die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the category “Gedagtes …”

2009-06-22 ‘n Gedagte_Leef

‘Terminator’, ‘Matrix’, ‘Equilibrium’, en as jy regtig lus is sal ‘Planet of the Apes’ op sy eie manier ook aan dié kriteria kan pas. Eersgenoemde het ek onlangs gesien en ʼn sinnetjie iewers in die dialoog het my aan die ooreenkomste laat dink.

Menswees.

Ons probeer met ons realiteitsprogramme dit seker ook op ʼn manier raakvat, die logika is net vreemd (tog maak dit sin?). Ons kyk na ander mense … hoe hulle probeer om régtig te wees wie hulle is, of te wel, wat die mense om hulle wil hê hulle moet wees. Dalk laat Jerry Springer ons net beter voel oor ons eie mal lewens wanneer sy gaste hulle afwykings paradeer. Net daar voel ek beter oor my sonde, want iemand anders se lewe is veel erger. Nee kyk, hulle doen dinge wat mens nie eens in slegte geselskap kan herhaal nie. Of so hoor ek. Nee, ék het dit self nog nooit gekyk nie. Jy sien, my suster het ʼn vriend wat iemand in die Kaap ken en hulle bure het dit eenmaal gekyk en ons alles daarvan vertel …

Stories om die kampvuur kom al van die oertye af. Die grot het nou net in ʼn voorkamer, en in sekere huise, ʼn hele aparte TV-kamer verander. Ek onthou nog hoe ons as kinders by die huis sou aankom, die voordeur oop vergeet, en my ma dan sou vra of “…iemand in ʼn grot groot geword het.” (Eintlik het dit niks met die punt van dié gedagte te doen nie …)

Ons probeer definisie kry vir die menswees wat ons beleef of wil beleef. Die illusie wat die media tot nou vir ons voorgehou het, is net nie meer na smaak nie. Nou soek ek realiteit! My oë is moeg vir die goeters wat my hart net nie meer kan glo nie. Nou wil my kop dit hê en my lyf … my lyf soek sy stimulante, kleursels en suiker.

kliek

Een of ander ster se lewe val op die skinder-kanaal uitmekaar en ek voel versadig na dié maal. My realiteit syfer al hoe meer deur die planke, kalklig en simfoniese harmonie as die held op die toneel verskyn. Nee, dis nie waarheid of eg nie. Dan kies ek eerder ʼn ander kanaal waar die tannie haar man slaan, die span vir ses nulle op die eiland uitteer, of waar ek kan sien hoe hulle iemand se gesig smelt en nuut maak.

Dis die moderne wêreld. Jy kan enige iets op daardie kas laat verskyn en heeldag daarna kyk. Want sien is glo.

kliek

Flip, ek haat advertensies. Sal eerder iets op die betaal-kanaal kyk as wat ek so deur die film moet hakkel.

kliek

Terug by my realiteit wat teen dié tyd soos ʼn sproetgesig seuntjie eenkant sit, onvergenoeg in sy eie vel want die kassie het hom vir homself verveel. In ʼn flikkering is wie hy is en dit waaroor hy droom net nie meer goed genoeg nie. Pas hy nie meer in sy eie belewenis van dié lewe nie en word selfs sy aanraking met die wêreld verdruk deur perke wat voorheen nog geensins bestaan het nie. Op die man af los hy sommer sy meisie wat nie naastenby meer opweeg met die silikonpoppies van die kassie nie en sy werk is ook nou sommer sy dienste kwyt.

kliek-kliek-kliek

Die kanale laat my suf.

Spoel bloeddorstig die een slagting na die ander in my sintuie af.

Die beelde sink in ʼn ‘ghonk’ weg tot net die swart skerm oorbly. Is dié dan realiteit? Alleen in ʼn donker kamer met net die videomasjien en DSTV se liggies wat brand. Sooibrand slik die onvergete beelde weer deur my gedagtes en herkou elke flikkering weer voor my geestesoog. Dors soek my oë nou die prentjies elke dag, verdoof sien ek nie meer die lyke langs die pad lê nie, hoor ek nie die sirenes wat om my skril nie en mis ek nie die karakters in my lewe nie. Mense raak vervangbaar, en soos die spelers in die stories sinneloos afgemaai word, val vriende en familie net weg tot ʼn inskrywing in die kredietrol.

Moeg vir die mense om my, maak ek nog ʼn skerm oop. Blink sy lig oor die letters waarmee ek op jou muur kom skryf. Pleister daar foto’s, boodskappe en ander onsinnighede op die kaleidoskoop voor jou en looi ek my hart vir jou uit tot net die droë leer oorbly. Goed vir skoene.

Menswees.

Meteens ʼn geveg waardig.

Bar verwarrings van dié konsep walg die sensoriese en pornografiese mishandeling wat gewone mense elke dag moet deursif. Iets soos kleefplastiek film in ʼn lagie oor die voelers wat andersins ons aan die elemente van realiteit sou blootstel. Nie langer wil ek van die wêreld af wegskram nie, maar wil ek voel en weet waar die reën inpas.

Dit kan nie vir ewig koud bly nie. Jou hande kan my nie vir ewig uitlos nie. Iewers in ʼn stadium gaan daar weer blomme uit die dor verskyn. Regte blomme wat jy kan ruik, lief hê en oor kan treur as dit verlep. Sal die son weer brand en die nag korter as dag wees.

Sal jy haat, liefhê, die foeter in raak… en vergewe. Omdat dit alles saak maak. Sal jy voel wanneer jy brand en sal jy naalde weier wat seer wil blind maak. Sal jou hart weer kan pyn en bons en ophou doof wees vir die pulse wat roer.

Menswees gaan oor meer as dierlike instinkte. Meer as die verdowing wat ons so verslind en die versugting wat ons wil voer. Dit gaan netsoveel oor die pyn as wat dit oor die lag gaan, oor die stukkend en die heel. En as alles wil stil raak voor die geraas van storms dan gaan dit oor die afwagting, die vrees en die sug van verligting! Dit gaan oor God, die duiwel en elke dag se tef-en-teem wanneer ons soos Job, en selfs erger, wil skree, vloek en wens om dood te gaan.

Stig klank in die stilte, skud sodat iets kan beweeg en lui jy die klok na pouse sodat die volgende ronde kan begin. Maar voor die kakofonie jou gemoed oorrompel … leef.


428x60_Make_Money_Online_No_List_No_Problem

Kyk gerus die video.

2009-05-18 ‘n Gedagte_Rook dit

Marcel was nie sommer die “standaard” tipe ryloper nie, wel nie op die maniere wat jy dink nie. Ek het Marcel nie langs die pad opgetel en ʼn geleentheid gegee omdat daar niemand anders naby was nie. Dit het so bietjie toevallig gebeur, tog met genoeg ryloper elemente om vreemd te wees. Soos in die “standaard” gevalle het ek Marcel nie van ʼn kant af geken nie, die uwe het trompop die volgende oomblik voor my gestaan en vir ʼn saamrygeleentheid gevra.

Hoekom nie?

Noudat ek daaraan dink, ek het vir Johan iewers in die Karoo opgetel, naby een van daardie plekkies waar jy nie lekker weet waar dit is nie, tog is jy nou daar. Eintlik was dit nie ʼn plekkie nie. Daar was niks. Al wat ek kan onthou was die man langs die pad met sy slierte, sak en tas. Dit was ʼn voorreg om dié navorser ʼn geleentheid te kon gee. “Eintlik lyk ek nie altyd so nie, dit kom maar so saam met die lang paaie.” Ek knik. Die sak het ons sommer agter in die bakkie gegooi maar die tas het hy nie onder uit sy oë laat uitgaan nie.

Ek raak soms aan die slaap en het die geselskap meer waardeer as wat dit oor enige samaritaanse gebruike gegaan het. “Eintlik skryf ek ʼn boek,” loer-sê hy versigtig oor na my kant toe. “Jy sien, Reynold, my familie se storie is ʼn interessante een. Dit is hoekom ek al dié dokumente het. Dis navorsing wat ek nou al van regoor die land bymekaar gemaak het.” Hy het nog redes gehad. Kan hulle net nie onthou nie.

Marcel was anders, merkbaar gespanne.

“Jong Reynold, dis nou ʼn ding dié hoor, my tand is seer. Magtig, ek weet nie meer wat om te doen nie. Eergisteraand vra ek twee kleurlinge of hulle dalk plan het vir my. Man, dit was nie ʼn goeie idee nie, hulle begin toe hier in my mond grawe met ʼn skroewedraaier, maar dié ding was heeltemal te stomp en te dik. Wat kan jy nou maak, hulle is twee en die politiek het mos verander. Ek het maar net vasgebyt en dankie gesê.”

“Eintlik wil ek vra of jy dalk ʼn kleiner skroewedraaiertjie het en my met die tand kan uithelp?”

Dis gevaarlik om rylopers op te tel, jy weet nooit waarin jy jou begewe nie. Ek is nie tandarts nie, ek was wel in ʼn tegniese skool maar of my gevaarlike kennis van houtwerk hier van hulp gaan wees, weet ek nie regtig nie.

Amper angstig vra Marcel of ek verantwoordelik is, “wil net seker maak of ons veilig gaan ry”. Die bakkie skommel en stamp bietjie omdat ek nie veel ag gee aan klein duikies in die pad nie, hy het nie die sagte rit van ʼn duur luukse Duitse motor nie. Dit word van links beantwoord met “oe! Sjoe … Daar’s-hy, ons is nog veilig, moet nie worry nie, ons gaan veilig ry …”

Huh? Ja, en dit was net die begin.

“Ry jy vinnig?” Adrenalien puls deur my are … Is dit ‘n vraag, voorstel of ‘n begeerte!? “Ons KAN as jy wil.” Die glimlag op my gesig verwar Marcel wat lyk of die eindtye aangebreek het.

Ek ry 100km/h.

Dis toe wat ek dit voel. Heel onverwags terwyl ons om die een draai kruie en ek met albei my hande op die stuur en met al my oë op die pad gefokus is. ʼn Ferm greep aan die linker kant van my kop lei die volgende woorde in: “Ek bestraf jou satan, jy en jou demone …”

Soos stadige beeldmateriaal in ʼn aksie film draai die oomblikke in minute om en die held van ons storie beur reikhalsend voort om die chaos te keer, om die wêreld te red en ons spring op in die fliek en skree soos by ʼn sport wedstryd. AAaaaaagghh!

“… Los hom!!! gees van verwerping, LOS HOM!” Dis eintlik ʼn mooi dag, die kosmos langs die pad staan geil en room die begin van die koue seisoen in sagte skakerings van pienk en lig pers.

Teen die tyd is selfs my puisies uitgedryf.

Eindelik kom die slotsin gevolg met die “Amen” punt.

Sieklik skree die rubber oor die teer terwyl die bakkie liggies na links skeef trek oor die pad en in ʼn stofwolk langsaan tot stilstand kom. Die eerste deur om oop te bars is myne gevolg deur ʼn ferm stappie waarna die passasierdeur oop bulder. Ek hoef niks te sê nie, my aksies spel dit onomwonde. Versigtig klim Marcel uit, tassie en al.

Wag ʼn bietjie …

Ja, dit het gebeur, ja daar is baie detail uitgelos – ek wil nie noodwendig alles wat uit my gedryf is sommer vir die wêreld uitblaker nie. Ja, Marcel was DOODernstig. NEE, ek het nie in ʼn groot gejuig gestop en my ryloper net daar langs die pad gelos nie.

Ek was so uit die veld geslaan deur die gebeure dat ek net houtgerus aanhou ry het. Tevrede dat ek van al my sonde vergewe is en van alle demoniese besetting bevry is, sit ʼn minder gespanne Marcel in die linkerkantste truspieëltjie en staar. Ek het intussen vinniger begin ry en pas my beste bestuursvermoë toe dat die spoed nie bespeur word nie. Dit werk! (Ek hoop nie daar is kameras nie…)

Die lighartige luim van dié gedagte moet nie met spot verwar word nie, Marcel is ook nie aan die wêreld onder daardie naam bekend nie, tog is daar ʼn punt aan die storie.

Die fanatiese uitdrukking van dié persoon se geloofsoortuiging het my laat wonder hoe ons soms die wêreld verwar met die dinge wat ons aanvang. Kyk, die hart is opreg, maar die logika ontbreek. Sou jy ooit dié bevlieging ervaar om demone uit die bestuurder van die voertuig waarin jy ook sit, te dryf, maak seker julle staan stil en dat die enjin nie eens luier nie. Nee, skrap daardie idee. Moet nie dit in ʼn voertuig doen nie, want as jy reg bespeur en legio besluit om vir almal in hom ʼn beurt te gee om ʼn bestuursles te kry mag jy dalk net meer avontuur beleef as wat daardie dag kan behartig. Jy mag dalk net ook wil seker maak jou versekering en medies dek sulke tipe aktiwiteite.

Uit geleenthede waar ek al mense onder die invloed van die bose gesien het is dit oor die algemeen goeie praktyk om nie voertuie, plaasimplemente en ander dergelike toerusting in die gebeurtenis in te sleep nie. Ek wil jou nie skrik op die lyf jaag nie, kry maar net eers bietjie ondervinding in die gebied voor jy te veel bewegende dele in die praktyk inbring.

“Are you smoking what you’re selling?” uit ‘Velvet Elvis’ deur Rob Bell

Ongeag die opinie wat jy dalk mag hê van “Marcel” het ek gewonder oor die idees en filosofieë wat mense om my by my “koop”, kan ek met dieselfde ywer my oortuigings in my eie pyp stop en dit rook?

2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie

2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie

“Strokie asseblief” sê ek amper outomaties terwyl ek my kaart vir die dame gee. Ons is hoflik met mekaar. Sy vra toe “So, hoe celebrate jy dié Heritage Day?”. Ek dog dis Braaidag …

“Ek gaan dit vanaand verseker op ’n spesiale manier doen …” mompel ek deur die valhelm.

Net soos die tolhek in my spieëltjies spoedig verdwyn en ek my oorgee aan die rustige verlaat van die stil snelweg waai die herdenking ook uit my gedagtes.

Maar ’n paar dae later het dit weer begin knaag, soos ’n slegte hoesie wat net nie wil paai nie. “Goed” gee ek oor aan die eerste wonder: “Wát is my erfenis?”. Dadelik dink ek aan kulture wat ek as ryk aan erfenis ag en besef dat 350 jaar skaars ’n tiener is in hulle geselskap. Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dis dalk seker hoekom dit so stil is.

Nukkerig neul ek toe dat al wat ons as Afrikaners op Erfenisdag saambind ’n kosmaak ritueel is wat terugdateer na die oermens toe.

Ek luister Tori Amos, dis ná twaalf, slaap is seker ‘n goeie idee, ek tap skottelgoedwater in en al waaraan ek kan dink is my eerste vakansie in Jeffreysbaai Desember 1996. Daar was ’n oom in die woonwapark wat my en ’n vriend in sy motor gelaai het. Ons het baie draaie in die dorp gery tot ons in ‘n woongebied voor ’n vervalle huis tot stilstand gekom het. Hy het heel opgewonde uit die motor geklim en ons R50 of so iets belowe as ons sy gras (wat halflyf hoog was) sal sny en die erf bietjie opruim.

Ons was nie daarvoor te vinde nie.

Ek besef nou meteens ek kan bly wees hy was nie ‘n pedofiel nie. Goddank!

Nou dat ek daaraan dink, het ek daardie vakansie iets van my erfenis begin beleef! Afrikaans.

Dis die vakansie waar ek in Afrikaans begin skryf het. Daar bestaan wel ’n volle 11 bladsye van skryfwerk voor daardie vakansie – als in Engels. Die pad af see toe en die tydjie daar het letterlik vuur gemaak onder die lettertjies in my wese en hulle het uitgesmet* tussen daardie eerste blou lyntjies van ’n klein notaboekie.

Iewers in die jare voor dit het ’n liefde vir letters en hulle rangskikkings in my grein kom ínvlek dat, selfs nou, ek hulle in arms vol wil laat bos-staan in die vase van hierdie aardse kruik.

Oulaas

Hopies verdriet lê alleen,

met net ’n naam

’n datum,

wat as merker dien.

Gestasioneer

weg van liefde,

tussen kroesies halfwoestyn klipkoppies.


’n Blom het verskyn,

tussen klip en harde grond,

soutwater-liefde

het hom gestreel,

en in die Sondagoggenddou

wat soos ’n diamante lê en glimlag

het dominee, “Amen” gesê.


Swart geklee,

het ons in die somerson

weggestap

van dié rusplek

in stilswye

vir die laaste keer …

Mens moet seker ook eers iets hê, voor iemand anders dit kan erf?

Lina is seker een van die meer vreemder dames wat al by ons gewerk het. Soms as ek wakker word en nie ten volle besef dis al weer Maandag nie bevestig haar giggel so vroeg in die oggend dit vir my.

(Wat dínk jý?)

Ja, die ou siel het die gewoonte om sommer vroeg in die oggend by ons huis op te daag en met die intrap gou ’n geselsie aan te knoop. Dis nie dat sy een of ander verbale diarree of iets het nie, sy wil net sê hoe dit gaan en ook graag weet hoe dit met ons gaan.

“… hie-hie … kyk hoe maak hulle. Hulle bel in, tsjik en antwoord die vraag daar by die radio en wen dan sommer ’n duisend rand. Hie-hie … hoor daar!” Verduidelik-vertaal sy vanmiddag terwyl haar stasie oor die draadloos blêr. Ek sit en eet terwyl sy langsamig aan ’n beker tee sit en drink. Ons het vir ’n tyd – toe sy alleen in die dag by die huis gewerk het – gedink sy luister skelm Radio Pretoria, net om later te besef sy skakel na die naaste Afrikaanse stasie toe net voor sy in die middae loop.

Dis dalk deel van die erfenis wat ons generasie moet probeer nalaat, ’n verlore vyandskap verdoesel deur jare se wedersydse aanvaarding en begrip …

Wedersyds.

Mag ons eendag om dieselfde vuur sit, verskillende stasies luister, maar dieselfde vleis braai.

Ek luister na Eva Cassidy wat haar weergawe van John Lennon se “Imagine” voordra. Dis eintlik hartseer? Eintlik wou ek dié gedagte op die vorige bladsy sy punt laat bereik het waar mens goed voel oor jou liberale opinies en jou aandeel in die goedheid van die wêreld. Waar ek voel my kinders gaan in ’n ander Suid-Afrika woon waar ons mekaar nie haat nie.

Toe nou nie. Ek het van Erfenisdag af net te veel oor die hele ding gedink om dit soo maklik te laat verby gaan. Waaragtig spoor ek toe iewers deur een nag in die Beeld ’n beriggie raak oor die stoere Afrikaner wat 16 Desember 2008 ’n 170 jaar se bestaan wil vier.

Ek wonder of hulle weet COPE wil dit hulle ‘stigtingsdatum’ roep. Ja, waaragtig!

Of almal dit wel stigtelik gaan vind, weet ek nie.

So “ons” foeter weer met een of ander ossewa-replika deur na die regse dorpies om 170 jaar te vier. Soos ou Steve en meeste van die res van die Afrikaanse “ek en my kitaar het ’n CD”-troepe, kom dié stukkie ‘erfenis’ nie noodwendig in my boksie trousseau wat ek nalaat vir my ongebore kroos nie. Ja, ek weet die boere het die Here belowe. Ja! Ek weet hulle het die geveg gewen. MAAR wat ek wil weet is wat presies jy dink hulle belowe het en hoe die wen daarin pas.

Terwyl ons klippe in die bosse gooi: nee dié is nie ’n Belhar belydenis nie. As ek alles in die Voortrekkermonument opvreet beteken dit dat ek die vrymesselaars ook in my erfenis absorbeer? Nie ’n manier nie. (Oeps! Het ek dit hardop geskryf? Toemaar, almal in ons verlede was sulke sout van die aarde dat hulle NOOIT met sulke goeters betrokke sou raak nie … belowe.)

Sover ek die geskiedenis reg verstaan (en ek weet dis subjektief tot die regerende party …) wou die boere die ‘donker kontinent’ betree met die ‘lig’ van hulle boodskap. Was daar ’n bloedige geveg om juis dáárdie boodskap die duisternis in te dra … het hulle in die mis gebid vir oorwinning in die stryd tussen lig en donker.

Vandag glo ek nog stééds dat daar duisternis in dié kontinent is en wil ek deel wees van die span wat die Lig inbring. Dat ons in die proses met Taal en kwas die akoestiek van elke dag omlyn en ons belewenis uitsprei oor doek en esel is ’n voorreg wat ek waardeer.

Dít is my erfenis.

*’uitgesmet’: ʼn Konsep tussen uitgesmyt en besmet. Ek dink dat iets jou aansteek om te begin skryf en dat daar soms oortollige woorde ook in die proses uitkom. Van daar af begin die woorde konsepte oopkloof in mense se gedagtes om vir hulle óf ook die oortuiging te gee óf dit te laat verwerp óf selfs net te daag om daaroor te dink. Nie alle konnotasies van siekte is dus regtig relevant met die beskrywing nie tog vind ek soms dat die enigste effektiewe kroniese behandeling vir my siekte is om te skryf.

Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik

Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik

Op die bus, op pad terug.

Die Melktert Kommissie draal die stilte doof terwyl los gesprekke tussen stoele die tyd uitkoop. Ek asem my laaste teue van Mosambiek in terwyl haar vingers deur die ruite met my hare speel.

Ek wou dit onthou, dus is die getorring met letters niks minder as die kommentaar op die storie wat reeds in ons foto’s en flikkerbeelde afspeel nie. ʼn Storie waarin jy ook ʼn karakter is.

Meteens gluur die lyne my aan, wil weet watter letters ek aan hulle gaan hang en, soos die markte waar lappe en klere aan toue in die wind wil dans, soek ek ook die bont-baljaar wat jou ʼn stukkie Mosambiek laat beleef.

Ek sien hoe jy terug is in die dorp, jou gordyne in die nag oopmaak, opkyk na bo en wonder wat van die sterre geword het …

ß)

28 Junie

Dis net ʼn draad
Uitgetorringde erts staal gespan tussen ons …
Jou spore trap soos myne …
ʼn Herinnering in stippels gesoom.

Eintlik is dit net denkbeeldig
Tog kan ek my nie ‘oor’ dink nie,
Net ʼn stempel verder
Asem ek dieselfde lug …
Jy ook.

Is ons grens net soos die skemer
Die gordyn tussen dag en nag?

29 Junie

Ken jy stilte?
daardie plek waar selfs die niks

ophou raas

My kinders kyk vanaand vir die sterre
en saggies kan ek hoor hoe hulle ogies
in blinkers wonder …
maar diep in My sakke gons
legioene meer …
fyn sand vir die heelal se vensters bestem
elkeen met sy eie vonkel.

Nie net ʼn Poskaart nie.
Nee, hier groei regte gras uit die murasies
– selfs op die dakke –
en dís wat my van Afrika bekoor,
waar selfs dié halms deur ons
imperialisme se geboue boer.

Saggies sluip sy ook so jou hart binne
haarwortels tuur in die takke van my bestaan
en ritmes in my los woed
soos ons tussen die gehuggies vaar.

My wit vel skif minder
In die nasie se gedagtes,
Asof mens dit kan voel?

30 Junie

Ons is in Mosambiek
Tofo om presies te wees.

Dis bewolk, tog jolig in die bus,
Dis ook toe dat “Ek herhaal Jou”
Oor die luidsprekers speel.

Ek hou van Afrika

Soms voel ek so geïnspireerd
Dat ek niks het om te skryf nie …

Die skanse van ons skadu’s
omlyn skaars die groter gestalte
soek rus in sy obskuriteit
maar vlek sonder om ooit merk te los …

Instinktief hunker ʼn kind na sy
Moeder se bors.
Iets van daardie begeerte
bly soek.

ʼn Fetale vreugde vir ʼn moeder
se bors roer in my wese.
Kan ʼn man in eenvoudigheid
soveel plesier vind?

Sou selfs die begeerte
vir ʼn vrou kan skif
in vergelyking met Jou,
Jou kinders,
hierdie Land.

1 Julie

Jy het aan my bors gevoed.
Ek het jou in my arms gedra.
Die rus vir jou het vroeër gekom.
Toe jy die gevolge van my skande dra …

My kinders huil in Afrika
die sorge van ʼn oorlog blind
met my hande leeg wil ek jou vra
wie gaan hulle harte verbind …

2 Julie

Baringsnood.

Daar is ʼn lus wat ek uit die ou dae ken,
ʼn kompulsiewe drang wat wil hê,
sy volle oorgawe wil stuur in net een rigting.

Word ek hier in die vreemde versoek?
Het my wag my in die steek gelaat,
en so oorgelewer aan die bose?

Al was dit net vir ʼn oomblik,
Was dit genoeg om te besef:
Ek moet en Wil nog in die hande kry …

Want net stukkies van dié God is te min vir my.

“Bon dea, Senôr.”
“Porvavor.”
“Muento beng Obrigado …”

In ʼn vreemde ongeloof straal sy gesiggie,
Lettertjies verstrengel uit sy mondjie
Terwyl hy vir my die speletjie verduidelik …

“Si, Senôr?”

Hy kom agter die wit man verstaan glad nie
Tog gee dit nie om nie.

Iewers het hy en sy twee maatjies
van daardie leë 25l kanne in die hande gekry,
ʼn harde grondwal gevind,
ʼn opregte Mosambiekse glyplank gebou.
Sommer daar langs die nasionale pad.

Oral langs die pad het hulle van ver af al gewaai. Dis seker nie elke dag dat ʼn witman met ʼn driepoot en videokamera verbygestap kom nie.
Opmerklik het sy nie eens opgekyk nie …
“Bon dea?”
Sy sê niks.

Langs haar kom ek eers agter dat sy skaars kan sien.

Hier is dit nou, die doolhof van my verwagting
Blyk die stilte te vervreem
En jy dra nog die Skugter Droom.
Was daar ʼn seisoen, mag dit lente wees
Want net bloeisels kan in kranse vir jou staan.

Wat doen ons hier?
Kyk my Britse Jesus
Jou verward aan?

Elke volk, Elke stam … in sy eie taal.

Hoe tel ek die splinters op?
Waarheen dra ek die skerwe van my bestaan?
My hande is flenters
My knieë dra die letsels van jare se glas
Tog prewel ek steeds
“God wees my tog net genadig”
“o-Jirre!”

Soms is ek voor my vyande
Om die stok te slaan,
Skel en laster ek aan die kruis langsaan …
“o-Jirre”

3 Julie

Weer is my pen leeg
uitgeteer oor bladsye suf en sier.
weer is my woorde hol
dors gedagtes op soek na betekenis.

Kon ek ooit ʼn duideliker wete gehad het?
Kon Jy enigsins Meer vir my bestaan?
stilweg hunker ek steeds
dors my wese na ʼn groter belewenis …

Jou vorm bly my ontwyk
tog met elke spieëling
sien ek Jou skadu om die hoek verdwyn
ruik ek Jou in die wind
en weet Jy is daar!

Kan ek enigsins beteuel?
Is daar rede om te rem?
Waarom sou ek terughou?
Waarom sou ek skugter?
As alles in my slotsommend weet:
Dis net JY
“Net JY”
Eggo dit in die duisternis

4 Julie

ʼn Mens het sterre gekyk
Wanneer jy die aarde se beweging in hulle kon sien.

Die oggend dra hom saam met die eerste brode uit,
Terwyl die oond nog warm word,
Met ʼn rooi gloed luier die strale vir eers.
Later sal hy nog wit brand

Ek hoor jou hart teen myne
en die bos transponeer jou vreugde tot ʼn kwetter skal.

Salig dryf hy na die ander kant
terwyl ons in die sweet van ons aangesig
die tyd verbou.

Dan kom dit weer
aan die oorkantste oewer
met die dag ryp en vol gebeure
hang die stof swaar in die laaste knal.

ʼn Afwagting rol tapyt
oor die venster van die heelal

6 Julie

en hier sit ons onder die sterre
terwyl ʼn beeldbeuel gedaantes
teen ʼn lap laat dans

die kinders van Afrika se gesiggies
gloei in die golwe lig
wat oor
hulle spoel

Betowerd staar hulle na die
gedoente wat die
vreemde mense hier kom opslaan het

die kragopwekker knetter eenkant
teen ʼn rustige pas
en die film kom tot sy einde
tog is dit net die begin

want die Man in die storie lééf

Dis eintlik vroegaand toe ons
die eskomdonkie agter op ʼn fiets wou laai
nie dat die fiets vanaand nog gaan kan ry nie
want die saal moes waai om plek te maak.

Daar stap ons soos die Israeliete
net sonder die vuurkolom … ?

Die fiets

Ons ontwaak met die luier van die bus wat die stilte verskeur,
een vir een soos meerkatte uit ʼn gat peul die span en sy geselskap
selfs van onder uit die bus.

Dit was ʼn kort nag.

Terwyl ek ʼn draai om die bus loop sien ek ʼn fiets.
Niks vreemd nie.
Dié stapelvervoer sien jy oral in Afrika.

Slaapsakke word opgerol en koplampies krap in sakke rond
– ons moet al op die pad wees voor die son opkom.

Reg om te roer, merk ons dat die fiets nog houtgerus langs die bus lê …
Onraad?
ʼn Portugese brabbel laat ʼn man heel verleë van agter uit die bus verskyn,
skamerig verlaat hy sy bus-ster-hotel,
of verlaat sy hotel hom toe ons in die donker oggend in verdwyn.

Tog nie met leë hande nie?
Nee, niks is weg nie
ek dink net aan die kampvuurstories wat hy nog gaan vertel van sy
nag in die bus.

As ek nog een foto of stukkie beeldmateriaal neem van iemand
wat met ʼn fiets langs die pad ry of selfs net stap
gaan ek sekerlik die mense tuis frustreer
wanneer ons deur die magdom beelde moet spartel.

Tog bly dit betowerend
glo ek eers dat ek in Afrika is
wanneer ek dit oral sien.

My Afrika, waar enige ding met wiele
“4×4” is en ʼn vrag kan dra …

Ek sit in ʼn kerk, een van die groteres wat ek al in Afrika gesien het.
So graag as wat ek Portugees sou wou leer, help die dubbelmedium preek glad nie.
Wat ek wel kan sê is dat die Engelse weergawe darem goed was.

Wat nie uit die stukkie hierbo so duidelik besef word nie, is dat ek in my persoonlike hoedanigheid goed geskool is om in amper enige posisie te kan slaap en dat ek so deur die foto’s neem en beeldmateriaal invorder, dié paar lyne kon skryf … ên slaap. Jip, ek het meeste van die diens gemis en later moes hoor dat die maat wat gepreek het nie noodwendig 1000de kassette sou verkoop nie.

Die afgelope week spieël
deur die gange van my gedagtes

Sou die stilte hom verwaan?
Sou die tyd homself verspeel?
Sou jy die muur afbreek
wat nog net aan jou kant bestaan …

It’s funny how we despise death,
Funny how we shy from something
Completely out of our Control.

It’s all Good, Take me

Ek het iets dié nag bespeur in die bus toe ons deur die slaggate ploeg, net om later te hoor daar was nogal ʼn klomp mense wat gebid het dat ons tog net veilig by die huis sou kom … hie-hie

Hierin word die teendeel bewys
Wanneer jy vind voor jy soek.

7 Julie

Ek dink aan die algemene handelaar
met haar tafeltjie langs die strand
in Vulankulos

vir ʼn paar “meitjies” het sy
haar hele besigheid laat skuif
sodat ons bus kon verby kronkel
op pad na ʼn geteerde weg.

EN1 – Hoofweg

Ek sal maklik ons drade
ruil vir die seltorings hier.

Al ontsnap stukke teer hier en daar
bly dit steeds mooi,
Dalk moet hulle maar gras plant?

8 Julie

Gisteraand het die span ʼn hele pub
oorgeneem en gedans soos Afrikaners.

Vanoggend het ons dolfyne en walvisse
gesien toe die son oor die see opkom.

Ek vind in jou die maat en metrum
van ʼn diepe siele rus
gekunsteld tot die ritme
van ʼn oeroue puls . . .
beur die stilte deur

Dis waar die nag begin
ʼn noue aanskouing
Nee, ʼn noue ontkoming
met vergetelheid

Jou flikkers dans oor die plafon
skimme van die eeue
kryt uit teen die eindelose nag

9 Julie

die rustigheid klad deur
die kontoere van Jou raak
stadig skulp ek my in Jou vrede in
tot ek weet – nou is dit veilig …

gepantser in Jou vorm
breek die diepste ween los
en die hunker na Jou nabyheid
vind my terug op Jou bors

dit is waar ek sal wees
in die skade van Jou sy
in die letsels op Jou rug
reg by Jou

ek speel met lettertjies
en kyk wat hulle aanvang
soos kinders op die strand
baljaar hulle vorms in die sand

10 Julie

Die landskap treur in die maanlig
terwyl Mosambiek stadig uit die bus se vensters spoel.

Ek dink ʼn stukkie van my hart
kruip hier iewers weg …

Ek sal moet terugkom
om hom te kom soek,
weer en weer

… maar nie té hard nie …

Weer soek ek woorde om Jou
om te soom.
die gedagte van Jou teenwoordigheid
blyk nie te vinde te wees in letters nie

Jy bly onseglik
en hoogs onmisbaar

28 Junie – 10 Julie 2008

Soos dit met sommige stukke skryfwerk is, gaan dit wat ek bedoel het, dit wat daar staan en dit wat jy gedink ek daar geskryf het vyf verskillende goeters wees. Ek het partykeer gedink dis ʼn gediggie of woorde vir iemand van die teenoorgestelde geslag, net om later te besef dat Iemand dit eerder vir my geskryf het. Nog iets wat ek nie beplan het nie.

Partykeer kom daar ʼn spieël op en jy dink: “nee, gelukkig is ek beter as dit, wie is die mens in dié prentjie, Here? Moet ek vir hulle bid …?”

Oeps.

Dit het begin met films soos “American history X”. “Tears of the Sun” het my gemoed van voor af geskud, so ook “Hotel Rwanda” en hier ʼn paar jaar later in ʼn kliniek op Maforga bars ʼn Magtige God los deur ʼn siek kind.

Sonder om die films ʼn onreg aan te doen wil ek vir jou iets van die tema vertel. In swart letters. Dis nie mooi films nie. Hulle gaan jou nie soos “August Rush” ʼn warm gevoel gee voor jy met ʼn glimlag gaan slaap nie. ʼn Swart sweer het uit my hart geteer toe ek besef dat mense wat sinneloos doodgaan my nie juis ontstel nie.

22:53 pm

Die Kommissie het intussen ophou speel, iewers in die uiltjie. Die sterretjies pryk ook vermoedelik nog agter die intimiderende wolke, intussen sluip spookbeelde van voorheen glorieryke dorpies by my venster verby. Dat sommige van die span se name my nog ontgaan is nie minder waar as die feit dat julle lewens deur myne gespoel het. En dit in ʼn land waar verspoeling soveel verwoesting bring, kan ek sien hoe juis die teendeel tussen ons gebeur het.

Terug by die films.

My reaksie op die sinnelose geweld het my gekonfronteer toe ek besef dat die Maforga vigskinders dié wêreld verlaat soos hulle hom betree het, as kinders. Die besigheidsman in my het die “col
lateral damage” bepaal en koud bevind – dié kinders dra geen sent tot die wêreld se ekonomie by nie.

Amper dadelik wou ek my van sulke gedagtes vervreem, maar soos die kinders het hulle blymoedig agter my aangehardloop oral waar ek geloop het, want sien: hulle is my wesies, my buite-egtelike skande wat net erkenning wil hê vir hulle bestaan. Kan ek die swart hoekies in my hart eien en voor my Bruidegom erken: “Ja, dis wat daar binne aangaan” en hulle vir die gekruisigde hande gee wat juis daarvoor betaal het.

Eers toe ek die waarheid in my eie hart deur die oë van my Vader sien kon ek die kinders van die land optel en op die heup rond dra. Kon ek die vreugde in hulle oë sien en hulle spore in die sand volg wat vir sommige net ses jaar daar gaan wees voor die wind dit uitvee …

Die punt: Hy het ʼn heelal geskep, alles in perfekte balans geplaas sodat ek dalk 70 jaar op aarde kan beleef en ervaar wat die engele nooit van Hom sal ken nie. Wie is ek om die kinders nie daardie belewenis te gun nie, al is dit ʼn effektiewe druip persentasie in vergelyking met my lewe tot dusver.

Immers het Sy Seun ook vir hulle gesterf. “Moet die kindertjies nie verhinder nie …”

ʼn hart verander

Vir die rekord: Dit was nie op die vrywaringsvorm wat ek geteken het nie, nie eens in kursief of die fyn skrif nie …

Deur my venster het die wolke plek gemaak vir die maan, treurig en mooi. Dis amper twee weke gelede toe ons hierdie pad gery het, helder oordag. Met relatiewe skoon klere, wel ʼn bietjie geskend deur ʼn nag op die bus, maar nietemin skoner. Ons was soos die gestrykte klere ook onaangeraak, anders as nou.

ʼn Gesprek van vroeër vanaand speel terug: “Ek sou nooit in Pretoria ʼn gebraaide hoendersosatie by ʼn straatmark gekoop het en ʼn feesmaal van dit gemaak het nie …” Dan onthou ek soos gister die eerste vleis wat ek by ʼn mark net suid van Angola in Namibië gekoop het, toegedraai in twee dae gelede se koerant. Die ondervinding is nog lank nie vir my ou nuus nie.

Dis nog iets van Afrika wat nie sy bekoring verloor het nie: haar manier om jou vir ʼn dans te vat – of dit nou deur die slaggate van jou eie lewe is of ʼn goeie 80’s sokkie tussen die banke van ʼn bus. Kort voor lank ry jy in ʼn taxi en beleef die wonder van ʼn drywer se geloof(?) in ʼn skedonk se vermoë om jou deur die strate te verplaas. Dieselfde Afrika dra jou op haar hande met ʼn bord pap en ʼn paar bone, vrouens wat sing en klap terwyl die hart in dromme tot diep in die nag puls.

Afrika, waar die liggies van die stat nie die hemel toe skyn nie.

12 Julie 2008

Nie meer die buitelander nie
Nie minder die vreemdeling nie
Al ken die strate my naam
Is dit nie meer ek nie

Ek kyk om my en sien dat dié stad
nie verander het nie
haar wesies dans nog by die ligte
groen, geel en rooi …

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

Op die rusbank. ʼn Onderhoud. Ek dink dit gebeur selde dat ons onsself vir ʼn onderhoud aan die kaak stel.

Die voëltjies sing vrolik buite terwyl die oggend breek. Behalwe vir die ketel wat kook is dit stil in die huis, dis half ses. Hy moet netnou lughawe toe en kan darem dié tydjie afstaan vir ʼn onderhoud.

“Ek dink dis meer die idee van ‘Draadloos’ wat my fassineer en hoe ons dit eintlik in ʼn klomp areas van ons lewe het.” Een suiker, sonder melk, eintlik verkies hy heuning. Die lepeltjie roer so asof hy die dag aandraai al is dit net rooibostee. Hy gaan aan: “Dis ʼn ondervinding-ding, een waar ons iets beleef het en die feit van daardie belewenis kan nie verander word nie. Ek dink aan die gesegde ‘Hulle het oor die tou getrap’. Dit het gebeur, niks wat jy daaraan ongedaan kan maak nie.”

Hy leun vorentoe, asof om iets vertroulik te sê: “ … wel, dis wat ek gehóór het, anders sou die titel seker ‘Touloos’ gewees het.”

“Op ʼn ernstiger noot dink ek dat dit eerder oor ʼn bevryding of ontdekking gaan waar jy nie net iets nuuts beleef het nie, maar waar dit die res van jou bestaan beïnvloed omdat jy dit deurgegaan het.” Dit is eintlik nogal rustig dié tyd van die oggend. Hy kyk vir ʼn oomblik nadenkend by die venster uit.

“Dit gaan oor meer as net Mosambiek.”

“Dis asof, wanneer jy deur die grens gaan, daardie ‘draad’ tussen jou en ʼn ander land afbreek. Ek onthou toe ons op ʼn uitreik in die noorde van Namibië was en ons die een dag by Ruacana na die watervalle op die grens met Angola gaan kyk het. Dit was ongelooflik. Om daar te kom moes ons met ons paspoorte uit Namibië gaan, iets soos 500 meter verder in Niemandsland en daar is die valle. Net regs was ʼn vervalle houthuisie – die Angolese grenspos – met twee wagte, ietwat onwillig om ons in te laat vir dié wat net ʼn stempel in die boekie soek.”

“’n Bietjie teleurgesteld het ons teruggedraai en op ʼn rots gaan sit met ʼn panoramiese uitsig oor die rivier waar hy nog in Angola loop voor hy dawerend breek oor die rand en magtig voor ons uitstort om sy pad grenslangs na die see toe te vind. Tog was dit vir party van die spanlede nie genoeg nie, hulle móés net aan die anderkant kom.”

Hy sit die leë koppie in die skinkbord terug en mik kombuis se kant toe, dit lyk of ons maar die res so in die loop deur die huis sal moet gesels. “Iewers het hulle ʼn gat in die draad gevind, deurgeklim en teruggekom. Studente is mos maar ʼn spesie op sy eie …” skerts hy terwyl hy die koppies langs die wasbak neersit.

“… tog verstaan ek nou eers wat hulle gedoen het.”

“Ons praat ook daarvan om die ‘ys te breek’, daardie plek van waar ons ʼn nuwe vrymoedigheid neem, waar ons met gemak in die ander land ingaan en kan sê ‘ek was al hier’, al is dit net om die storie te vertel dat jy eendag deur ʼn gat in die draad moes klim.”

Die motorsleutels klingel om die laaste rondte in te lui. “Jy wou weet waaroor ‘Draadloos’ nou eintlik gaan?”

“Ons is draadloos, vry agente wat nie aan ʼn leiband volg nie, maar vanuit die oortuiging in ons hart leef. Hoe kan ek dit stel? … dis wanneer die skanse tussen ons en die wêreld afbreek en ons waarlik met vrymoedigheid begin leef.”

Ons waai totsiens vir ʼn laaste keer sommer so by die verkeerslig toe hy afdraai snelweg toe en ek reguit stad se kant toe moes gaan. Die koerantverkoper wou nog nuus verkwansel, maar ek het my kans met die geel lig gewaag. “… onthou ons is nie van dié wêreld nie, al ons is nog in hom …”

2008-07-27 ‘n Gedagte Draadloos_01

2008-07-27 ‘n Gedagte Draadloos_01


Witbank. Gewoonlik is dié een van die min plekke in die dorp waar dit stil … um … rustig is, maar ek is nie in ʼn dorp nie. ʼn Emmer water hou die deur toe, eintlik baie handig, want sodra alles verby is kan jy sommer dadelik jou hande was. Die hele spoelaksie berus by goeie beplanning en koördinasie, want anders as die geriewe wat jy ken het hy nie ʼn klein reservoir met ʼn handvatsel wat water ontketen en jou soos ʼn laaste sug verlos nie.

Die gehuggies dwerg onder die reuse bene van die bos, eintlik stelte wat die blare kombers daar bó hou. Hier en daar skelm ʼn ranker op vir ʼn bietjie son, verder hou die bos hom vir homself. Eers na die derde dag sink die stilte in jou siel in en kom jy agter dat dit nie omgee waar jy gaan nie, dis rustig.

Met die leë emmer terug op sy plek besef ek dat dit seker een van die meer luukse geriewe was wat ek al in ‘donker Afrika’ gebruik het. Buite omhels ek weer my geliefde in haar kinders wat rooistofpadstap, fietsry en ou manne wat streepsakke houtskool dra. Wit tande. Bon tarde! Sy hande lig in respek wat ek antwoord met myne sommer so in die verbyloop. Obrigado!

Plekke het ʼn manier om hulle eie merk in ons geheue-vaandels te maak en soos ons deur hulle dink wapper die vreugde wat ons daar beleef het. So, hoe kan ek nou vir jou wat nog nie in Mosambiek was, ʼn opvou vlerk tussen letters versteek waarmee jy die vlug kan baan? En jy? Waarmee sal jy my beur op die toere waar jou foto’s megastrukture van gevorderde samelewings postuur?

Nietemin gaan ek probeer.

So in die naeltjie van Mosambiek teen die een sy van ʼn plantasie wat homself bos hou, vind ʼn gemeenskappie sy herd. Haar kinders se klere is soms minder as heel en magies duin onder hempies uit. Ja, ʼn snotstrepie is daar ook en die ogies glinster sku sou jy vir ʼn oomblik stop om die wêreld in hulle te sien.

Met hierdie uitreik was dit meer van ʼn reis, ʼn ontdekkingstog waar Afrika my kom soek het. Soms kan mens net iets soek sou jy weet wat dit is en ek het nie altyd geweet nie, maar deur die hele tog is dit meer asof iets my kom vind het en dus van die begin af geweet het wat gesoek word. Dis seker ook so met die dinge wat ons glo, het ons ooit regtig geweet wat ons soek, wat ons gaan kry? Tog voel ek al meer gevind in die proses waar ek ontdek dat dit waarvoor ek gesoek het nie naastenby dit was wat ek wou hê nie. Dat dit wat ek gekry het eintlik dit was wat ek nodig gehad het …

Vir iets soos agt jaar jaag die begeerte met wispelturige verlange my om die buurland te kom besoek. Soek. Toe ek meteens een oggend net na ses deur die waas van ʼn nag se bus die grensdraad tussen ‘ons’ en ‘hulle’ sien, was ek alles behalwe weggeblaas. Maar soos die verkopers in die vroegoggend deur die voertuie sypel en hulle ware wou verkwansel kom sluip ʼn land in my hart in.

Ritmies in die wieg so tussen gehuggies, bouvalle en slaggate deur spoel die kleure deur die ruite en skud en dans ons met dit tot ons saam met die kinders langs die bus hardloop en lag. Plantasies palmbome swaai heupe soms so ver soos die horison en vir iets soos R3 koop ons botteltjie-coke, van daai met die regte blik doppie.

Die uitreik deel maklik in twee, bos en see. In die bos het die span help bou en grawe aan wat ook al nodig was en so tussendeur hare laat vleg en by krane gou met die inwoners gesels. Kleuters op die heup en klam handjies om die nek het Afrika alles gedoen om harte te verower. Dit het gewerk. Tog gaan dit oor meer as dit. Die Afrika waarvandaan ons kom is soms ook donker, en in die hande wat bone en pap voorsit met die legendariese happie of twee sand, kry ons ʼn liefde wat verby taal of kleur reik.

ʼn Liefde wat waterkloofdollars nie kan koop nie en ʼn liefde wat nie vigs gee nie. ʼn Liefde wat verder as ons teologiese verwarring strek en diep in jou hart kom troon soek.

So vinnig gaan ons ongenaakbaar deur die lewe en as dinge te erg raak smeer ons nog ʼn lagie shatterprufe tint aan die ruite. Bly net buite! Ons soek nie meer nie en is eintlik bang as daar na ons gesoek word. Iewers het ons geleer dat arms daar is om jou op jou afstand van my af te hou.

My voetstappe kou rice-crispies in die gruis langs die grootpad. Ek kyk op.

Ek is alleen. Ek is nie bang nie.

ʼn Trossie huisies begroet my met kinders wat skamerig naderkom om ondersoek in te stel. Gebare-vra ek of ʼn paar fotos in orde is, ʼn soortvan-ja kom deur en die wat nie wou nie het gou iets in die huis gaan soek. Later het ʼn steenbouer my eintlik kom vra om sy onderneming af te neem. ʼn Gat en torinkieoond daarby herinner hy my aan van die ‘hooggeplaastes’ wat ek al afgeneem het, baie beïndruk met sy eie idee al verstaan niemand wat hy daarmee wil doen nie …

Ek kan nie sê of ek in die bos of by die see gevind is nie, dalk op die bus?

Eintlik hou ek nie eens van die see nie. Was dit nie vir ʼn bietjie verspottigheid nie het ek seker ook nie eens geswem nie.

(ʼn Paar mane het die een aand in die branders gedraai … hie-hie …)

Terug by die punt: Tofo sal my weer by die see uit vrye wil kan kry.

Seker meer te danke aan die atmosfeer as die uitsig oor die dam …

Amper ʼn duisend woorde later kort ek nog kryte vir dié prentjie. Soek. Ontdek ek nog my eie ontdekking. Hoe sal ek dan Mosambiek in die verbygaan beskryf? Hou op om die boeke te lees en gaan sien die plek! Kom dan terug en lees weer. Net om te sien wat jy dalk die eerste keer gemis het. Gaan weer. Herhaal prosedure.

Dan, dink ek, is jy gevind.

Kan ons na al die lees, dit wat ons gedink het ons soek, los, of selfs gedink het ons gaan kry – vergeet – en net die Man ontmoet vir wie Hy is.

Ek sien meer uit daarna om terug te gaan as in agt jaar om net te gáán.

ʼn Hele generasie het die Man wat daagliks tussen hulle was gesoek, terwyl Hy hulle eintlik deur die kruis wou vind …

Wat is erger: niemand wat jou vind nie, of niemand na jou soek nie … ek het gehoor van Iemand wat 99 sal los om een te soek tot Hy hom vind …

2008-05-31 ‘n Gedagte Onkruid

Onkruid, ‘n beautiful disease.

31 Mei … Republiekdag

Kieme

Ek is nie heeltemal seker waar ek die eerste keer van ʼn Kiembewustheid gehoor het nie, tog het ek in ʼn oomblik besef dat ek eintlik weet wat dit is en kon ek mense identifiseer wat dit het. Ek dink dit is by sommige mense ʼn siekte, onbewustelik.

Ek was nog ʼn student en dors die spesifieke dag toe ek ʼn halwe blikkie koeldrank gewaar. Voor ek maniere kon uithaal wat ek nie by die huis geleer het nie spring daar ʼn vriend uit agter ʼn bos en stop my. (Eintlik was ons besig om skoon te maak na ʼn funksie en het ons geloop en gesels.) Heh? “Maat, jy kan dit nie drink nie!” “Jy kan dalk net Hepatitis A of B optel!” Ek het seker op skool laas ʼn ”A” opgetel … Wat? Hepatitis? Ek dog mens kry dit soos vigs …

Nodeloos om te sê het ek maar dors gebly.

Soos die tyd verloop sien mens maar dingetjies raak en hoor goeters van geld wat vuil is en handvatsels van deure en natuurlik roltrappe se reëlings. Kieme is orals! Ek dink aan die laitie wat onder aan die trappe stip vir die reëling gestaan en kyk het. Iemand vra hom toe wat hy aanvang, waarop hy antwoord: “Ek wag vir my kougom om weer terug te kom …”.

Roché het my hande van die roltrapreëlings af gekry. Ek sou nie meer of minder kon omgee tot sy my eendag vertel het van al die mense met vuil hande wat aan die ding vat. Sies! Dit het my laat dink aan die heel eerste ding waaraan ʼn man vat na hy ʼn draai geloop het in ʼn publieke badkamer … Jip! Die KRAAN!

Kyk, jy kan die duiwel en sy kieme agter elke handvatsel gaan soek … Of permanent met Detol rondloop. Ek het maar besluit dat my immuunstelsel sterker as my vrese moet wees.

Toe gebeur dit natuurlik dat daar by die een maatskappy waar ek soms werk iets van ʼn sekuriteitsuitdaging ontstaan. Hulle besluit toe om die kaartsisteem af te stel en van vingerafdrukke gebruik te maak. Toé eers besef ek hoe “skoon” die kaartsisteem was. Jy ry in, swaai die kaart voor die sensor verby en siedaar alles gaan oop. Nou druk jy jou duim of wysvinger op ʼn glasplaatjie wat jou afdruk neem en probeer herken. Wat gemaak as die ou voor my besig was om KFC in sy motor te eet of selfs in sy neus gegrawe het?!

Dis toé dat ek besef hoe vuil die ou boek-en-pen sisteem was, dadelik is ek gerus gestel. Want as ek die boek-en-pen sisteem oorleef het, nie in die wêreld se gesondste mens verander het met die kaartsisteem nie, dan is die wysvingersisteem nie so erg nie.

Ek ken ook iemand wie se ma nooit vir hom roomys by een van daardie karretjies langs die pad wou koop nie, sy het vir hom gesê die man se hand was dalkies in sy broek net voor hy jou roomys uithaal en dit is net sieslik. Ek wonder of hy ooit besef het dat sy ma net nie wou geld op roomys mors nie.

Wat is kiembewustheid dan anders as ʼn oormatige vrees vir die onbekende?

Meteens klim jy nie meer in publieke swembaddens nie, want netnou het iemand anders ook daarin gepiepie, netnou is die vigsvirus nie bang vir chloor nie, netnou kry jy Hepatitis A en B.

Let mooi op, kieme gee jou siektes, keer dat jy nie effektief kan werk nie, maak dat Gesonde-Gawie jou werk kry. Dit veroorsaak op sy beurt dat jy geld bedel by verkeersligte in spitstyd. Ons moet van kieme ontslae raak want hulle gaan die wêreld oorneem! Hoe verder ons van hulle af bly, hoe beter! Dit laat my aan die advertensie van Domestos dink: “KILLS ALL KNOWN GERMS DEAD” … en die vreemdes wat doodgaan? Morsdood. Of was dit DOOM – “DEADLY KILLING ACTION”

Dalk moet ek my masjiengeweer gaan haal …

All known and unknown germs … dead. Die Sharpville wat ek nooit geken het nie.

2008-04-28 ‘n Gedagte Frustrasie

My ma verjaar en ek is op soek na ʼn DVD vir haar. Eintlik eenvoudig, ek het heel “toevallig” die een waaroor sy dol sal wees op ʼn rak in een of ander musiek winkel gesien… ek kan net nie onthou watter een nie … hiehie. Gelukkig is ek nie bang nie aangesien ek nie vreeslik deur die winkelsentrums dwaal nie kon dit net een van twee gewees het. Brooklyn wen. Op die bromponie rits ek gou net na middagete na die sentrum toe om die DVD op te tel.

Ek fynkam die rakke, vreemd genoeg is hulle anders gerangskik maar die etikette is dieselfde. Sy kyk op die rekenaar en sê verveeld: “Jammer meneer, hy’s uitverkoop.” Flip, daar was ʼn rak vol, regte winkel maar die verkeerde sentrum?

Déjà vu op die uitverkoping.

Brom-brom stap ek terug na my ponie toe, die tyd stap ook aan. Menlyn. Mens kyk nie terug as jy daar was nie, Lot se vrou was genoeg voorbeeld vir my en ek kyk ook sommer af as ek soontoe gaan.

Op pad soontoe kom die déjà vu my koggel. Dis weer daardie tyd van twee jaar gewees en ek wil dit sommer ook lys as kalenderpes van ʼn meer tegnologiese aard. Dus kry mans dit ook. Dit begin met jou biologiese klok wat jou allerhande spesiale aanbiedinge laat sien, jy staar ook soos jong verliefdes deur vertoonruite om die pryse raak te sien – net nie op soek na ringe soos die paartjies nie.

Ek het dus al redelik navorsing begin doen oor die nuwe toestel en my gunsteling ontdek. Die één wat die res uitstof as dit kom by oulike goetertjies wat my ogies laat glinster. Hy is so “op-die-kop-reg” dat ek sommer persoonlik verantwoordelik voel vir sy ontwerp, man dis mos nou my tipe foon die! Die prys het my laat hik.

Ek het toe nie lank gesoek om een te kry wat meer aanpasbaar is vir my tipe lewenstyl nie, ook ʼn oulike toestelletjie. Ek reken met die kontrak wat ek het sal ek nie té veel hoef in te betaal nie. Dit was ook nie lank nie en dáárdie kortboodskap kom van die diensverskaffer af: “Goeie dag! Dit is weer tyd om op te gradeer. Kom gerus in na ons Hatfieldtak toe dat ons jou kan help om die beste foon te kies.” Gmf, ek weet klaar, dankie.

“Hallo, um ja ek is hier om my nuwe foon te kry.” Sy sal nou met my wees.

My kontrak is steeds ʼn bietjie lig in die broek, ʼn eufemisme as ek al ooit een gesien het. Stap ek uit met ʼn boekie in die hand, bly ek kon die voordeur gebruik – het seker nie meer uitgang vir die bywoners nie.

Gooeed, kom ons ondersoek dié opsies: Die eerste helfte van die menu is ietwat aan die kindertafel en die tweede helfte vir filantrope. Die middelweg is glad nie geel nie, ek wonder of hulle al van kleurskermpies gehoor het. Dis kommunisties!

Terug op die internet. ʼn Oulike een, bietjie volksvreemd vir my smaak maar ek is jonk en bereid om kanse te vat. Na ek met ʼn paar vriende gesels het, is die vreemde soos ou kennisse en vlam my hoop weer op dat die ou nommertjie eintlik alles kan doen wat ek wil. Tweede staan die bekende fabrikaat maar met ligjare verskil in tegnologie. Ek is wel ewe gemaklik met beide se inbetaalprys.

Paraat terug by kliëntediens – ek het my NUWE foon kom haal.

Jammer meneer, hy is ge’discontinue’ … ek dog eers sy vloek my in Brits.

Afgesê tog desperaat: “Maar julle adverteer hom nog …?” Ek dink hulle het op die vorige spanbou-staaldraad-kamp-vir-poppies-in-kliëntediens die res van die gesprek by haar ingedril, laat in die nag wakker gemaak en sonder kos laat gaan tot hulle dit foutloos kon sê … wag, ek moet luister, iets van … “ons kan hom vir meneer bestel?” JA, aster! Waar teken ek?

Sy praat toe van die meer bekende fabrikaat.

Hulle gaan dink ek steel die boekies, dié dat ek elke keer druipstert met een uitloop. Internet. Het jy geweet dat jy AL die dienstakke van Vodacom in Gauteng se telefoonnommers op een werf kan kry, nogal in ʼn tabel. My gesonde rede weier toe dat ek elke tak in Transvaal bel – dis net ʼn foon.

Van Strubenstraat tot die verre ooste se Boulevard bel ek toe elke tak: “hallo, ek is op soek na die TyTN … ja!, um, nee nie nr II nie …”

Ek is nogal dankbaar vir die Telkomlyn, my kontrak is hoeka te lig … “Wat? Jy kan hom vir my bestel?” – in Brooklyn. “NEEE! Ek soek nie die TyTN II nie, kan jy EEN, nommer 1, vir my bestel??”

Ek bel toe Maandag die dame van Woodhill terug, maar hulle bergingstore het hom ook nie.

Eintlik is ek al laat toe ek na skemer weer deur die poorte van Gomorra ry, kry my betaalparkeringkaartjie en sommer ʼn goeie staanplek ook. In der haas op pad in vang my oog iets in New World se vertoonruit …

Ek was amper laat, maar met genoeg tyd om ʼn sekonde lank te kyk.

Later op pad uit bevestig ek net weer, jip, daar is hy in die vertoonvenster. “Hallo, ek sien julle het die TyTN in die ruit en …” Was dit maar die eerste keer wat iemand dit gesê het. “Jammer meneer, daardie is ʼn fopfoon ons het hom nie meer in voorraad nie.” maar? “Ja, ons kan hom vir jou bestel.” JAAA! Hoe lank gaan dit neem? “Meneer, ons gaan hom nie voor enige iemand anders kry nie.” Wat vir ʼn antwoord is dit? Goed, maar wanneer skat jy sal julle die TyTN kan inkry? “Laat ek gou vir jou kyk.” Die Lamaze klasse skop gou in, ek tel mooi en haal diep asem.

“Meneer, ons kry die TyTN II seker in dié week nog in.”

Nodeloos om te sê het ek myself skaflik verskoon.

Ek sal maar die getroue en bekende fabrikaat neem, ek was nog nooit met enige van sy voorgangers teleurgesteld gewees nie.

Hatfield op die lyn. “Jammer meneer, ons het nie voorraad nie …”

Na ‘n flinke besoek aan die werf waar ek elke 012 op die lys al gebel het spoor ek hom in Brooklyn op. Ek stap Vrydag uit met ekstra geheue, ‘n sakkie en al. Nogal hulle laaste een ook.

Intussen het ek ‘n lewendige opname, so die 16 uur laai van die battery gaan stil-stil verby. Teen Sondag flikker die skermpie aan. Oulik. Hy vries drie keer in ʼn ry. Internet toe. Opgradeer en installeer als wat nodig is.

Déjà vu.

Die TyTN is nog steeds in die vertoonvenster, maar dié keer loop ek verby. By die groot CD winkel aangekom staan jy in die ry voor jy iets soek, want die ry loop by alles verby. ʼn Gawe dametjie help my om die DVD op te spoor. Nie die winkel waar ek hom oorspronklik gesien het nie – darem dieselfde prys.

Weer tuis lyk dit of ek die Trojaanse Durban July* wen toe my nuwe foon lui.

Vodacom Kolonnade: “Meneer, ons het die foon waarna jy gesoek het …”

Ns: Kolonnade het toe die foon waarmee ek die oproep geantwoord het, maar nie die TyTN een nie.

* In die tussentyd het ek ʼn virus op my rekenaar gekry, soos die film waarin Pitt speel, het dié ou perd van Trojaanse aard gulhartig ʼn week lank vir my en ʼn paar jagprogramme gelag.

2008-04-23 ‘n Gedagte Rugby

Die skare juig! Tannies skree van die paviljoene af “Vat hom Buksie!”. Omies gooi nartjies terwyl hulle dogters vir die vleuels loer. Dis ʼn warm dag laat in die seisoen en die gemoedere loop hoog. Maar wie gaan wen? Die skeidsregter blaas geen fluitjie, die lynregters dra ook net die vlae rond … Tog bly die spel verslawend, jil die skare voort en rol die aksie eers na die een en dan die ander pale.

Steeds geen fluitjie.

Titanies druis die spel, ʼn losgemaal en daar neuk die een die ander … wat?! Geen fluitjie? Die bal is weer aan die beweeg maar nou is die ander span op die agtervoet – ons het hulle tot ʼn verdedigende spelpatroon geforseer. “Haak hom!”

ʼn Man bly lê, siestog, dit moes seer gewees het … geen fluitjie … geen rooi kaart …

WAAT??? Die skare protesteer vergeefs. Oom Jan raak sommer die hoenders in … “WAT!? Hulle speel net voort?” Ongemaklik bedaar die skare, die een ou vat sommer sy goed en loop.

Ek dink as ons die lewe met ʼn rugbyspel moes vergelyk, sou dit dalk só gewees het. Op ʼn manier ken almal die basiese reëls, is daar een of ander aanvoeling vir reg en verkeerd. Daar is net een ding wat ons buite rekening laat: die reëls is onderworpe aan ons vrye wil, d.w.s.: geen fluitjie.

Goed en mooi, maar wat van as die bloed begin te spat? Dan kan ek mos vorentoe aangee, hoogvat, gevegte hê en voordeel trek uit die pandemonium? Ja, jy kan. Maar wat vir jou tel, geld ook vir die ander, so jy kan ook geslaan en gevaarlik geduik word. Foeter jy iemand in die losgemaal, kry die perd se kamerade jou terug of stap hy op jou af en klap jou dat jy dááár trek – geen fluitjie.

Die skare kreun mismoedig terwyl tokse ʼn rug oop trap. KEN die skeidsregter dan nie die reëls nie? Reg voor hom lê die knaap nog steeds. Die spel gaan voort – geen fluitjie. So asof die Skeidsregter omkyk: Gaan julle dit toelaat? *

Ek is nie juis ʼn swemmer nie behalwe as dit by plaasdamme en riviere kom dan sal ek speel omdat dit lekker is, maar om my te kry lengtes in ʼn swembad doen – dis ʼn ander ding. My broer het vroeër dié jaar (vir die eerste keer!) die Midmar Myl geswem. Ek was nogal beïndruk en is nog steeds trots op hom.

Swem is ʼn alleending.

Jy gesels nie sommer met jou spanmaat so tussen die hale deur nie, jy moet fokus, reg asemhaal en elke beweging ritmies in orde hou. Wel, so verstaan ek die storie. Dis dalk meer hoe die lewe is, soos die Midmar Myl – ook net sonder ʼn fluitjie. Ek reken daar is seker in elk geval nie ʼn fluitjie in dié swemstryd nie.

So, wat is die storie van die fluitjie? Maklik, dit wil vir my voorkom mense wag dat een of ander skeidsregter sy fluitjie gaan blaas en die stoute maatjies van die veld af stuur – nogal met ʼn rooi kaart! Helaas gebeur dit nie en nou raak ons befoeter met die Skeidsregter? Kan Hy dan nie sien die knaap in Zim is bo van sy trollie af nie?!

“ROOI KAART!”

“… en dankie vir ʼn warm bedjie en kossies elke dag … um … amen.”

Dis hoekom dit dalk meer soos swem is: met die Myl vind jy eers uit hoe jy geswem het sodra jy uit die water klim aan die ander kant. Hoe jy eindig weerspieël hoe jy geswem het. Hoe jy en jou Afrigter jou voorberei het is waar die Myl gewen word.

Geen rooi kaarte of fluitjies gaan jou spelpatroon “onder beheer” bring nie, jy gaan net swem. Ná die tyd sal jy en die tegniek van jou swemkuns beoordeel word (as nie versuip het nie – ed.)

Soms is daar ʼn paar rugbywedstryde sommer in die dam, kere waar ons saamstaan en as ʼn span die stryd betree. Kere waar ons as skare opstaan en vir geregtigheid skree, nie soos sommige Saterdae waar 15 teen 16 speel nie maar waar – omdat ons die reëls ken – ons die hande van die Skeidsregter word, maar soos swem kom die oordeel eers aan die einde.

Stories op ʼn stokkie.

Ek dink dat dit dié week eers vir my begin sin maak: Dit wil voorkom dat sommige van die Geloof mismoedig raak as rampokkers die spel vir hulle self wil neem. Verslae wag ons vir die fluitjie … maar dit bly stil.

Verlange oë staar na die Skeidsregter en skaars hoorbaar prewel ons verbete lippe … Soos Job, in sy sak en as, vervloek ons die land en selfs ook ons geboorte.

“MAAR ÉK SPEEL DAN VOLGENS DIE REËLS…!?!?!”

… tevergeefs? …

In dié rugbyspel blyk dit of die ander span sou wen, maar dis swemreëls dié …

Die laaste horing blaas en nou eers tel die getalle stadig op die telbord saam. Ek wag nie angstig nie want die ure in die water saam met my Afrigter het my genoeg voorberei. Snaaks hoe die reëls waarvoor ek gewag het die skeidsregter moes fluit, wat ek gedink het vir my punte op die bord sou bring nou leeg lyk. Dit was eerder in die water toe ek reg moes asemhaal wat hulle my gehelp het om effektief te swem, my vorm te hou. Van las tot strategie. Tog probeer sommige die reël in sy ywer ʼn skeidsregter maak wat vir hom as advokaat sal staan.

Ek kan nie genade en my voorspoed met Sy wette verdien nie. Maar met my spanmaats swem ons soos ʼn golf teen die vyand uit. Nie meer staan ons die paviljoene vol en wonder oor die telling nie, ons praat met die Skeidsregter en roep die makkers na die water toe. Dis nie ʼn geveg teen vlees en bloed nie.

Ek dink aan daardie oomblik toe ʼn potskerf weer so oor die rowe krap … “venynig dié jeuk!” Maar meteens dop dit af … dop?

Dis stil voor iemand praat:

Toe het Job die HERE geantwoord en gesê:

“Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.” **

* Jes. 59:14 & Ese. 22:29-30 & Mat. 16:19

** Job. 42:1-6 AOV

2008-03-17 ‘n Gedagte Alleenmandaat 2.3

Ek het probeer. Dié is die derde probeerslag tot ʼn Gedagte waarmee ek in ʼn opvolg tot “Alleenmandaat” van die terugvoer wat ek gekry het, wil aanspreek. Dit mag dalk na ʼn té kort antwoord klink, maar sonder om ʼn jong tesis te skryf wou ek net ʼn idee gee tot die goeters wat roer en ek wou graag binne die perke van die Gedagtes hou.

Ja, as jy nog nie “Alleenmandaat” gelees het nie gaan die res van hierdie Gedagte jou moontlik ʼn bietjie verwar.

Een terugvoer wil ek met julle deel:

Vraag is hoekom dit so is.

Die Jode en Moslems glo jy moet die regte ding doen om in die hemel te kom. Christene glo jy moet die regte ding glo – dubbele glo!

As mens sê dat glo is om jou hoop te stel op iets wat moontlik nie waar is nie (lees dit ʼn paar keer voor jy my hieroor aanvat) dan maak “die regte ding glo” dit nogal vir mens moeilik. As ek dit rêrig, rêrig glo (party mense sê “ek weet dan”, maar dan is dit nie meer geloof nie, maar kennis), dan wil ek kerk toe gaan uit dankbaarheid (dankie Calvyn). Maar sê nou net ek glo net ʼn bietjie, dan moet ek eerder ʼn paar goed doen, want dan lyk dit darem of ek glo, want as ek nie glo nie gaan die gemeenskap (van die gelowiges) my weggooi en wie gaan my dán begrawe?

Ek stem saam, lees dit eers ʼn paar keer en dink mooi voor jy reageer.

Ek het.

Dit het my aan ʼn gesprek oor die internet herinner waar ʼn vriend van my in ʼn debat gewikkel was en my toe genader het om uit te help. Sien, die ander party het gedink God was onregverdig om vir Adam en Eva te staf vir wat hulle gedoen het. Jip, slaggereed het ek my beste roere uitgehaal en ʼn goeie verweer geloots.

My vriend het daarop geantwoord: “… die probleem kom in wanneer jy net van die ander kant die saak kan benader (vanaf buite ‘n verhoudingsperspektief) …” Aldus, hoe verduidelik jy vir ʼn dowe persoon wat ʼn simfonie is?

ʼn Godsdiens. Georganiseerd om ons lewens te organiseer … ?

Op die trappie voor in die ouditorium. Dis stil.

Hier en daar het die mense goeters vergeet of net agtergelos. Ek weet dit want tussen die banke lê sleutels, notaboekies en selfs Bybels. Een het terug gekom, ʼn bietjie tussen die stoele geloer … haar gesig blom en sy trippel tussen die rye deur, tel die sakkie op en huppel uit. Weer is die ouditorium stil.

NEE, stellig nie. Die bordjie af in die straat is al verroes, jy weet, daai een wat “STILTE: KERK” gesê het. Hoekom ons Hom nog op enige ander manier probeer voorstel as in terme van ʼn verhouding verstaan ek nie meer nie. Hoekom dit stil moet wees weet ek ook nie, Hy sluimer mos nie? En die elemente het dit mooi vir die bordjie geleer.

Ek dink nie dat dit dubbele glo is nie. As ek die geskiedenis reg verstaan, het ons maat Mohammed kontak met beide Jode en Christene gehad. Hy was iets soos ʼn handelaar en het redelik rond getoer. Gedurende een van daardie reise het hy ʼn Christen-kluisenaar leer ken. Dalk sou ʼn gemeenskap ʼn groter indruk gemaak het. Hy het ook maar soos Gandhi seker ʼn wip gevang met die christene en jammerlik HOM nie leer ken nie. Ek het nog altyd gedink dis makliker om vir mense reëls te leer as om insig op een of ander manier by hulle in te skerp. Ek dink dis hoekom hy seker aanklank by die Jode gevind het en toe sy wettiese lewenstyl geskep het wat ander wil (?) volg. Jy weet, daai een waar jy nie één diens mis nie, bid en lees en soos enige goeie besigheidstransaksie verdien jy iets aan die einde van die dag. Geen wonder die Jode en Moslems kan so geld maak nie …

Ek kan nie verhouding hê met reëls nie, ʼn wet “my liefie” noem nie. Daar was ʼn geleentheid in die woestyn, langs die berg Sinai in die OU TESTAMENT waar DIE EEN WAT ALLES GEMAAK HET, Sy volk nader geroep het en met hulle ʼn ONTMOETING wou hê. Hartseerstorie kort: “Spreek u (Moses) met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons …”

Hulle bly toe maar op ʼn afstand. Net soos die outjie daar oorkant op die dansvloer bang is om die meisie vir ʼn rondte op die vloer te vra. Kyk hy op ʼn afstand, niks nader aan ʼn verhouding met haar nie …

Die trappie is hard. Die skil van ʼn leë lokaal oorweldig my. Híer is niks nie. Weet ek, vra ek, pleit ek … bewonder ek.

So hoekom kom ék nog? Maklik. “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ʼn psalm of ʼn lering of ʼn taal of ʼn openbaring of ʼn uitlegging—laat alles tot stigting geskied.”

Want nie net staan ek in verhouding met die Skepper nie, maar ook met die skepping. Skaar ek my dus nog by ’n gemeente, waar ek nie meer kom om aan te sit vir spys en drank nie … nee, ek wil nou na die kombuis gaan waar ek iets kan voorberei sodat wanneer mense kom om met die Skepper te ontmoet daar ’n maal sal wees om te nuttig. Want sien, Hy klop mos nogal aan die kerk se deur in Openbaring 3:20.

Dis ʼn verhouding, nie ʼn organisasie nie. Dis ʼn vriendskap, nie net bloot ʼn hoop nie.

Staan ek by ʼn roudiens, sy kom oor na die happie tafel en kry ʼn koeksister. Dit was die eerste keer in baie jare dat sy in ʼn kerk was … mense het seker maar nodig om in iets te glo … jy weet, om hoop in iets (?) te hê … nie sý nie.

HY kom aangestap, sit langs my en kyk ook uit oor die leë stoele.

“Kom ons gaan na jóú huis toe …”

Post Navigation

%d bloggers like this: