die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

2007-05-05 ‘n Gedagte (nr een van drie)

Dis alwéér winter. Behalwe vir die blare-ding wat verby is en die onwilligheid om op te staan is winter soms vir my ‘n groter aanduiding dat seisoene verander en nog ‘n jaar verby is. In die helderheid van die lente en die somer draai die aarde nie vir my in tyd wat verloop nie. Selfs die herfs is soms net ‘n romantiese gedagte in skakerings van bruin, geel en helder oranje.

Ek dink ek het dié jaar se herfs gemis. Soos iemand wat jy in ‘n oorwink sien verskyn en verdwyn was dié herfs ‘n geliefde met wie ek nog wou praat maar in die losgemaal net ‘n ‘hello’-kyk van kon kry. Die “aand” is verby en al wat oorbly is blare wat soos rommel na ‘n partytjie rondlê. Die wêreld word ‘n leë dansbaan waar die blink konfetti van die vorige seisoen sy glans verloor het en nou vuil op die vloer lê.

Die vorige seisoene se lewe raak skugter en skuil in die herberg van kaal bome en in die beton-oerwoud skarrel elkeen na sy poshokkie toe waar ‘n bietjie warm-en-knus hom kan beskerm van die koue, … en die leed?

Sien, die herfs is amper soos ‘n voorbehoedmiddel wat keer dat die winter ‘n verrassing is – al kom die winter nogsteeds, anders as met voorbehoedmiddels …

Dan is die herfs seker eerder soos ‘n swangerskap. ‘n Tyd waar dinge stadig verander, waar verwagting letterlik daagliks groei en die ongemak wat jy beleef ‘n inleiding raak vir die opoffering wat jy nog gaan maak. Dan baar die nuwe seisoen sy volle implikasie en meteens stort jou vooropgestelde wêreld in duie as realiteit sy pond vleis kom haal.

Nou, voor die slapelose nagte en die donker-wakker-ure ‘n tronk word waar die tyd van jou vergeet en die dag-en-nag-en-vroeë-môre jou laat sidder en beef. Weet dit. Die winter is ook net ‘n seisoen. Die pokkel word ‘n peuter en ‘n kleuter en ‘n kind en die eindelose nagte begin weer die toe-oë van jou siklus vind.

Die winter baar soms kinders wat na jare eers die wêreld in sy volheid wandel. Die ongemak en onrus wat onvermydelik jou kom ‘hael’, is ook net ‘n seisoen. ‘n Seisoen wat noodgedwonge kom, en weer gaan.

Dit is hoekom die herfs vir my belangrik is. In haar romantiek kom fluister sy saggies die waarheid in my oor, maar ook die hoop. Dans sy ‘n laaste skoffel saam met my voor haar lyf my teen die einde van die aand koud laat. Sy word die liefde waarna ek verlang.

Maar die herfs is meer as net die voorloper van ‘n koue leë tyd. Meer as net ‘n verlore liefde en meer as die rooi sinjaal wat verandering aankondig. Herfs is die sterfkreet van verganklikheid, die laaste uitroep van dit wat net ‘n seisoen lank hou. Dít is dan ook die verskil tussen ons en seisoene.

Ons hou langer.

Herfs raak die oproep na die skaal – winter – wat kom weeg of dit wat ons geleef het ook langer as die seisoen gaan hou …

Herfs is ‘n vriendin wat ek altyd wil ken, die vrou met wie ek my lewe wil deel, die aanslag waarmee ek wil leef en die ywer waarin ek die wêreld wil bewandel. Herfs is die waarheid van dit wat oorbly, en die uitdaging vol in my gesig. Herfs is die kind wat ek wil hê maar ook die ouer.

Nader as ‘n soen wil ek haar ken, maar beter as my gisters haar onthou, want herfs is ook net ‘n seisoen wat kom in die rooidag en verdamp saam met die dou.

Voor dié winter my kom weeg en die koue my totaal uitklee, gaan ek eers ‘n bietjie herfs hou. ‘n Oomblik neem om die dou te waardeer voor die ryp kom versteen.

Herfs, soos die nag in die tuin. (Getsémané)

Ontroerd, maar verwagtend.


2007-11-12 ‘n Gedagte Pantoffels

Dis weer troukoors in die kontrei en behalwe vir die gewone gang van seremonies wat ek vir ʼn ekstra inkomste bywoon, begin ek al meer van die knoophakers ken.

Natuurlik kyk ek al lankal self ʼn bietjie rond, maar in my roer kom geen gedaante op nie. Behalwe vir die ritsel in die gras en oomblik op die horison het die jagtog nog geen sukses getoon nie. Persoonlik is ek ook nie ʼn bakkie-jagter nie, nee, van loop en bekruip is ek gemaak, so die gebruik om Vrydagaande met die skietlampe en koelbokse te gaan trofees jag is nie juis deel van my ideale ekspedisie nie. Vir die rekord en uit die ondervinding wat ek het, is troues as sulks glad nie die tipe opskop waar jy met jou roer opdaag nie, dis soos om by ʼn spitbraai op te daag met ʼn tollie aan die leiband …
(verskoon tog die vergelyking –ed)
(ʼn Nota vir die stadsjapies: tollie =s. Jong ossie)

Wat dan gemaak as die ruggie in die nagte koud bly? As daar net een stel slippers langs die bed staan?

Ons het altyd van ‘sweeties’ gepraat en eintlik is dit ‘lekkers’, ek het toe vir amper dieselfde rede gaan kyk of ‘slippers’ net dalk nie ook ʼn Afrikaanse woord is nie, stellig nie, dit heet pantoffels. Gewapen met die regte taal was ek gereed om soos die Mite Polisie uit te vind wat dan nou in dié Pantoffels steek.

Soos meeste goeters uit die volksmond is daar seker ʼn storie agter elke rympie. Ek het al agtergekom dat goeters wat rym mense laat dink dis waar of selfs wet, een ‘sêding’ wat ek aan die kaak wil stel is “sy kan maar haar pantoffels onder my bed kom in skop …” (daar is variasies op die tema).

Daar mag dalk by sekere mense die verkeerde indruk opkom. Dit is byvoorbeeld nie vir my dieselfde as die klassieke fliek-dubbel-betekenis wat die uitnodiging om “gou in te kom om koffie te drink”, het nie. (Dis veral verwarrend as hulle vroeër die aand juis in ʼn koffiewinkel ontmoet het … –ed) Ek het ʼn langer termyn van verbintenis gekoppel aan die hele pantoffel-ding. Tog dink ek dat ek dieselfde uitdaging beleef as sekere kulture toe die Westerse samelewing gekom het met hulle reghoekige beddens, vierkantige kaste en stowe. Hoe gemaak as jy jou bed teen die muur wil vas stoot, as die muur rond is … halfpad deur die nag het die kussing in daardie halfmaangaatjie ingeval, dêmmit.

Wat gemaak as my bed se basiseenheid amper aan die grond raak, dus is daar nie plek onder my bed nie!? Dadelik dink ek aan my ouers se bed en waaragtig staan hy op pote en is daar plek vir pantoffels en ʼn trompet. Ek sal iets moet doen as ek wil plek maak vir daardie pantoffels.

Voor ek verder gaan sal ek net graag ʼn oomblik wil neem om aan te kondig dat die Gedagtes nou al vir ʼn jaar aan die gang is. Vir die wat al vergeet het en die wat nie weet nie: “ ʼn Gedagte” is die venster wat ek oopgemaak het aan die einde van verlede jaar na die letterpret wat ek soms beleef. Dis iets wat teen daardie tyd al vir lank stem gesoek het, tot een aand in die geselskap van vriende met ʼn lekker Jazz orkes in die agtergrond ʼn uitlating gemaak is en iemand gevra het dat ek dit vir hulle aanstuur met ʼn epos.

“Dit is tyd dat ons onmisbare oomblikke, onvermydelik, ráák moet leef …”

Raakgeleef.

In die begin het ek ingeloer by Skype gesprekke en geselsies om tafeltjies Jazz, groot kuiers op soek na die antwoorde van die heelal en selfs net die eenvoud van ʼn glasie tonic (dis nou die “T” sonder die “G” …).

Terug by die pantoffels onthou ek hoe as jong seuntjie ek een vakansie ʼn tand getrek het. ʼn Ander legende van die pantoffels het sy kop hier uitgesteek, dié van die tandemuis. Mens moet dié legendes nie sommer ligtelik benader nie, ek het ook nie, die tandjie is mooi geborsel en in die pantoffel gesit.

Alles was reg en in hul plek toe ek gaan slaap daardie aand, die muisie moet tog net die rotgif op die plafon misloop …

My oë was skaars oop toe ek die munt sien blink in die haak van die pantoffel. “YESss! “

Ek kan seker nie namens my voorgeslagte praat nie maar iewers was daar seker ʼn Jood gewees … minute later is dit ek, my pantoffel, die logika van ʼn laaitie en ʼn 5c muntstuk, paraat.

Muise (Mus musculus) is sekerlik gebiedsgebonde of so iets (ek dink ek het dit op TV gesien of by iemand gehoor wat dit in die Huisgenoot gelees het), so as ek my pantoffel in ʼn ander deel van die huis gaan sit en die 5c sit waar die tand was …

ʼn Verskeidenheid van faktore maak dat ek nie die volle detail kan onthou nie, die punt is dít: dat deur watter meganisme dit ook al gebeur het, het ek daardie dag geld geruik en die arme muis twee of drie keer kon oes voor die fontein in my pantoffel opgedroog het. Ek was ligtelik ingenome met die ‘feit’ dat ek kan GELD MAAK UIT MUISE! (al was dit net dié één dag en met die klein belegging van ʼn uitval tand …) ʼn Meevallertjie nie te min en raakgevat!

Ek soek nie meer geld uit leë pantoffels nie, maar eerder ʼn paar voete.

Ek is gefnuik: daar is nie plek onder my bed nie en die pantoffels staan verlate aan die voet-en-ent. Dalk gaan dit glad nie eens oor die pantoffels nie, dalk het daardie muis my net gespeel vir nog ʼn tand en toe hy aan die einde van sy kanse kom besef my glimlag gaan nêrens heen nie (of iemand in die huis se kleingeld was op?).

As dit dan nie in die pantoffel steek nie?

ʼn Gedagte wat lank gesoek het na sy ink en pen vind meteens ʼn groter waarheid uit. Dit ís nie in die pantoffels nie, nie in die wag en loer nie, nie in die blinde kuiers of skietlamp ekspedisies nie …

“Dit is tyd dat ons onmisbare mense, onvermydelik, raak moet lééf …”

2007-10-27 ‘n Gedagte vol los gedagtes …

Die afgelope tyd was nogal interessant. Daar was tye waar ek die son sien opkom het, waar ek saam met die nag se laaste mis die slaap uit my oë gevee het. Tye waar die nag soos die pad voor my net aangehou het. Stryders onder die storm het ons van ‘A’ na ‘B’ gejaag, soos perde in die voorste linies amper ongeteuel om die pas te stel maar met waansin in die oë wat weet die oorlog kom!

Wat weet daar is geen omdraai meer nie.

Tye waar ek gehunker het na die ink, my digitale blad en veer om vlerke aan my gedagtes te gee. Gedaante aan die vloed van lewe waardeur ek soms sleur, soms sny en soms die spanning van die water ry.

Partykeer wil ek skryf
Só dat ek dit amper
Kan voel, kan proe
Kan ruik hoe die
Bloed uit my gebarste
Lip loop

Ek wil my woorde wees
Letterlik my siel
In hulle grein laat loop
Dan kan jy dalk daar
My spore vind
En iets beleef van wat ek
Droom as kind …

(nota: Die vorm is as gevolg van die langwerpige papiertjie waarop ek geskryf het, ek was op pad Brooklyn toe, dit het Donderdag redelik gereën en ek moes gou hardeskywe en ander toerusting gaan aflaai. Dit was al na 9nm. Ek het waaragtig my dagboek by die huis gelos en kon net ʼn brandstof strokie in die hande kry, darem het ek ʼn pen gehad.)

Tussen die gewone spoel van goeters het ek mense afneem wat soms probeer belangrik klink en walglike woorde soos “auspicious” gebruik … net soos die vorige drie ander mense en waar die gehoor amper ʼn merkbare “ooh” en “aaah” gee gevolg deur daardie ongemaklike stilte waar hulle probeer uitwerk wat dit dan nou EINTLIK beteken. Die spreker hou lustig aan met sy gotiese verwerking van iets wat seker in die Sarie gestaan het.

Teen dié tyd het die gehoor lankal opgehou om te wonder wat die ‘leenwoorde’ beteken. Immers praat ons almal maar net kombuis-Afrikaans en aksént-verwardé-Engéls.

Tussendeur dít het ek na die Universiteit gegaan en studente se opinies afgeneem. Ewekansig.

Ek beveel dit aan.

Ek beveel dit aan want jy is ongeken en die persoon met wie jy praat is onbekend. Dis veral lekker wanneer iemand naby jou gaan sit, ek het hulle net uit die hoek van my oog gesien terwyl ons besig was om met die huidige kandidaat ʼn onderhoud te hou. Hy lyk rof en die meisie sal jou seker mooi kan vertel … ek dink hulle is Engels. Ek WíL met hulle gaan praat …

Dan is dit soms verbasend wat mense bereid is om vir jou te sê terwyl jy ʼn kamera in hulle gesigte het. Dan het ek ook al ‘belangrike’ mense sien hap na woorde en wonder wat om volgende te sê.

Sal die roetine van elke dag ons insluk en in die regte boksie uitspoeg? Sodat die groter kubus vierkantig in die niet kan hang terwyl daar na die volgende boksie gesoek word?

Partykeer as ek begin skryf is
daar net niks. Behalwe die stilte van
ʼn blinde stuk papier en ʼn pen wat kwyl,
angstig om sy ink in verhale
te borduur.

Partykeer as ek begin skryf
Bars ʼn oorlog los
Moet ek koes vir koeëls
Letters wat swets
En paragrawe gemors.

Partykeer as ek begin skryf
Dek my pen tafel net vir twee.
Wil ek skryf, wil ek hoor
Wil ek lees, wil ek plekkies in my hart
Vir die woorde maak, gaatjies waar
Ek hulle weg kan steek …

(nota: Weereens op die stuurwiel geskryf, op pad terug in hoog spitsverkeer van Sandton af. Die son wil sak, ek wil by die huis wees, maar nie een van ons twee gaan nou ons sin in kry nie …)

Ek dink dit was in Shoshanguve. Die een oomblik is daar huise en die volgende oomblik volg ek die motortjie voor my na die hek van ʼn erfie waar daar net ʼn bruin verroeste sinkhuisie staan. Dis Sondagoggend en ek is in Afrika. Daar is ongelyke grondpaadjies met hier en daar iemand wat verby stap. Ek kan hoor hoe nie te ver in die buurt af nie daar vurig kerk gehou word. Meteens is ek terug in Noord-Namibië. Net suid van die Angola-grens het ons ook in ʼn sink kerkie gesit. Jy kon soms in die nag selfs skote hoor. In die oggend was Afrika op die stoep, het sy pap gemaak, mopanie wurms en vissies uit die poele water langs die pad. In Zambië het ons tussen die sakke mielies wakker geword, amper asof die oomblik te groot was om te mis het die haan lankal begin aankondig. In die donker het die skadu’s en silhoeëtte gewaak totdat die son hulle eers lank maar stadig uit die weg kom kleur.

Daar is nog. En nog steeds te min.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kinders se klam handjies
In die oggend, as ek kaalvoet
Oor die gras gaan stap.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar dae wat soos ʼn
Vuurherd brand en eindig
As ʼn Pêrel in die
Roet kom lê.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kaja tussen die kakiebos
Haar liefde wat my hart opdroog
Haar drome wat ek vir eendag los.

(nota: Ek onthou soos gister een dag toe ons gaan water haal. Daar was net een kraan in die area. Agter op die waentjie was twee 44 galon dromme, die paadjie was vol gate en plasse water en ek het versigtig met die Toyota Venture hulle probeer mis ry. By die kraan gekom het ons begin om die drink- en kookwater in die dromme te tap. Die son het in ʼn hemelbed van rooi en geel gesak. Dis toe wat ek onthou hoe ek menigte male in die wiskunde- of wetenskapklas gesit het en gewonder het hoe dit sou wees om nou iewers in rou Afrika goeters te doen. Spilpunt-swaai.

Ek wonder nie meer nie.)

2009-06-22 ‘n Gedagte_Leef

‘Terminator’, ‘Matrix’, ‘Equilibrium’, en as jy regtig lus is sal ‘Planet of the Apes’ op sy eie manier ook aan dié kriteria kan pas. Eersgenoemde het ek onlangs gesien en ʼn sinnetjie iewers in die dialoog het my aan die ooreenkomste laat dink.

Menswees.

Ons probeer met ons realiteitsprogramme dit seker ook op ʼn manier raakvat, die logika is net vreemd (tog maak dit sin?). Ons kyk na ander mense … hoe hulle probeer om régtig te wees wie hulle is, of te wel, wat die mense om hulle wil hê hulle moet wees. Dalk laat Jerry Springer ons net beter voel oor ons eie mal lewens wanneer sy gaste hulle afwykings paradeer. Net daar voel ek beter oor my sonde, want iemand anders se lewe is veel erger. Nee kyk, hulle doen dinge wat mens nie eens in slegte geselskap kan herhaal nie. Of so hoor ek. Nee, ék het dit self nog nooit gekyk nie. Jy sien, my suster het ʼn vriend wat iemand in die Kaap ken en hulle bure het dit eenmaal gekyk en ons alles daarvan vertel …

Stories om die kampvuur kom al van die oertye af. Die grot het nou net in ʼn voorkamer, en in sekere huise, ʼn hele aparte TV-kamer verander. Ek onthou nog hoe ons as kinders by die huis sou aankom, die voordeur oop vergeet, en my ma dan sou vra of “…iemand in ʼn grot groot geword het.” (Eintlik het dit niks met die punt van dié gedagte te doen nie …)

Ons probeer definisie kry vir die menswees wat ons beleef of wil beleef. Die illusie wat die media tot nou vir ons voorgehou het, is net nie meer na smaak nie. Nou soek ek realiteit! My oë is moeg vir die goeters wat my hart net nie meer kan glo nie. Nou wil my kop dit hê en my lyf … my lyf soek sy stimulante, kleursels en suiker.

kliek

Een of ander ster se lewe val op die skinder-kanaal uitmekaar en ek voel versadig na dié maal. My realiteit syfer al hoe meer deur die planke, kalklig en simfoniese harmonie as die held op die toneel verskyn. Nee, dis nie waarheid of eg nie. Dan kies ek eerder ʼn ander kanaal waar die tannie haar man slaan, die span vir ses nulle op die eiland uitteer, of waar ek kan sien hoe hulle iemand se gesig smelt en nuut maak.

Dis die moderne wêreld. Jy kan enige iets op daardie kas laat verskyn en heeldag daarna kyk. Want sien is glo.

kliek

Flip, ek haat advertensies. Sal eerder iets op die betaal-kanaal kyk as wat ek so deur die film moet hakkel.

kliek

Terug by my realiteit wat teen dié tyd soos ʼn sproetgesig seuntjie eenkant sit, onvergenoeg in sy eie vel want die kassie het hom vir homself verveel. In ʼn flikkering is wie hy is en dit waaroor hy droom net nie meer goed genoeg nie. Pas hy nie meer in sy eie belewenis van dié lewe nie en word selfs sy aanraking met die wêreld verdruk deur perke wat voorheen nog geensins bestaan het nie. Op die man af los hy sommer sy meisie wat nie naastenby meer opweeg met die silikonpoppies van die kassie nie en sy werk is ook nou sommer sy dienste kwyt.

kliek-kliek-kliek

Die kanale laat my suf.

Spoel bloeddorstig die een slagting na die ander in my sintuie af.

Die beelde sink in ʼn ‘ghonk’ weg tot net die swart skerm oorbly. Is dié dan realiteit? Alleen in ʼn donker kamer met net die videomasjien en DSTV se liggies wat brand. Sooibrand slik die onvergete beelde weer deur my gedagtes en herkou elke flikkering weer voor my geestesoog. Dors soek my oë nou die prentjies elke dag, verdoof sien ek nie meer die lyke langs die pad lê nie, hoor ek nie die sirenes wat om my skril nie en mis ek nie die karakters in my lewe nie. Mense raak vervangbaar, en soos die spelers in die stories sinneloos afgemaai word, val vriende en familie net weg tot ʼn inskrywing in die kredietrol.

Moeg vir die mense om my, maak ek nog ʼn skerm oop. Blink sy lig oor die letters waarmee ek op jou muur kom skryf. Pleister daar foto’s, boodskappe en ander onsinnighede op die kaleidoskoop voor jou en looi ek my hart vir jou uit tot net die droë leer oorbly. Goed vir skoene.

Menswees.

Meteens ʼn geveg waardig.

Bar verwarrings van dié konsep walg die sensoriese en pornografiese mishandeling wat gewone mense elke dag moet deursif. Iets soos kleefplastiek film in ʼn lagie oor die voelers wat andersins ons aan die elemente van realiteit sou blootstel. Nie langer wil ek van die wêreld af wegskram nie, maar wil ek voel en weet waar die reën inpas.

Dit kan nie vir ewig koud bly nie. Jou hande kan my nie vir ewig uitlos nie. Iewers in ʼn stadium gaan daar weer blomme uit die dor verskyn. Regte blomme wat jy kan ruik, lief hê en oor kan treur as dit verlep. Sal die son weer brand en die nag korter as dag wees.

Sal jy haat, liefhê, die foeter in raak… en vergewe. Omdat dit alles saak maak. Sal jy voel wanneer jy brand en sal jy naalde weier wat seer wil blind maak. Sal jou hart weer kan pyn en bons en ophou doof wees vir die pulse wat roer.

Menswees gaan oor meer as dierlike instinkte. Meer as die verdowing wat ons so verslind en die versugting wat ons wil voer. Dit gaan netsoveel oor die pyn as wat dit oor die lag gaan, oor die stukkend en die heel. En as alles wil stil raak voor die geraas van storms dan gaan dit oor die afwagting, die vrees en die sug van verligting! Dit gaan oor God, die duiwel en elke dag se tef-en-teem wanneer ons soos Job, en selfs erger, wil skree, vloek en wens om dood te gaan.

Stig klank in die stilte, skud sodat iets kan beweeg en lui jy die klok na pouse sodat die volgende ronde kan begin. Maar voor die kakofonie jou gemoed oorrompel … leef.


2009-02-25 Stofpad Gedagte_07 Rustig

Waar gaan mense dood?

Dalk moet dit eintlik ‘wanneer’ wees?

Daar is hierdie vraag wat in filosofie gevra word dat “as ʼn groot boom in ʼn bos iewers omval, het dit gebeur as jy dit nie weet nie?” (geparafraseer)

Gaan iemand nog dood as jy dit nie weet nie? Gaan hulle vir jou eers dood wanneer jy dit uitvind? Gaan hulle nog dood solank iemand nog van hulle bestaan kan onthou?

Ek sou die gedagte net daar wou stop.*

Dankie dat jy gelees het.

Groete

*Dit is seker die kortste gedagte wat ek tot nog toe geskryf het, ek het wel gevoel dat ʼn nota onderaan die bladsy dalk net sou help om die prentjie beter in te kleur, al is dit net in skakerings van swart.

My ouma is vandag 25 Februarie 2009, tien voor nege in die oggend rustig in haar slaap dood. My selfoon het agtien minute na sewe in die oggend die swaar boodskap aangedra. Iemand het vóór dit bespeur dat sy nie meer die las van hierdie tydelike tent dra nie. Rustig. Heen.

Iewers langs die pad op die tog deur hierdie lewe gaan elkeen in ʼn stadium sy tent verlaat. Tyd verlaat. So gaan die tekens dat ons hier was ook in die stof in verteer en dit alles is okay. Want ons was hier, of dit nou op klippe staan en of die geskiedenis dit geskryf het, ons was hier. Mense om ons het ons beleef. Ons stemme gehoor, ons vorm gesien, ons warmte aangeraak.

Sonder dat ons dit altyd beplan of weet maak jy ʼn merk in die tyd om jou. Kataliseer jy rimpels met elke tree. Verander jy die wêreld of jy nou iets doen of nie. Selfs jou huiwering staal een langs jou om met ʼn besluit voort te gaan. Soms swyg ons die liefde van ʼn smeulende pit na ʼn vergete rokie.

Maar ʼn invloed sal ons hê.

Ons sit so om ʼn vuurtjie die aand na die oggend se begrafnis, dankbaar dat van die familie kon bly om bietjie te kuier. Ek was dalk stadig as kind maar het nooit gewonder hoekom my oom se van Nel was en my ouma s’n Van der Merwe nie. My ma se nooiensvan was ook Nel. Almal het my oupa ‘Oom Paai’ genoem.

En hier na my ouma se begrafnis het ek die eerste keer die vloekwoord gehoor. Stief. My ma en oom se pa, Oupa Fanie, is dood (tog weet ek dit al van kleins af). Die oupa wat ek leer ken het, was ʼn stiefpa vir hulle. Nee, niemand het mekaar aan die kraag gegryp en dít gesê nie, dit was meer in verwondering dat ons besef dat die mense wat vandag om die graf gestaan het met mekaar verbind was deur my ouma as gevolg van wie sy was.**

Een ding moet jy ook mooi verstaan, my ouma het drie mans gehad – nee, sy was nie soos die De Melker vrou nie – sy het elkeen waarlik liefgehad en elke stukkie familie wat aangetrou het haar eie gemaak asof sy hulle almal self gebaar het. Dit sit nie in enige een om so te kan maak nie.

Hertzogville. As jy hierheen bel en net naastenby klink soos die media of nuuskierig sal die persoon sommer prontuit sê: “Hier in Hertzogville gaan niks aan nie en oom Paul is nog steeds dood”. Ja, jy weet van die omie wat die tannie na sy dood in die huis aangehou het omdat sy onwrikbaar geglo het hy gaan weer opstaan. Die staat moes ingryp en onder bewaking die man gaan begrawe.

Die tannie het glo nog so nou en dan nuwe datums vir die oom se terugkeer. My ouma was nie so nie. Sy het die verlies van haar maats berou met die grootste deernis. Opgestaan, aanvaar en verder geleef. Nie minder lief gewees vir enige van hulle nie, nie meer aandag aan die een se kinders gegee as die ander nie. Maar iets in haar het genoeg lewenslus oorgehad dat sy dit nie vir haarself kon hou nie, genoeg dat sy dit nie op haar eie kon opleef nie en moes uitdeel, uitleef saam met iemand anders.

Iets in haar het nie skuldig gevoel om aan te hou leef nie, het geweet dat haar hart groot genoeg is om aan te hou liefhê en het ook geweet dat haar liefde vir haar maat nie sal sterf nie, want ek glo dit wat hulle in haar lewe in gebring het gaan nooit sterf nie. Selfs vandag na haar dood leef die bestaan van haar mans en wie sy was in ons voort.

Dit maak dat sy ook nog lewe.

Nee, ek het nie ʼn wanbegrip oor die feit dat my ouma huis toe is nie. Ek probeer haar nie aan die lewe redeneer nie, ek dink net ek besef iets wat sy uitgeleef het. Iets bevrydend. Iets wat my leer van hoe liefde werk en dat mens nie jok of jou lewensmaat verloën deur nog iemand lief te hê as hulle nie meer daar kan wees nie. Dat ek nie iemand gaan of moet vergeet om iemand anders lief te hê nie.

Ek sukkel om dit te verduidelik maar ek weet dis ʼn goeie ding as ek kyk na die invloed wat my ouma op die mense om haar het net omdat sy weer en nogsteeds kon liefhê.

Liefde is ʼn werkwoord wat aanhou gee.

Dalk het sy net die verskil tussen skuldgevoelens en ware liefde verstaan. Die leuen kon onderskei wat sommige mense glo dat daar net plek is vir een mens in jou lewe in ʼn leeftyd.*** Wat dit ook al was, my ouma het dit verstaan en dit is deel van my erfenis, ʼn voorbeeld wat in my lewe afgespeel het wat ek nie sal kan ontken nie en in dit leef my ouma voort. Of sy nog hier is of nie, of ek elke dag aan haar dink of nie my lewe is deur haar beïnvloed en mense om my leer my ouma ken al het hulle haar nooit ontmoet nie.

Mag jy in hierdie lewe te veel lewenslus hê om dit op jou eie uit te leef en mag die mense om jou nooit dieselfde wees nie. So eer ek dan vandag my ouma daar waar sy vir 86 jaar liefde uitgeleef het en in die geslagte om haar ʼn onmisbare erfenis nalaat in selfs die mense se lewens wat haar nooit ontmoet het nie.

** Ek weet die sin klink dom, sonder om die spoed van die skryfwerk op te frommel kom dit maar net daarop neer dat ons nie almal bloedverwant is nie, maar ‘trou’verwant.

*** Ek hoop jy kan onderskei dat ek nie hier van veelwywery praat nie.

Ns. Vir die van julle wat tot hier onder aan die gedagte lees, ʼn stukkie propaganda. Die erfenis wat ek hier van praat is die goeters wat ek uit vorige geslagte wil vier en onthou en aan my kinders oordra. Gaan soek die gedagte onder die titel ‘Porsie’ as jy dié konteks van erfenis wil verstaan.

ʼn Nota na die einde. Ek het eers tien voor nege op die 25ste Februarie 2009 die boodskap op my foon gelees, tot net voor dit was my ouma volgens my nog hier.

vlinders

Sake van die hart het gewoonlik een of beide van die volgende nodig: ‘sterkte’ en ‘wysheid’, want die ‘vlinders’ sorg nogal vir die res …


beskryf

Soms wens ek woorde kan die gevoelens in my verlos. Uit kots in letters tot die laaste gal homself bitter maar raak beskryf. Dan sal ek sekerlik bevry wees van die onbekende, maar ook die uitdrukking. Want wat bly dan oor om te beskryf as alles klaar reg gesê is.

29 Mei 2009

Goeie môre. Blaas jou vars asem in my longe in. Meteens verskil “hier” en “naby” wêrelde van mekaar terwyl jou dun vingers geniepsig speel deur die truitjie wat ek aan het. Vir ʼn oomblik huiwer my asem in ʼn waas voor die lug dit insluk, terug in jou longe in?

Dis winter en ek sit vroegoggend buite om my skoene skoon te maak. Die reuk van politoer herinner aan soveel vorige oggende, soveel vorige kere hier in die koue waar ek myself reggekry het vir skool of wat ook al die dag sou oplewer. Dis nie gewoonlik die tye waar jy diep oor die wêreld en die groter “AL” dink, of selfs bepeins oor die samestelling van die heelal nie.

Meteens wonder ek of kulkunstenaars se slagspreuke hulle in die hakskeen byt as dit by verhoudings kom? Ek sal ʼn voorbeeld noem: “Ek kul jou hier ek kul jou daar en siedaar!”

(Wat? Verdwyn ‘sy’ dan? Mmm… –ed)

Wie is ek om te oordeel, dalk werk dit nie eens so nie, dalk is dit juis een van die groot redes dat mens werk en huishouding moet skei. Anders skei jy?

Ek sal dalk meer as net die truitjie nodig hê om die koue van my lyf af te hou, soos ʼn verlore liefde wie se vervaldatum diep in die verlede lê is daar geen dromerige gevoel in my vir dié seisoen nie. As ek ooit iets gevoel het is dit met die vorige griep uit my lyf uit gesweet.

My serp is weg.

Een van die geskenke tussen ons en nou is dit weg. Elke oggend voel ek haar asem in my nek af blaas terwyl ek deur die verkeer vleg op my swart perd, vergifnis is my dus onbeskore. Dis dan maar hoe dit tussen ons gaan, helfte van die jaar word ek vasgevang in die verbete stryd om mure om my te kry, met komberse en verwarmers hou sy darem afstand. Die res van die tyd kom ek weg met somersklere en selfs kaalvoet op die teëls.

Maar die nag …

Die Beeld blaker vandag iets op die pale van reën in die noorde wat nie so ongewoon is nie, tog grou die dorp swaar onder die wolke. Goedkoop parfuum kleef die nat koue aan my lyf en ek sidder want die einde is nog lank nie in sig nie.

Tog beskaam die hoop nie, weet ek die warm seisoen is op pad en sal daar selfs nog iewers uit die koue dae se kille stryd nog warmte verskyn uit die liefde uit.

2009-05-18 ‘n Gedagte_Rook dit

Marcel was nie sommer die “standaard” tipe ryloper nie, wel nie op die maniere wat jy dink nie. Ek het Marcel nie langs die pad opgetel en ʼn geleentheid gegee omdat daar niemand anders naby was nie. Dit het so bietjie toevallig gebeur, tog met genoeg ryloper elemente om vreemd te wees. Soos in die “standaard” gevalle het ek Marcel nie van ʼn kant af geken nie, die uwe het trompop die volgende oomblik voor my gestaan en vir ʼn saamrygeleentheid gevra.

Hoekom nie?

Noudat ek daaraan dink, ek het vir Johan iewers in die Karoo opgetel, naby een van daardie plekkies waar jy nie lekker weet waar dit is nie, tog is jy nou daar. Eintlik was dit nie ʼn plekkie nie. Daar was niks. Al wat ek kan onthou was die man langs die pad met sy slierte, sak en tas. Dit was ʼn voorreg om dié navorser ʼn geleentheid te kon gee. “Eintlik lyk ek nie altyd so nie, dit kom maar so saam met die lang paaie.” Ek knik. Die sak het ons sommer agter in die bakkie gegooi maar die tas het hy nie onder uit sy oë laat uitgaan nie.

Ek raak soms aan die slaap en het die geselskap meer waardeer as wat dit oor enige samaritaanse gebruike gegaan het. “Eintlik skryf ek ʼn boek,” loer-sê hy versigtig oor na my kant toe. “Jy sien, Reynold, my familie se storie is ʼn interessante een. Dit is hoekom ek al dié dokumente het. Dis navorsing wat ek nou al van regoor die land bymekaar gemaak het.” Hy het nog redes gehad. Kan hulle net nie onthou nie.

Marcel was anders, merkbaar gespanne.

“Jong Reynold, dis nou ʼn ding dié hoor, my tand is seer. Magtig, ek weet nie meer wat om te doen nie. Eergisteraand vra ek twee kleurlinge of hulle dalk plan het vir my. Man, dit was nie ʼn goeie idee nie, hulle begin toe hier in my mond grawe met ʼn skroewedraaier, maar dié ding was heeltemal te stomp en te dik. Wat kan jy nou maak, hulle is twee en die politiek het mos verander. Ek het maar net vasgebyt en dankie gesê.”

“Eintlik wil ek vra of jy dalk ʼn kleiner skroewedraaiertjie het en my met die tand kan uithelp?”

Dis gevaarlik om rylopers op te tel, jy weet nooit waarin jy jou begewe nie. Ek is nie tandarts nie, ek was wel in ʼn tegniese skool maar of my gevaarlike kennis van houtwerk hier van hulp gaan wees, weet ek nie regtig nie.

Amper angstig vra Marcel of ek verantwoordelik is, “wil net seker maak of ons veilig gaan ry”. Die bakkie skommel en stamp bietjie omdat ek nie veel ag gee aan klein duikies in die pad nie, hy het nie die sagte rit van ʼn duur luukse Duitse motor nie. Dit word van links beantwoord met “oe! Sjoe … Daar’s-hy, ons is nog veilig, moet nie worry nie, ons gaan veilig ry …”

Huh? Ja, en dit was net die begin.

“Ry jy vinnig?” Adrenalien puls deur my are … Is dit ‘n vraag, voorstel of ‘n begeerte!? “Ons KAN as jy wil.” Die glimlag op my gesig verwar Marcel wat lyk of die eindtye aangebreek het.

Ek ry 100km/h.

Dis toe wat ek dit voel. Heel onverwags terwyl ons om die een draai kruie en ek met albei my hande op die stuur en met al my oë op die pad gefokus is. ʼn Ferm greep aan die linker kant van my kop lei die volgende woorde in: “Ek bestraf jou satan, jy en jou demone …”

Soos stadige beeldmateriaal in ʼn aksie film draai die oomblikke in minute om en die held van ons storie beur reikhalsend voort om die chaos te keer, om die wêreld te red en ons spring op in die fliek en skree soos by ʼn sport wedstryd. AAaaaaagghh!

“… Los hom!!! gees van verwerping, LOS HOM!” Dis eintlik ʼn mooi dag, die kosmos langs die pad staan geil en room die begin van die koue seisoen in sagte skakerings van pienk en lig pers.

Teen die tyd is selfs my puisies uitgedryf.

Eindelik kom die slotsin gevolg met die “Amen” punt.

Sieklik skree die rubber oor die teer terwyl die bakkie liggies na links skeef trek oor die pad en in ʼn stofwolk langsaan tot stilstand kom. Die eerste deur om oop te bars is myne gevolg deur ʼn ferm stappie waarna die passasierdeur oop bulder. Ek hoef niks te sê nie, my aksies spel dit onomwonde. Versigtig klim Marcel uit, tassie en al.

Wag ʼn bietjie …

Ja, dit het gebeur, ja daar is baie detail uitgelos – ek wil nie noodwendig alles wat uit my gedryf is sommer vir die wêreld uitblaker nie. Ja, Marcel was DOODernstig. NEE, ek het nie in ʼn groot gejuig gestop en my ryloper net daar langs die pad gelos nie.

Ek was so uit die veld geslaan deur die gebeure dat ek net houtgerus aanhou ry het. Tevrede dat ek van al my sonde vergewe is en van alle demoniese besetting bevry is, sit ʼn minder gespanne Marcel in die linkerkantste truspieëltjie en staar. Ek het intussen vinniger begin ry en pas my beste bestuursvermoë toe dat die spoed nie bespeur word nie. Dit werk! (Ek hoop nie daar is kameras nie…)

Die lighartige luim van dié gedagte moet nie met spot verwar word nie, Marcel is ook nie aan die wêreld onder daardie naam bekend nie, tog is daar ʼn punt aan die storie.

Die fanatiese uitdrukking van dié persoon se geloofsoortuiging het my laat wonder hoe ons soms die wêreld verwar met die dinge wat ons aanvang. Kyk, die hart is opreg, maar die logika ontbreek. Sou jy ooit dié bevlieging ervaar om demone uit die bestuurder van die voertuig waarin jy ook sit, te dryf, maak seker julle staan stil en dat die enjin nie eens luier nie. Nee, skrap daardie idee. Moet nie dit in ʼn voertuig doen nie, want as jy reg bespeur en legio besluit om vir almal in hom ʼn beurt te gee om ʼn bestuursles te kry mag jy dalk net meer avontuur beleef as wat daardie dag kan behartig. Jy mag dalk net ook wil seker maak jou versekering en medies dek sulke tipe aktiwiteite.

Uit geleenthede waar ek al mense onder die invloed van die bose gesien het is dit oor die algemeen goeie praktyk om nie voertuie, plaasimplemente en ander dergelike toerusting in die gebeurtenis in te sleep nie. Ek wil jou nie skrik op die lyf jaag nie, kry maar net eers bietjie ondervinding in die gebied voor jy te veel bewegende dele in die praktyk inbring.

“Are you smoking what you’re selling?” uit ‘Velvet Elvis’ deur Rob Bell

Ongeag die opinie wat jy dalk mag hê van “Marcel” het ek gewonder oor die idees en filosofieë wat mense om my by my “koop”, kan ek met dieselfde ywer my oortuigings in my eie pyp stop en dit rook?

2009-02-22 ‘n Stofpad Gedagte_06 Orania

Ek weet nie of jy die TV/radio advertensies van “Boys’ Town” kan onthou nie? Iewers het die stem gesê: “Ek het gedog daar gaan tralies voor die vensters wees …” Dan gaan die grappie aan “… maar die eerste vensters was eers op die derde verdieping”.

Snaaks hoe mens vanuit jou vooropgestelde idees leef of die wêreld beskou. Ek het sulke idees oor Orania gehad en sal graag my uitstappie aan die dorpie aan jou wil beskryf, maar om die belewenis so raak as moontlik oor te dra sal ek my vooropgestelde idees aan jou bekend moet maak. Reg of verkeerd, mooi of lelik, dis wat ek gedink het.

ʼn Gatkant dorpie, waar ongeveer 600 stoere Afrikaners gaan wegkruip met die hoop dat die wêreld wat hulle skep ʼn wit een sal wees of dalk om Suid Afrika weer iewers in die onbeduidende toekoms oor te neem. Ons was oor die 1000 leerlinge toe ek op nog op hoërskool was, 600 mense wat oor iets saamstem is nie baie nie.

Stofstraatjies. ʼn Maer wit laitie wat by die vulstasie vir jou brandstof ingooi. Om daar te kom moet jy iewers in die Karoo inry, probeer om nie te verdwaal nie en hopelik die droë plekkie raak ry voor die son jou alleen kry. Boere met groot baarde wat nog met sannas skiet en die Zoeloes haat.

Ja, ek het ʼn klein bietjie vet gesmeer. Net ʼn bietjie. ʼn Vriendin het gedink die vrouens dra Voortrekkerkappies. (Om die tafel waar ek sit en tik val sinne soos dié uit mense se gedagtes: “Ry hulle met karre rond?” “Het hulle darem TV?” “Ja, ek sal kan glo dat hulle ʼn eie radiostasie het.” “KykNet is seker bietjie wild vir hulle.” “Is daar ʼn teerpad soontoe?” “Ek dog hulle ry nog met ossewaens?”)

Tussen Petrusville en Hopetown is daar ʼn teerpad en so 30km uit Hopetown het ons ʼn 4-rigting kruising met stoptekens gekry. Orania. ʼn Groot bord teen die dak van ʼn gebou aan die regterkant lees ‘ORA’ en in kleiner lettertjies by die ingang kan jy van die pad af sien dis ʼn ‘OK Grocer’. Met wit kryt op ʼn swart bordjie word jy aan die 5% afslag herinner wat jy kry indien aankope met die plaaslike geldeenheid, die ‘Ora’, betaal word. Die ekonome tussen ons sal dan bespeur dat dié geldeenheid tegnies en teoreties sterker as die Rand is as gevolg van dié afslag.

Ons sien baie klein dorpies.

Orania is oulik. Daar is ʼn ‘Aan die Oewer’ vakansieoord wat skoon en netjiese houthuise het, laat my dink aan ʼn oord by Amanzimtoti waar ek as kind was. Lower groen met pragtige donker bruin verniste houtgeboue. Rustig. Die dame sê hulle geniet dieselfde tipe aandag as die ou ATKV oorde. Daar is ook ʼn Spa waar jy jou van jou tone tot jou kroontjie kan bederf en die gebou is toegerus met ʼn eko-temperatuurbeheerstelsel. Die een hele muur is van rivierklippe in ʼn draadstruktuur gemaak. Water drup stadig oor die klippe wat dan, wanneer die wind daaroor waai, die hele gebou afkoel. In die winter is daar deurskynende panele wat soos blinders oor die muur toemaak, die water word toegedraai en die muur word warm wat die gebou weer verhit.

ʼn Stukkie geskiedenis om die oorsprong van Orania te beskryf. Ek parafraseer verskriklik, want ek kan nie al die inligting in detail onthou waarmee hulle media offisier-persoon ons bombardeer het nie. Jammer. Iewers in 1963 het Waterwese ʼn dorpie gebou om van hulle mense te huisves sodat hulle nader aan die Vanderkloofbesproeiingskanale kan wees. (Dis na my mening baie tipies van ‘tydelike dorpies’ dat mens betonstrate en asbeshuise in Orania kry.)

Die projek is afgehandel, die mense het begin wegsyfer en Orania het in ʼn spookdorpie verander. Rondom 1990 het die dorp op veiling gegaan. Die witmense het dit deur ʼn maatskappy van soorte opgekoop en hulle ideale gevestig in die skulp van dié dorp iewers in 1991. Hulle hamer nogal op die feit dat dit wel vóór 1994 was.

Buite by die publieke swembad het ons ʼn monument gekry. ʼn Reuse koeksister. Ek het begin wonder oor dié plek …

Orania het vele aspekte wat mens laat dink dat daar darem meer as ʼn paar aande oor bier en braaivleis aan dié idee gedink is. Hulle sit vierkantig in die ‘groen’ stoel met hulle energie en omgewingsbewuste projekte. Jy sien sommer oral op straat trossies asblikke mooi gemerk: ‘Glas’, ‘Plastiek’, ‘Papier’, ‘Blikkies’, ens. Behuisingsprojekte word van strooibale tot polistireen gebou om goedkoper en volhoubaar te bou. Selfs droë toilette is op die lys.

Hulle probeer alles.

Selfs die landbou spring nie ‘groener’ ideale vry nie, diere wei in die boorde om sodoende te help bemes aan die grond en van die boere breek ook nie meer die grond in hulle landerye wanneer daar geplant word nie.* Trots kondig die persoon wat ons rondlei aan oor hoeveel joernaliste hulle besoek en van al die mense uit die buiteland wat na hulle ‘volhoubare nedersetting’ kom kyk en bewonder.

Daar is iets geniepsig wat my net nie wil los nie. ʼn Stoute seuntjie in my wat die ou oom oorkant die straat permanent die josie in wil kry. Sy kat wil pers verf, dagga in sy blomtuin plant of wasgoedseep in die fonteintjie by die voordeur gooi. Wat gebeur in Orania wanneer die son sak? (Jy het huiswerk. Gaan kyk die film ‘The Village’.)

Die geniepsig in my het eindelik beelde uit die film in my geheue los getorring. Ek wil weet wat gaan deur ʼn burger van Orania se kop wanneer hy of sy in die regte wêreld daar buite kom?

Die wêreld is nie ʼn wit plek nie.

Soos met ʼn broertjie of tannie in die tronk het mense traag geantwoord wanneer ek hulle oor dié buurdorp uitgevra het. Niemand wil skinder nie. Maar alles is nie reg nie. Dít het my die hele tyd gepla, want dis regtig ʼn oulike dorpie al stem ek nie saam met hulle rassebeginsels nie.

Soos met die film ‘The Village’ blyk dit ʼn goeie idee te wees, glimlag al die mense mooi op die foto’s teen die muur. Maar …

Dié vier lettertjies wat my vrede steel as ek aan die plekkie dink. Ek was al in dorpe waarvan ek doodeenvoudig net nie gehou het nie. Dis soos sekere mense wat glad nie van olywe of tamatiesoustoebroodjies hou nie. Niks persoonlik nie. Daar is net meer plekke waarvan ek oorwegend meer hou. Dis maar dit.

Ek het wel net weereens besef dat my Afrikanerskap nie van ander mense afhang nie. Net omdat ʼn dorpie ʼn string ideale aan die grensdraad hang en dit oor die ‘Afrikaner’ kam skeer, maak nie noodwendig dat ek daaraan vashaak omdat ek wit is nie.

NS. Ek was tot voor die tog deur die land ʼn groot voorstaner van tuisonderrig, maar isolasie van die samelewing is nie gesond nie. Ek is wel dankbaar vir vriende wat deur die proses is en gebalanseerd aan die anderkant uitgekom het. Al sê die mense van Orania wat, hulle isoleer hulleself, hulle kies om eksklusief te wees. Dit is jammer.

*Dié boerdery beginsel maak baie sin, sal jou aanspoor om bietjie meer hieroor uit te vind. As daar genoeg navraag oor die onderwerp is sal ek dalk ʼn gedagte daaroor skryf.

Interessante bladsye:
http://www.news24.com/News24/South_Africa/Decade_of_Freedom/0,,2-7-1598_1515558,00.html
http://en.wikipedia.org/wiki/Orania,_Northern_Cape
http://news.bbc.co.uk/2/hi/africa/3670441.stm
http://www.orania.co.za/


Post Navigation