN” is. Dit was net ʼn opinie op die rak van menings. Ons werk ook so, gaan na twee of drie dokters toe vir OPINIES oor wat makeer en dan meteens word die opinie waarheid. Toe TRINITY die opinie met liefde bevestig verander die opinie na waarheid …

Een vraag: wat was die waarheid voor die bevestiging? Was dit nie toe alreeds die waarheid nie? Is God eers GOD as ons in Hom glo?

God is nie ʼn medium wat ek raadpleeg vir ʼn ekstra opinie nie! God WEET! Hy is dan die ONTWERPER. Die AL. Die ewige “IS”. Die ‘van alle tye tot alle tye’. Die Oneindige. Maar ook die EEN sonder ʼn begin! Want sou Hy God wees as daar iewers in die annale die inskrywing kon staan “… en toe was daar god …”

Hoe kan die AL nét ʼn opinie hê??? Hy kan onmoontlik nie gereduseer word tot net nog ʼn opinie in die skare van menings daar buite nie!

Dis vreemd om weer die yskas te hoor. Jy weet mos hoe dit klink?! Dalk is dit net ek. Daar kom soms tye wat jy weet hoe goeters moet wees. Byvoorbeeld weet jy hoe elke kamer in jou huis sy eie klank het. Tog voel dit soms alles nes lêers wat opgeroep word in teenstelling met ware belewenis. So nou stap jy in die kombuis in. Die volgende word opgeroep: ketel klink so, yskas klink so, vloer voel so, blaaie voel so, lig lyk so …

Jy kon net sowel in ʼn fiktiewe kombuis ingeloop het en elektroniese pulse ervaar het wat vir jou die fop-belewenis van die kombuis gee. Ek weet ek het verby myself geleef as ek stil raak en meteens weer die stilte hoor. “Real-time”.

Is dit dalk ook waaroor The Matrix gaan? Dat ons ʼn fop-realiteit leef gebaseer op kunsmatige stimulasie, valse belewenis, maar omdat die masjiene ons die data konsekwent invoer voel ons dat ons lééf …

Is dit eers as ons die plastiek begin proe en daarvan naar word dat ons eers bereid raak om die waarheid in die gesig te staar. Dis die verskil tussen Neo en die Judas figuur in The Matrix. Judas het beide die fiksie en die waarheid beleef, die fiksie het aanlokliker gelyk en geproe … hy kon net nie die waarde van die waarheid sien nie.

Toe, om die fiksie terug te kry, was hy bereid om die waarheid te verloën. Die fiksie het hom eintlik gefop. Plastiek. Hoe kan God dan net ʼn opinie lewer oor die wanrealiteit waarin ons leef? Kan God dus ʼn meningsverskil met Sy eie skepping hê?

Die enigste wese wat dit nog kon regkry om ʼn “meningsverskil” met die God van alle tye te hê, was die duiwel en die oomblik toe dit gebeur het hy soos ʼn bliksem uit die hemel geval.

Opinie vs. WEET … “no contest”

Dis op pad Damaskus toe wat ons besef Hy is God sonder ʼn opinie, maar eerder die enigste EEN wat WEET …

.

Def Opinicus: An imaginary creature resembling a griffin, having a lion’s body and legs, an eagle’s head, and wings and a short tail.

*Mar 10:27 Jesus looked at them and said, “With men it is impossible, but not with God; for all things are possible with God.”

Vir die van julle wat weet van die gesprek tussen God en Abraham in Gen.18:20-33: ek sou dit nie as ’n meningsverskil beskryf nie.

2007-05-18 ‘n Gedagte Mené, mené, tekél, perés (nr twee van drie)

Mené, mené, tekél, perés …?
Daniel 5

Skaal.

Die laaste blare het begin val en soos ʼn ruspe het die koue aan my klere begin knaag en ek voel hoe my lyf van ʼn kant af weerloos raak. Maar dis net die begin.

Die skaal is soos die meeste ystergoeters onpersoonlik-koud tot op die punt waar dit amper brand. Waar dit ʼn week terug nog net ʼn glim op die horison was, is die toets hier. Die warm bed van my verlange krul temerig op as ek haar lakens verlaat en my tot die realiteit wend. Net soos die weduwee se kruik daardie laaste druppel uitbid, hunker ek vir nog net 5 minute maar weet ek dis nou eintlik klaar. Op. Niks meer oor nie …

Het ek maar net nog potte by die bure geleen … was daar dalk nog ʼn bietjie ekstra sand vir hierdie uurglas. Maar helaas is dit nie so nie.

Opstaan.

Ek trek die dag se opinies aan na aanleiding van die weerverslag en soek nog ʼn mus wat darem by die skema pas. Hopelik sal die ruspes nie deur dié een vreet nie …

Jy weet, soms dra die opinie my en soms dra ek die opinie.
Vandag was opsie twee.

Dis snaaks – of eintlik nie snaaks nie – maar dat daar op een dag hierdie puisie van ʼn knoppie groei wat jy van oral af kan voel en wat almal net wil druk. As jy weer sien is jy kinderlik nukkerig of net bloot onbetaamlik suur.

Toets.

Daar was regtig netnou nog vrugte in hierdie mandjie, nou is net die groente oor. Met ʼn terugkyk in volkleur, 20-20, is die oplossings ooglopend, eenvoudig, beskikbaar.

Veilig en filosofies hou ons goeters op ʼn afstand, daar anderkant is hulle, nie hier by my nie. Nee, hier spook die rou verlate vrede van vergetelheid.
Maar ook net vir so lank.

Sien, dis die verskil tussen om die opinie te dra en om deur die opinie gedra te word. Dra jy hom, word hy swaar, ongeag hoe vleiend. Dra hy jou, is dit tien teen een waar. Gewoonlik is mense wat niks weet nie verantwoordelik vir die een.

Dis dan ook die doel van die toets, die weegbrug van die tyd kyk of jy dra of gedra word.

Dis nou onvermydelik. Ek kan nie verder gaan sonder om iets te sê oor die Een wat Alles gemaak het nie. Wie beter as die Een wat my gemaak het om ʼn Opinie te lewer wat my deur die lewe kan dra? Dis hoeka net Sy opinie wat kan dra, Sy mening wat in my raaksien wat net Hy van weet en net ek kan uitleef! Nie iets sommer uit die lug uit met ʼn rakleeftyd nie. Nie iets wat hoop om raak te beskryf nie.

Maar ʼn inspuiting, iets wat kapillêr my wese van alkante af infiltreer om sodoende die integrale samestelling van my te smee om meer soos die weerkaatsing in Sy Woord te lyk. Daardie verandering wat net Hy teweeg kan bring. Flip, hoe kan ek dit anders stel dat dit wat Hy verander deur Sy opinie van my, nie een of ander winkelpop brigade is nie maar die diepste spilpunt van my belewenis omdraai.

Sy opinie is soos Sy wil vir my lewe: naarstigtelik op soek na my. Net om enige onduidelikheid uit die weg te ruim, dis soos om wegkruipertjie te speel maar met een aanpassing aan die reëls: Sodra jy klaar tot 10 getel het, spring almal uit hulle wegkruipplekkies uit en kyk wie jou eerste kan vang.

Wat gaan gebeur as jy dan deur die huis loop en skree “Waar is Jy …”; “Ek soek na Jou …”

Mat 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

“Toets-toets; een-twee; toets … Kan Iemand my hoor?”

.

Dan 5:26-28 Dit is die uitleg van die woord: Mené—God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak; tekél—u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.

2007-05-05 ‘n Gedagte (nr een van drie)

Dis alwéér winter. Behalwe vir die blare-ding wat verby is en die onwilligheid om op te staan is winter soms vir my ‘n groter aanduiding dat seisoene verander en nog ‘n jaar verby is. In die helderheid van die lente en die somer draai die aarde nie vir my in tyd wat verloop nie. Selfs die herfs is soms net ‘n romantiese gedagte in skakerings van bruin, geel en helder oranje.

Ek dink ek het dié jaar se herfs gemis. Soos iemand wat jy in ‘n oorwink sien verskyn en verdwyn was dié herfs ‘n geliefde met wie ek nog wou praat maar in die losgemaal net ‘n ‘hello’-kyk van kon kry. Die “aand” is verby en al wat oorbly is blare wat soos rommel na ‘n partytjie rondlê. Die wêreld word ‘n leë dansbaan waar die blink konfetti van die vorige seisoen sy glans verloor het en nou vuil op die vloer lê.

Die vorige seisoene se lewe raak skugter en skuil in die herberg van kaal bome en in die beton-oerwoud skarrel elkeen na sy poshokkie toe waar ‘n bietjie warm-en-knus hom kan beskerm van die koue, … en die leed?

Sien, die herfs is amper soos ‘n voorbehoedmiddel wat keer dat die winter ‘n verrassing is – al kom die winter nogsteeds, anders as met voorbehoedmiddels …

Dan is die herfs seker eerder soos ‘n swangerskap. ‘n Tyd waar dinge stadig verander, waar verwagting letterlik daagliks groei en die ongemak wat jy beleef ‘n inleiding raak vir die opoffering wat jy nog gaan maak. Dan baar die nuwe seisoen sy volle implikasie en meteens stort jou vooropgestelde wêreld in duie as realiteit sy pond vleis kom haal.

Nou, voor die slapelose nagte en die donker-wakker-ure ‘n tronk word waar die tyd van jou vergeet en die dag-en-nag-en-vroeë-môre jou laat sidder en beef. Weet dit. Die winter is ook net ‘n seisoen. Die pokkel word ‘n peuter en ‘n kleuter en ‘n kind en die eindelose nagte begin weer die toe-oë van jou siklus vind.

Die winter baar soms kinders wat na jare eers die wêreld in sy volheid wandel. Die ongemak en onrus wat onvermydelik jou kom ‘hael’, is ook net ‘n seisoen. ‘n Seisoen wat noodgedwonge kom, en weer gaan.

Dit is hoekom die herfs vir my belangrik is. In haar romantiek kom fluister sy saggies die waarheid in my oor, maar ook die hoop. Dans sy ‘n laaste skoffel saam met my voor haar lyf my teen die einde van die aand koud laat. Sy word die liefde waarna ek verlang.

Maar die herfs is meer as net die voorloper van ‘n koue leë tyd. Meer as net ‘n verlore liefde en meer as die rooi sinjaal wat verandering aankondig. Herfs is die sterfkreet van verganklikheid, die laaste uitroep van dit wat net ‘n seisoen lank hou. Dít is dan ook die verskil tussen ons en seisoene.

Ons hou langer.

Herfs raak die oproep na die skaal – winter – wat kom weeg of dit wat ons geleef het ook langer as die seisoen gaan hou …

Herfs is ‘n vriendin wat ek altyd wil ken, die vrou met wie ek my lewe wil deel, die aanslag waarmee ek wil leef en die ywer waarin ek die wêreld wil bewandel. Herfs is die waarheid van dit wat oorbly, en die uitdaging vol in my gesig. Herfs is die kind wat ek wil hê maar ook die ouer.

Nader as ‘n soen wil ek haar ken, maar beter as my gisters haar onthou, want herfs is ook net ‘n seisoen wat kom in die rooidag en verdamp saam met die dou.

Voor dié winter my kom weeg en die koue my totaal uitklee, gaan ek eers ‘n bietjie herfs hou. ‘n Oomblik neem om die dou te waardeer voor die ryp kom versteen.

Herfs, soos die nag in die tuin. (Getsémané)

Ontroerd, maar verwagtend.


428x60_No_List_No_Problem_See_Results_From_Day_One

Het jy al daaraan gedink om aanlyn te werk?

2007-11-12 ‘n Gedagte Pantoffels

Dis weer troukoors in die kontrei en behalwe vir die gewone gang van seremonies wat ek vir ʼn ekstra inkomste bywoon, begin ek al meer van die knoophakers ken.

Natuurlik kyk ek al lankal self ʼn bietjie rond, maar in my roer kom geen gedaante op nie. Behalwe vir die ritsel in die gras en oomblik op die horison het die jagtog nog geen sukses getoon nie. Persoonlik is ek ook nie ʼn bakkie-jagter nie, nee, van loop en bekruip is ek gemaak, so die gebruik om Vrydagaande met die skietlampe en koelbokse te gaan trofees jag is nie juis deel van my ideale ekspedisie nie. Vir die rekord en uit die ondervinding wat ek het, is troues as sulks glad nie die tipe opskop waar jy met jou roer opdaag nie, dis soos om by ʼn spitbraai op te daag met ʼn tollie aan die leiband …
(verskoon tog die vergelyking –ed)
(ʼn Nota vir die stadsjapies: tollie =s. Jong ossie)

Wat dan gemaak as die ruggie in die nagte koud bly? As daar net een stel slippers langs die bed staan?

Ons het altyd van ‘sweeties’ gepraat en eintlik is dit ‘lekkers’, ek het toe vir amper dieselfde rede gaan kyk of ‘slippers’ net dalk nie ook ʼn Afrikaanse woord is nie, stellig nie, dit heet pantoffels. Gewapen met die regte taal was ek gereed om soos die Mite Polisie uit te vind wat dan nou in dié Pantoffels steek.

Soos meeste goeters uit die volksmond is daar seker ʼn storie agter elke rympie. Ek het al agtergekom dat goeters wat rym mense laat dink dis waar of selfs wet, een ‘sêding’ wat ek aan die kaak wil stel is “sy kan maar haar pantoffels onder my bed kom in skop …” (daar is variasies op die tema).

Daar mag dalk by sekere mense die verkeerde indruk opkom. Dit is byvoorbeeld nie vir my dieselfde as die klassieke fliek-dubbel-betekenis wat die uitnodiging om “gou in te kom om koffie te drink”, het nie. (Dis veral verwarrend as hulle vroeër die aand juis in ʼn koffiewinkel ontmoet het … –ed) Ek het ʼn langer termyn van verbintenis gekoppel aan die hele pantoffel-ding. Tog dink ek dat ek dieselfde uitdaging beleef as sekere kulture toe die Westerse samelewing gekom het met hulle reghoekige beddens, vierkantige kaste en stowe. Hoe gemaak as jy jou bed teen die muur wil vas stoot, as die muur rond is … halfpad deur die nag het die kussing in daardie halfmaangaatjie ingeval, dêmmit.

Wat gemaak as my bed se basiseenheid amper aan die grond raak, dus is daar nie plek onder my bed nie!? Dadelik dink ek aan my ouers se bed en waaragtig staan hy op pote en is daar plek vir pantoffels en ʼn trompet. Ek sal iets moet doen as ek wil plek maak vir daardie pantoffels.

Voor ek verder gaan sal ek net graag ʼn oomblik wil neem om aan te kondig dat die Gedagtes nou al vir ʼn jaar aan die gang is. Vir die wat al vergeet het en die wat nie weet nie: “ ʼn Gedagte” is die venster wat ek oopgemaak het aan die einde van verlede jaar na die letterpret wat ek soms beleef. Dis iets wat teen daardie tyd al vir lank stem gesoek het, tot een aand in die geselskap van vriende met ʼn lekker Jazz orkes in die agtergrond ʼn uitlating gemaak is en iemand gevra het dat ek dit vir hulle aanstuur met ʼn epos.

“Dit is tyd dat ons onmisbare oomblikke, onvermydelik, ráák moet leef …”

Raakgeleef.

In die begin het ek ingeloer by Skype gesprekke en geselsies om tafeltjies Jazz, groot kuiers op soek na die antwoorde van die heelal en selfs net die eenvoud van ʼn glasie tonic (dis nou die “T” sonder die “G” …).

Terug by die pantoffels onthou ek hoe as jong seuntjie ek een vakansie ʼn tand getrek het. ʼn Ander legende van die pantoffels het sy kop hier uitgesteek, dié van die tandemuis. Mens moet dié legendes nie sommer ligtelik benader nie, ek het ook nie, die tandjie is mooi geborsel en in die pantoffel gesit.

Alles was reg en in hul plek toe ek gaan slaap daardie aand, die muisie moet tog net die rotgif op die plafon misloop …

My oë was skaars oop toe ek die munt sien blink in die haak van die pantoffel. “YESss! “

Ek kan seker nie namens my voorgeslagte praat nie maar iewers was daar seker ʼn Jood gewees … minute later is dit ek, my pantoffel, die logika van ʼn laaitie en ʼn 5c muntstuk, paraat.

Muise (Mus musculus) is sekerlik gebiedsgebonde of so iets (ek dink ek het dit op TV gesien of by iemand gehoor wat dit in die Huisgenoot gelees het), so as ek my pantoffel in ʼn ander deel van die huis gaan sit en die 5c sit waar die tand was …

ʼn Verskeidenheid van faktore maak dat ek nie die volle detail kan onthou nie, die punt is dít: dat deur watter meganisme dit ook al gebeur het, het ek daardie dag geld geruik en die arme muis twee of drie keer kon oes voor die fontein in my pantoffel opgedroog het. Ek was ligtelik ingenome met die ‘feit’ dat ek kan GELD MAAK UIT MUISE! (al was dit net dié één dag en met die klein belegging van ʼn uitval tand …) ʼn Meevallertjie nie te min en raakgevat!

Ek soek nie meer geld uit leë pantoffels nie, maar eerder ʼn paar voete.

Ek is gefnuik: daar is nie plek onder my bed nie en die pantoffels staan verlate aan die voet-en-ent. Dalk gaan dit glad nie eens oor die pantoffels nie, dalk het daardie muis my net gespeel vir nog ʼn tand en toe hy aan die einde van sy kanse kom besef my glimlag gaan nêrens heen nie (of iemand in die huis se kleingeld was op?).

As dit dan nie in die pantoffel steek nie?

ʼn Gedagte wat lank gesoek het na sy ink en pen vind meteens ʼn groter waarheid uit. Dit ís nie in die pantoffels nie, nie in die wag en loer nie, nie in die blinde kuiers of skietlamp ekspedisies nie …

“Dit is tyd dat ons onmisbare mense, onvermydelik, raak moet lééf …”

2007-10-27 ‘n Gedagte vol los gedagtes …

Die afgelope tyd was nogal interessant. Daar was tye waar ek die son sien opkom het, waar ek saam met die nag se laaste mis die slaap uit my oë gevee het. Tye waar die nag soos die pad voor my net aangehou het. Stryders onder die storm het ons van ‘A’ na ‘B’ gejaag, soos perde in die voorste linies amper ongeteuel om die pas te stel maar met waansin in die oë wat weet die oorlog kom!

Wat weet daar is geen omdraai meer nie.

Tye waar ek gehunker het na die ink, my digitale blad en veer om vlerke aan my gedagtes te gee. Gedaante aan die vloed van lewe waardeur ek soms sleur, soms sny en soms die spanning van die water ry.

Partykeer wil ek skryf
Só dat ek dit amper
Kan voel, kan proe
Kan ruik hoe die
Bloed uit my gebarste
Lip loop

Ek wil my woorde wees
Letterlik my siel
In hulle grein laat loop
Dan kan jy dalk daar
My spore vind
En iets beleef van wat ek
Droom as kind …

(nota: Die vorm is as gevolg van die langwerpige papiertjie waarop ek geskryf het, ek was op pad Brooklyn toe, dit het Donderdag redelik gereën en ek moes gou hardeskywe en ander toerusting gaan aflaai. Dit was al na 9nm. Ek het waaragtig my dagboek by die huis gelos en kon net ʼn brandstof strokie in die hande kry, darem het ek ʼn pen gehad.)

Tussen die gewone spoel van goeters het ek mense afneem wat soms probeer belangrik klink en walglike woorde soos “auspicious” gebruik … net soos die vorige drie ander mense en waar die gehoor amper ʼn merkbare “ooh” en “aaah” gee gevolg deur daardie ongemaklike stilte waar hulle probeer uitwerk wat dit dan nou EINTLIK beteken. Die spreker hou lustig aan met sy gotiese verwerking van iets wat seker in die Sarie gestaan het.

Teen dié tyd het die gehoor lankal opgehou om te wonder wat die ‘leenwoorde’ beteken. Immers praat ons almal maar net kombuis-Afrikaans en aksént-verwardé-Engéls.

Tussendeur dít het ek na die Universiteit gegaan en studente se opinies afgeneem. Ewekansig.

Ek beveel dit aan.

Ek beveel dit aan want jy is ongeken en die persoon met wie jy praat is onbekend. Dis veral lekker wanneer iemand naby jou gaan sit, ek het hulle net uit die hoek van my oog gesien terwyl ons besig was om met die huidige kandidaat ʼn onderhoud te hou. Hy lyk rof en die meisie sal jou seker mooi kan vertel … ek dink hulle is Engels. Ek WíL met hulle gaan praat …

Dan is dit soms verbasend wat mense bereid is om vir jou te sê terwyl jy ʼn kamera in hulle gesigte het. Dan het ek ook al ‘belangrike’ mense sien hap na woorde en wonder wat om volgende te sê.

Sal die roetine van elke dag ons insluk en in die regte boksie uitspoeg? Sodat die groter kubus vierkantig in die niet kan hang terwyl daar na die volgende boksie gesoek word?

Partykeer as ek begin skryf is
daar net niks. Behalwe die stilte van
ʼn blinde stuk papier en ʼn pen wat kwyl,
angstig om sy ink in verhale
te borduur.

Partykeer as ek begin skryf
Bars ʼn oorlog los
Moet ek koes vir koeëls
Letters wat swets
En paragrawe gemors.

Partykeer as ek begin skryf
Dek my pen tafel net vir twee.
Wil ek skryf, wil ek hoor
Wil ek lees, wil ek plekkies in my hart
Vir die woorde maak, gaatjies waar
Ek hulle weg kan steek …

(nota: Weereens op die stuurwiel geskryf, op pad terug in hoog spitsverkeer van Sandton af. Die son wil sak, ek wil by die huis wees, maar nie een van ons twee gaan nou ons sin in kry nie …)

Ek dink dit was in Shoshanguve. Die een oomblik is daar huise en die volgende oomblik volg ek die motortjie voor my na die hek van ʼn erfie waar daar net ʼn bruin verroeste sinkhuisie staan. Dis Sondagoggend en ek is in Afrika. Daar is ongelyke grondpaadjies met hier en daar iemand wat verby stap. Ek kan hoor hoe nie te ver in die buurt af nie daar vurig kerk gehou word. Meteens is ek terug in Noord-Namibië. Net suid van die Angola-grens het ons ook in ʼn sink kerkie gesit. Jy kon soms in die nag selfs skote hoor. In die oggend was Afrika op die stoep, het sy pap gemaak, mopanie wurms en vissies uit die poele water langs die pad. In Zambië het ons tussen die sakke mielies wakker geword, amper asof die oomblik te groot was om te mis het die haan lankal begin aankondig. In die donker het die skadu’s en silhoeëtte gewaak totdat die son hulle eers lank maar stadig uit die weg kom kleur.

Daar is nog. En nog steeds te min.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kinders se klam handjies
In die oggend, as ek kaalvoet
Oor die gras gaan stap.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar dae wat soos ʼn
Vuurherd brand en eindig
As ʼn Pêrel in die
Roet kom lê.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kaja tussen die kakiebos
Haar liefde wat my hart opdroog
Haar drome wat ek vir eendag los.

(nota: Ek onthou soos gister een dag toe ons gaan water haal. Daar was net een kraan in die area. Agter op die waentjie was twee 44 galon dromme, die paadjie was vol gate en plasse water en ek het versigtig met die Toyota Venture hulle probeer mis ry. By die kraan gekom het ons begin om die drink- en kookwater in die dromme te tap. Die son het in ʼn hemelbed van rooi en geel gesak. Dis toe wat ek onthou hoe ek menigte male in die wiskunde- of wetenskapklas gesit het en gewonder het hoe dit sou wees om nou iewers in rou Afrika goeters te doen. Spilpunt-swaai.

Ek wonder nie meer nie.)

Post Navigation

%d bloggers like this: