die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “Afrika”

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_02_pylvak

Ons het vanoggend uit Kuruman vertrek, al vier van ons. Die rugsakke het saam met ‘n nuwe vriendin terug gery en die getroudes het gemaklik gesit. Al het ons ‘n paar gesprekke gehad wat mens kan laat dink dat die wêreld se probleme opgelos is, het die avontuur van terugry nie heeltemal ingeskop nie … dis eintlik ‘n rare ervaring.

Pretoria bly mooi, dit is altyd lekker om die stad uit die verte te benader. Vandag kom ons uit die weste en die geboue lyk indrukwekkend. Dit is Sondag.

Met dié dat die eerste geboue om ons toring en ek moet opkyk, ver na bo, om die blou lig te sien. Omhels sy my. Gaan my oë toe. Ervaar ek weer daardie bekende klem en meteens spoel die afgelope week se gebeure weer deur my wese en onthou ek daardie eerste keer toe ons op ‘n sandbank teruggekyk het en die klowe ons omhels het. Ure vroeër was die vlaktes agter ons en sug die aarde weg om die spilpunt van ‘n silwer lyntjie doer onder …

Die reis het eintlik met daardie eerste SMS begin en nou, nou dat ons hier op die rand van ‘n diep dalkloof met steil wande staan, kan ons nie meer omdraai nie.

Ek en Franszo het ‘n dag voor die ander deurgery – eintlik het ek gedink daar gaan meer mense wees met dié idee, helaas nie en net voor donker die dag voor ons begin stap, het van die eerste medestappers in Ai-Ais begin arriveer. Van ons het darem al soortvan by ‘n vergadering voor die tyd ontmoet en sommige was reeds kennisse, tog het ek seker meer as die helfte van die mense glad nie geken nie.

Ek het soms ‘n uitdaging met die onthou van name. Dié wat my ken kan al die tekens onderskei sou ek daardie oomblik die naam vlugtend in my gedagtes beleef. So, ek maak assosiasies – dit help … soms.

Maki was maklik, dink “Sushi”. Haar vriend se naam is Henk (hulle hou hande vas en maak ogies vir mekaar) beide Maki en Henk het k’s in hulle name (onthou dit!). Maki het ‘n rubber hoender saamgebring, ek en die hoender het nie juis gesels nie maar ek dink sy naam is Hoender (maklik genoeg). Hoender kom saam, soms agter op Maki se sak en soms dra Henk hom. Ek is eintlik nie 100% seker hoekom hy saamgekom het nie, maar Hoender lyk super op foto’s. Henk se duur stapskoene is kort voor die tog gesteel, so hy loop met ‘Converse’ ‘sneakers’. Ek kan dink dat geharde stappers vies sal wees dat Henk so goed gedoen het met wat sommige mense sal bestempel as ‘winkelsentrum pantoffels’. Hy doen animasie en ander media gefokusde werk in die Kaap terwyl Maki kuns veroorsaak en ‘n krale winkel in Pretoria het.

Magdel het ek darem van sien en ander skrams ontmoetinge geken. Ons het ook gemeenskaplike vriende. Sy doseer kuns en veroorsaak skilderye. Ja, ons was nog op pad af die eerste dag van die tog en terwyl ander mense na hulle asem snak (party omdat dit so mooi is en ander omdat hulle bloot net uit asem was) het sy argeloos kwassies, ‘n verfbordjie en houertjie water te voorskyn gebring en ‘n landskap geverf. Niks vreemd daaraan nie. Sy was ook so gaaf om uit rooi en blou velt lap vir ons almal (29 stappers) vissies met geel knoopogies wat met daardie klein kopergeel doekspeldjies kan vassteek, te maak. Ek het nou nog myne.

Voor my het Elaine soms gestap. Sy het ‘n kettie agter aan haar rugsak vasgemaak en twee Smurfs soms saam met haar kamera te voorskyn gebring. Haar vriendin het vroeër die jaar ook dié roete gedoen, ook met twee soortgelyke Smurfs byderhand en strategiese foto’s van dié animasie karaktertjies afgeneem. Otto het ‘n plastiekpyp by hom, dit het my ‘n oomblik geneem maar ek het wel tot insig gekom dat dit niks anders as ‘n visstok daar binne in is nie. Dit is immers die VISrivier!? Hy het sommer by die eerste watergat al ietsie uitgetrek. Daniel, wat ek darem al ‘n paar jaar ken en ons het saam geswot, het ‘n toilet saamgedra. Dink: opvoustoel sonder rugleuning met wit toilet ring en deksel. Jy grawe die tradisionele veldtoiletgat, maar eerder as om jou konsentrasie tussen balans en waarvoor jy die gat gegrawe het te koördineer kan jy dié stoel gedoente bo-oor die gat korrel en rustig op hom sit. ‘n Eenvoudige luuksheid wat die dames terdeë waardeer het.

Soos wat dit maar in die lewe gaan dink ons ander mense is vreemd omdat hulle nie ons eie vreemdheid deel nie. Dit was toe heel normaal vir my om moeite te doen om my selfoon saam te neem. Nie omdat ek gedink het ek kan iemand spesiaal uit die kloof bel nie (geeeeen sein!!!), nee, omdat ek nie juis ‘n digitale kamera het nie en die eenvoud van my selfoon se kamera geniet. Dit is ook oulik dat my selfoon ‘n tweetalige woordeboek op hom het en ‘n GPS. Ek was lanklaas so tevrede met ‘n stukkie tegnologie soos wat ek met my foon is. Vir die rekord en nie omdat ek ‘n sent van hulle gaan kry nie: dis ‘n Nokia E72 wat in sy “offline mode” die volle vyf dae van die tog gehou het en my ‘n dag of wat na die tyd toegelaat het om oproepe te maak – alles sonder om batterye te ruil of weer te laai!

Daar was nie enige gebrek aan uniekheid by die res van die geselskap nie, ek wou maar net ‘n paar van die karakters aan julle voorstel, veral Hoender.

Daar bestaan ‘n stilte wat min mense ken. ‘n Stilte wat in jou wese insyfer, jou kan deurtrek en in sy demper ritme ‘n dans tussen die slag van jou asem en die puls van jou hart laat wieg.

 

2010-08-07 – “Die Tweede Dag”

Ek vind spore van my begeerte

In die sagte kreet van ‘n horison

– ‘n Bakhand hunkering wat pleit

 

in spieëlbeeld met die kroes kinders,

is dit my hart wat angstig vir sielekos vra…

 

2010-08-08 – “Die Eerste Nag”

Ons ekspedisie lei ons af in ‘n kloof

Om ons groei die mure rots

En terwyl ons deur die skerwe van ‘n vóór vergete tyd loop

Breek nuwe betekenisse in ons wonder oop

– Mooi; het nie net een kant nie

En gedra haar glad nié tipies nie …


2010-08-09 – “Die Eerste Oggend Onder”

Dit was koud deur die nag, maar van so aard dat

jy die bewuswording-wakker waardeer het die oomblik

wat jy besef al die sterre is nog daar. Wanneer die

enigste gordyn tussen jou en die hemel twee ooglede is,

en jy weet die klowe oor jou waak. Dan rus jy anders.

Waak jy nie uit vrees nie maar uit die gemoedsrus

van duisend helder ligte – wel nie om jou nie,

maar BO jou.


Na die Nag se windjie

Het die duine van ons vergeet

Spook slegs skimme van spore

By dié wat daar was en dit wee


Met die oggend jonk en vaak

Kry die rimpels hoendervleis

Waar ‘n luggie die water raak

Soos die dag uit die aarde ruis


2010-08-11 – “Voetnota”

Stapstok haak voor ete in klippe vas.

Duct tape korrigeer die skade …

(Dit was eintlik die tweede keer op die tog waar ek en die duct tape slaags raak. Die eerste keer was net voor die eerste skemer toe ons begroet is deur ‘n trop bobbejane wat op die oorkantse oewer amok gemaak het. Elaine se kettie het handig gekom om net-net die grens tussen mens en dier te bevestig. Tog was dit soms nie genoeg nie. Ek het ekstra skoenveters uit my sak gekry, duct tape en “baby wipes”. ‘n Paar toetsmodelle en ‘n stel veters later staan ek toe met Dawid se getroue wapen aan my sy. ‘n Slingervel.

Ek het jarre laas een van dié primitiewe uitvindsels bedryf en is redelik bly ons moes nie reuse of kos jag met die ding nie, hy het wel geen respek gehad vir die afstand na die oorkantste oewer nie en het gemaklik my klippe tussen die bossies doer anderkant laat spat.)

 

2010-08-12

Hoor jy die sterre?

Snaaks hoe die stilte om jou

Die dreuning binne stilmaak …


Dis anders as om stil te word in die stad

Dáár maak die stilte jou alleen.

Hier word jy en die stilte een.


Stilword

Vandag was soms harde pad

Onder ‘n genadelose son

Ek wonder of dit regtig te veel raak?


Saterdag, “Die Sewende Dag” 14 Augustus 2010

Iets in die Natuur voel of dit die

Genadeloos in ons wil toets

Asof die barre aarde my bloed soek

Om die grond weer Rooi te vlek

So soek die genadelose natuur sy

Genadelose kinders in my

Wil sien hoe my lippe bars

Hoe ek dors word …


My oë gaan oop … jakarandas? Beton en teer verneuk my hart en ek sukkel om die stille waters van die kloof te vind.

Die laaste stukkie huis tóé wonder ek of ek dalk nie te min geskryf het nie. Ou bekende strate smeer deur die ruite van die BMW maar my hart dwaal nog iewers anders. Iewers waar ek nie woorde het nie, en dit is genoeg.


125x125_Make_Money_Online_NO_LIST

Loer gerus!

2007-10-27 ‘n Gedagte vol los gedagtes …

Die afgelope tyd was nogal interessant. Daar was tye waar ek die son sien opkom het, waar ek saam met die nag se laaste mis die slaap uit my oë gevee het. Tye waar die nag soos die pad voor my net aangehou het. Stryders onder die storm het ons van ‘A’ na ‘B’ gejaag, soos perde in die voorste linies amper ongeteuel om die pas te stel maar met waansin in die oë wat weet die oorlog kom!

Wat weet daar is geen omdraai meer nie.

Tye waar ek gehunker het na die ink, my digitale blad en veer om vlerke aan my gedagtes te gee. Gedaante aan die vloed van lewe waardeur ek soms sleur, soms sny en soms die spanning van die water ry.

Partykeer wil ek skryf
Só dat ek dit amper
Kan voel, kan proe
Kan ruik hoe die
Bloed uit my gebarste
Lip loop

Ek wil my woorde wees
Letterlik my siel
In hulle grein laat loop
Dan kan jy dalk daar
My spore vind
En iets beleef van wat ek
Droom as kind …

(nota: Die vorm is as gevolg van die langwerpige papiertjie waarop ek geskryf het, ek was op pad Brooklyn toe, dit het Donderdag redelik gereën en ek moes gou hardeskywe en ander toerusting gaan aflaai. Dit was al na 9nm. Ek het waaragtig my dagboek by die huis gelos en kon net ʼn brandstof strokie in die hande kry, darem het ek ʼn pen gehad.)

Tussen die gewone spoel van goeters het ek mense afneem wat soms probeer belangrik klink en walglike woorde soos “auspicious” gebruik … net soos die vorige drie ander mense en waar die gehoor amper ʼn merkbare “ooh” en “aaah” gee gevolg deur daardie ongemaklike stilte waar hulle probeer uitwerk wat dit dan nou EINTLIK beteken. Die spreker hou lustig aan met sy gotiese verwerking van iets wat seker in die Sarie gestaan het.

Teen dié tyd het die gehoor lankal opgehou om te wonder wat die ‘leenwoorde’ beteken. Immers praat ons almal maar net kombuis-Afrikaans en aksént-verwardé-Engéls.

Tussendeur dít het ek na die Universiteit gegaan en studente se opinies afgeneem. Ewekansig.

Ek beveel dit aan.

Ek beveel dit aan want jy is ongeken en die persoon met wie jy praat is onbekend. Dis veral lekker wanneer iemand naby jou gaan sit, ek het hulle net uit die hoek van my oog gesien terwyl ons besig was om met die huidige kandidaat ʼn onderhoud te hou. Hy lyk rof en die meisie sal jou seker mooi kan vertel … ek dink hulle is Engels. Ek WíL met hulle gaan praat …

Dan is dit soms verbasend wat mense bereid is om vir jou te sê terwyl jy ʼn kamera in hulle gesigte het. Dan het ek ook al ‘belangrike’ mense sien hap na woorde en wonder wat om volgende te sê.

Sal die roetine van elke dag ons insluk en in die regte boksie uitspoeg? Sodat die groter kubus vierkantig in die niet kan hang terwyl daar na die volgende boksie gesoek word?

Partykeer as ek begin skryf is
daar net niks. Behalwe die stilte van
ʼn blinde stuk papier en ʼn pen wat kwyl,
angstig om sy ink in verhale
te borduur.

Partykeer as ek begin skryf
Bars ʼn oorlog los
Moet ek koes vir koeëls
Letters wat swets
En paragrawe gemors.

Partykeer as ek begin skryf
Dek my pen tafel net vir twee.
Wil ek skryf, wil ek hoor
Wil ek lees, wil ek plekkies in my hart
Vir die woorde maak, gaatjies waar
Ek hulle weg kan steek …

(nota: Weereens op die stuurwiel geskryf, op pad terug in hoog spitsverkeer van Sandton af. Die son wil sak, ek wil by die huis wees, maar nie een van ons twee gaan nou ons sin in kry nie …)

Ek dink dit was in Shoshanguve. Die een oomblik is daar huise en die volgende oomblik volg ek die motortjie voor my na die hek van ʼn erfie waar daar net ʼn bruin verroeste sinkhuisie staan. Dis Sondagoggend en ek is in Afrika. Daar is ongelyke grondpaadjies met hier en daar iemand wat verby stap. Ek kan hoor hoe nie te ver in die buurt af nie daar vurig kerk gehou word. Meteens is ek terug in Noord-Namibië. Net suid van die Angola-grens het ons ook in ʼn sink kerkie gesit. Jy kon soms in die nag selfs skote hoor. In die oggend was Afrika op die stoep, het sy pap gemaak, mopanie wurms en vissies uit die poele water langs die pad. In Zambië het ons tussen die sakke mielies wakker geword, amper asof die oomblik te groot was om te mis het die haan lankal begin aankondig. In die donker het die skadu’s en silhoeëtte gewaak totdat die son hulle eers lank maar stadig uit die weg kom kleur.

Daar is nog. En nog steeds te min.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kinders se klam handjies
In die oggend, as ek kaalvoet
Oor die gras gaan stap.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar dae wat soos ʼn
Vuurherd brand en eindig
As ʼn Pêrel in die
Roet kom lê.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kaja tussen die kakiebos
Haar liefde wat my hart opdroog
Haar drome wat ek vir eendag los.

(nota: Ek onthou soos gister een dag toe ons gaan water haal. Daar was net een kraan in die area. Agter op die waentjie was twee 44 galon dromme, die paadjie was vol gate en plasse water en ek het versigtig met die Toyota Venture hulle probeer mis ry. By die kraan gekom het ons begin om die drink- en kookwater in die dromme te tap. Die son het in ʼn hemelbed van rooi en geel gesak. Dis toe wat ek onthou hoe ek menigte male in die wiskunde- of wetenskapklas gesit het en gewonder het hoe dit sou wees om nou iewers in rou Afrika goeters te doen. Spilpunt-swaai.

Ek wonder nie meer nie.)

Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik

Mosambiek 2008 – Maforga- en Tofo-uitreik

Op die bus, op pad terug.

Die Melktert Kommissie draal die stilte doof terwyl los gesprekke tussen stoele die tyd uitkoop. Ek asem my laaste teue van Mosambiek in terwyl haar vingers deur die ruite met my hare speel.

Ek wou dit onthou, dus is die getorring met letters niks minder as die kommentaar op die storie wat reeds in ons foto’s en flikkerbeelde afspeel nie. ʼn Storie waarin jy ook ʼn karakter is.

Meteens gluur die lyne my aan, wil weet watter letters ek aan hulle gaan hang en, soos die markte waar lappe en klere aan toue in die wind wil dans, soek ek ook die bont-baljaar wat jou ʼn stukkie Mosambiek laat beleef.

Ek sien hoe jy terug is in die dorp, jou gordyne in die nag oopmaak, opkyk na bo en wonder wat van die sterre geword het …

ß)

28 Junie

Dis net ʼn draad
Uitgetorringde erts staal gespan tussen ons …
Jou spore trap soos myne …
ʼn Herinnering in stippels gesoom.

Eintlik is dit net denkbeeldig
Tog kan ek my nie ‘oor’ dink nie,
Net ʼn stempel verder
Asem ek dieselfde lug …
Jy ook.

Is ons grens net soos die skemer
Die gordyn tussen dag en nag?

29 Junie

Ken jy stilte?
daardie plek waar selfs die niks

ophou raas

My kinders kyk vanaand vir die sterre
en saggies kan ek hoor hoe hulle ogies
in blinkers wonder …
maar diep in My sakke gons
legioene meer …
fyn sand vir die heelal se vensters bestem
elkeen met sy eie vonkel.

Nie net ʼn Poskaart nie.
Nee, hier groei regte gras uit die murasies
– selfs op die dakke –
en dís wat my van Afrika bekoor,
waar selfs dié halms deur ons
imperialisme se geboue boer.

Saggies sluip sy ook so jou hart binne
haarwortels tuur in die takke van my bestaan
en ritmes in my los woed
soos ons tussen die gehuggies vaar.

My wit vel skif minder
In die nasie se gedagtes,
Asof mens dit kan voel?

30 Junie

Ons is in Mosambiek
Tofo om presies te wees.

Dis bewolk, tog jolig in die bus,
Dis ook toe dat “Ek herhaal Jou”
Oor die luidsprekers speel.

Ek hou van Afrika

Soms voel ek so geïnspireerd
Dat ek niks het om te skryf nie …

Die skanse van ons skadu’s
omlyn skaars die groter gestalte
soek rus in sy obskuriteit
maar vlek sonder om ooit merk te los …

Instinktief hunker ʼn kind na sy
Moeder se bors.
Iets van daardie begeerte
bly soek.

ʼn Fetale vreugde vir ʼn moeder
se bors roer in my wese.
Kan ʼn man in eenvoudigheid
soveel plesier vind?

Sou selfs die begeerte
vir ʼn vrou kan skif
in vergelyking met Jou,
Jou kinders,
hierdie Land.

1 Julie

Jy het aan my bors gevoed.
Ek het jou in my arms gedra.
Die rus vir jou het vroeër gekom.
Toe jy die gevolge van my skande dra …

My kinders huil in Afrika
die sorge van ʼn oorlog blind
met my hande leeg wil ek jou vra
wie gaan hulle harte verbind …

2 Julie

Baringsnood.

Daar is ʼn lus wat ek uit die ou dae ken,
ʼn kompulsiewe drang wat wil hê,
sy volle oorgawe wil stuur in net een rigting.

Word ek hier in die vreemde versoek?
Het my wag my in die steek gelaat,
en so oorgelewer aan die bose?

Al was dit net vir ʼn oomblik,
Was dit genoeg om te besef:
Ek moet en Wil nog in die hande kry …

Want net stukkies van dié God is te min vir my.

“Bon dea, Senôr.”
“Porvavor.”
“Muento beng Obrigado …”

In ʼn vreemde ongeloof straal sy gesiggie,
Lettertjies verstrengel uit sy mondjie
Terwyl hy vir my die speletjie verduidelik …

“Si, Senôr?”

Hy kom agter die wit man verstaan glad nie
Tog gee dit nie om nie.

Iewers het hy en sy twee maatjies
van daardie leë 25l kanne in die hande gekry,
ʼn harde grondwal gevind,
ʼn opregte Mosambiekse glyplank gebou.
Sommer daar langs die nasionale pad.

Oral langs die pad het hulle van ver af al gewaai. Dis seker nie elke dag dat ʼn witman met ʼn driepoot en videokamera verbygestap kom nie.
Opmerklik het sy nie eens opgekyk nie …
“Bon dea?”
Sy sê niks.

Langs haar kom ek eers agter dat sy skaars kan sien.

Hier is dit nou, die doolhof van my verwagting
Blyk die stilte te vervreem
En jy dra nog die Skugter Droom.
Was daar ʼn seisoen, mag dit lente wees
Want net bloeisels kan in kranse vir jou staan.

Wat doen ons hier?
Kyk my Britse Jesus
Jou verward aan?

Elke volk, Elke stam … in sy eie taal.

Hoe tel ek die splinters op?
Waarheen dra ek die skerwe van my bestaan?
My hande is flenters
My knieë dra die letsels van jare se glas
Tog prewel ek steeds
“God wees my tog net genadig”
“o-Jirre!”

Soms is ek voor my vyande
Om die stok te slaan,
Skel en laster ek aan die kruis langsaan …
“o-Jirre”

3 Julie

Weer is my pen leeg
uitgeteer oor bladsye suf en sier.
weer is my woorde hol
dors gedagtes op soek na betekenis.

Kon ek ooit ʼn duideliker wete gehad het?
Kon Jy enigsins Meer vir my bestaan?
stilweg hunker ek steeds
dors my wese na ʼn groter belewenis …

Jou vorm bly my ontwyk
tog met elke spieëling
sien ek Jou skadu om die hoek verdwyn
ruik ek Jou in die wind
en weet Jy is daar!

Kan ek enigsins beteuel?
Is daar rede om te rem?
Waarom sou ek terughou?
Waarom sou ek skugter?
As alles in my slotsommend weet:
Dis net JY
“Net JY”
Eggo dit in die duisternis

4 Julie

ʼn Mens het sterre gekyk
Wanneer jy die aarde se beweging in hulle kon sien.

Die oggend dra hom saam met die eerste brode uit,
Terwyl die oond nog warm word,
Met ʼn rooi gloed luier die strale vir eers.
Later sal hy nog wit brand

Ek hoor jou hart teen myne
en die bos transponeer jou vreugde tot ʼn kwetter skal.

Salig dryf hy na die ander kant
terwyl ons in die sweet van ons aangesig
die tyd verbou.

Dan kom dit weer
aan die oorkantste oewer
met die dag ryp en vol gebeure
hang die stof swaar in die laaste knal.

ʼn Afwagting rol tapyt
oor die venster van die heelal

6 Julie

en hier sit ons onder die sterre
terwyl ʼn beeldbeuel gedaantes
teen ʼn lap laat dans

die kinders van Afrika se gesiggies
gloei in die golwe lig
wat oor
hulle spoel

Betowerd staar hulle na die
gedoente wat die
vreemde mense hier kom opslaan het

die kragopwekker knetter eenkant
teen ʼn rustige pas
en die film kom tot sy einde
tog is dit net die begin

want die Man in die storie lééf

Dis eintlik vroegaand toe ons
die eskomdonkie agter op ʼn fiets wou laai
nie dat die fiets vanaand nog gaan kan ry nie
want die saal moes waai om plek te maak.

Daar stap ons soos die Israeliete
net sonder die vuurkolom … ?

Die fiets

Ons ontwaak met die luier van die bus wat die stilte verskeur,
een vir een soos meerkatte uit ʼn gat peul die span en sy geselskap
selfs van onder uit die bus.

Dit was ʼn kort nag.

Terwyl ek ʼn draai om die bus loop sien ek ʼn fiets.
Niks vreemd nie.
Dié stapelvervoer sien jy oral in Afrika.

Slaapsakke word opgerol en koplampies krap in sakke rond
– ons moet al op die pad wees voor die son opkom.

Reg om te roer, merk ons dat die fiets nog houtgerus langs die bus lê …
Onraad?
ʼn Portugese brabbel laat ʼn man heel verleë van agter uit die bus verskyn,
skamerig verlaat hy sy bus-ster-hotel,
of verlaat sy hotel hom toe ons in die donker oggend in verdwyn.

Tog nie met leë hande nie?
Nee, niks is weg nie
ek dink net aan die kampvuurstories wat hy nog gaan vertel van sy
nag in die bus.

As ek nog een foto of stukkie beeldmateriaal neem van iemand
wat met ʼn fiets langs die pad ry of selfs net stap
gaan ek sekerlik die mense tuis frustreer
wanneer ons deur die magdom beelde moet spartel.

Tog bly dit betowerend
glo ek eers dat ek in Afrika is
wanneer ek dit oral sien.

My Afrika, waar enige ding met wiele
“4×4” is en ʼn vrag kan dra …

Ek sit in ʼn kerk, een van die groteres wat ek al in Afrika gesien het.
So graag as wat ek Portugees sou wou leer, help die dubbelmedium preek glad nie.
Wat ek wel kan sê is dat die Engelse weergawe darem goed was.

Wat nie uit die stukkie hierbo so duidelik besef word nie, is dat ek in my persoonlike hoedanigheid goed geskool is om in amper enige posisie te kan slaap en dat ek so deur die foto’s neem en beeldmateriaal invorder, dié paar lyne kon skryf … ên slaap. Jip, ek het meeste van die diens gemis en later moes hoor dat die maat wat gepreek het nie noodwendig 1000de kassette sou verkoop nie.

Die afgelope week spieël
deur die gange van my gedagtes

Sou die stilte hom verwaan?
Sou die tyd homself verspeel?
Sou jy die muur afbreek
wat nog net aan jou kant bestaan …

It’s funny how we despise death,
Funny how we shy from something
Completely out of our Control.

It’s all Good, Take me

Ek het iets dié nag bespeur in die bus toe ons deur die slaggate ploeg, net om later te hoor daar was nogal ʼn klomp mense wat gebid het dat ons tog net veilig by die huis sou kom … hie-hie

Hierin word die teendeel bewys
Wanneer jy vind voor jy soek.

7 Julie

Ek dink aan die algemene handelaar
met haar tafeltjie langs die strand
in Vulankulos

vir ʼn paar “meitjies” het sy
haar hele besigheid laat skuif
sodat ons bus kon verby kronkel
op pad na ʼn geteerde weg.

EN1 – Hoofweg

Ek sal maklik ons drade
ruil vir die seltorings hier.

Al ontsnap stukke teer hier en daar
bly dit steeds mooi,
Dalk moet hulle maar gras plant?

8 Julie

Gisteraand het die span ʼn hele pub
oorgeneem en gedans soos Afrikaners.

Vanoggend het ons dolfyne en walvisse
gesien toe die son oor die see opkom.

Ek vind in jou die maat en metrum
van ʼn diepe siele rus
gekunsteld tot die ritme
van ʼn oeroue puls . . .
beur die stilte deur

Dis waar die nag begin
ʼn noue aanskouing
Nee, ʼn noue ontkoming
met vergetelheid

Jou flikkers dans oor die plafon
skimme van die eeue
kryt uit teen die eindelose nag

9 Julie

die rustigheid klad deur
die kontoere van Jou raak
stadig skulp ek my in Jou vrede in
tot ek weet – nou is dit veilig …

gepantser in Jou vorm
breek die diepste ween los
en die hunker na Jou nabyheid
vind my terug op Jou bors

dit is waar ek sal wees
in die skade van Jou sy
in die letsels op Jou rug
reg by Jou

ek speel met lettertjies
en kyk wat hulle aanvang
soos kinders op die strand
baljaar hulle vorms in die sand

10 Julie

Die landskap treur in die maanlig
terwyl Mosambiek stadig uit die bus se vensters spoel.

Ek dink ʼn stukkie van my hart
kruip hier iewers weg …

Ek sal moet terugkom
om hom te kom soek,
weer en weer

… maar nie té hard nie …

Weer soek ek woorde om Jou
om te soom.
die gedagte van Jou teenwoordigheid
blyk nie te vinde te wees in letters nie

Jy bly onseglik
en hoogs onmisbaar

28 Junie – 10 Julie 2008

Soos dit met sommige stukke skryfwerk is, gaan dit wat ek bedoel het, dit wat daar staan en dit wat jy gedink ek daar geskryf het vyf verskillende goeters wees. Ek het partykeer gedink dis ʼn gediggie of woorde vir iemand van die teenoorgestelde geslag, net om later te besef dat Iemand dit eerder vir my geskryf het. Nog iets wat ek nie beplan het nie.

Partykeer kom daar ʼn spieël op en jy dink: “nee, gelukkig is ek beter as dit, wie is die mens in dié prentjie, Here? Moet ek vir hulle bid …?”

Oeps.

Dit het begin met films soos “American history X”. “Tears of the Sun” het my gemoed van voor af geskud, so ook “Hotel Rwanda” en hier ʼn paar jaar later in ʼn kliniek op Maforga bars ʼn Magtige God los deur ʼn siek kind.

Sonder om die films ʼn onreg aan te doen wil ek vir jou iets van die tema vertel. In swart letters. Dis nie mooi films nie. Hulle gaan jou nie soos “August Rush” ʼn warm gevoel gee voor jy met ʼn glimlag gaan slaap nie. ʼn Swart sweer het uit my hart geteer toe ek besef dat mense wat sinneloos doodgaan my nie juis ontstel nie.

22:53 pm

Die Kommissie het intussen ophou speel, iewers in die uiltjie. Die sterretjies pryk ook vermoedelik nog agter die intimiderende wolke, intussen sluip spookbeelde van voorheen glorieryke dorpies by my venster verby. Dat sommige van die span se name my nog ontgaan is nie minder waar as die feit dat julle lewens deur myne gespoel het. En dit in ʼn land waar verspoeling soveel verwoesting bring, kan ek sien hoe juis die teendeel tussen ons gebeur het.

Terug by die films.

My reaksie op die sinnelose geweld het my gekonfronteer toe ek besef dat die Maforga vigskinders dié wêreld verlaat soos hulle hom betree het, as kinders. Die besigheidsman in my het die “col
lateral damage” bepaal en koud bevind – dié kinders dra geen sent tot die wêreld se ekonomie by nie.

Amper dadelik wou ek my van sulke gedagtes vervreem, maar soos die kinders het hulle blymoedig agter my aangehardloop oral waar ek geloop het, want sien: hulle is my wesies, my buite-egtelike skande wat net erkenning wil hê vir hulle bestaan. Kan ek die swart hoekies in my hart eien en voor my Bruidegom erken: “Ja, dis wat daar binne aangaan” en hulle vir die gekruisigde hande gee wat juis daarvoor betaal het.

Eers toe ek die waarheid in my eie hart deur die oë van my Vader sien kon ek die kinders van die land optel en op die heup rond dra. Kon ek die vreugde in hulle oë sien en hulle spore in die sand volg wat vir sommige net ses jaar daar gaan wees voor die wind dit uitvee …

Die punt: Hy het ʼn heelal geskep, alles in perfekte balans geplaas sodat ek dalk 70 jaar op aarde kan beleef en ervaar wat die engele nooit van Hom sal ken nie. Wie is ek om die kinders nie daardie belewenis te gun nie, al is dit ʼn effektiewe druip persentasie in vergelyking met my lewe tot dusver.

Immers het Sy Seun ook vir hulle gesterf. “Moet die kindertjies nie verhinder nie …”

ʼn hart verander

Vir die rekord: Dit was nie op die vrywaringsvorm wat ek geteken het nie, nie eens in kursief of die fyn skrif nie …

Deur my venster het die wolke plek gemaak vir die maan, treurig en mooi. Dis amper twee weke gelede toe ons hierdie pad gery het, helder oordag. Met relatiewe skoon klere, wel ʼn bietjie geskend deur ʼn nag op die bus, maar nietemin skoner. Ons was soos die gestrykte klere ook onaangeraak, anders as nou.

ʼn Gesprek van vroeër vanaand speel terug: “Ek sou nooit in Pretoria ʼn gebraaide hoendersosatie by ʼn straatmark gekoop het en ʼn feesmaal van dit gemaak het nie …” Dan onthou ek soos gister die eerste vleis wat ek by ʼn mark net suid van Angola in Namibië gekoop het, toegedraai in twee dae gelede se koerant. Die ondervinding is nog lank nie vir my ou nuus nie.

Dis nog iets van Afrika wat nie sy bekoring verloor het nie: haar manier om jou vir ʼn dans te vat – of dit nou deur die slaggate van jou eie lewe is of ʼn goeie 80’s sokkie tussen die banke van ʼn bus. Kort voor lank ry jy in ʼn taxi en beleef die wonder van ʼn drywer se geloof(?) in ʼn skedonk se vermoë om jou deur die strate te verplaas. Dieselfde Afrika dra jou op haar hande met ʼn bord pap en ʼn paar bone, vrouens wat sing en klap terwyl die hart in dromme tot diep in die nag puls.

Afrika, waar die liggies van die stat nie die hemel toe skyn nie.

12 Julie 2008

Nie meer die buitelander nie
Nie minder die vreemdeling nie
Al ken die strate my naam
Is dit nie meer ek nie

Ek kyk om my en sien dat dié stad
nie verander het nie
haar wesies dans nog by die ligte
groen, geel en rooi …

2008-07-27 ‘n Gedagte Draadloos_01

2008-07-27 ‘n Gedagte Draadloos_01


Witbank. Gewoonlik is dié een van die min plekke in die dorp waar dit stil … um … rustig is, maar ek is nie in ʼn dorp nie. ʼn Emmer water hou die deur toe, eintlik baie handig, want sodra alles verby is kan jy sommer dadelik jou hande was. Die hele spoelaksie berus by goeie beplanning en koördinasie, want anders as die geriewe wat jy ken het hy nie ʼn klein reservoir met ʼn handvatsel wat water ontketen en jou soos ʼn laaste sug verlos nie.

Die gehuggies dwerg onder die reuse bene van die bos, eintlik stelte wat die blare kombers daar bó hou. Hier en daar skelm ʼn ranker op vir ʼn bietjie son, verder hou die bos hom vir homself. Eers na die derde dag sink die stilte in jou siel in en kom jy agter dat dit nie omgee waar jy gaan nie, dis rustig.

Met die leë emmer terug op sy plek besef ek dat dit seker een van die meer luukse geriewe was wat ek al in ‘donker Afrika’ gebruik het. Buite omhels ek weer my geliefde in haar kinders wat rooistofpadstap, fietsry en ou manne wat streepsakke houtskool dra. Wit tande. Bon tarde! Sy hande lig in respek wat ek antwoord met myne sommer so in die verbyloop. Obrigado!

Plekke het ʼn manier om hulle eie merk in ons geheue-vaandels te maak en soos ons deur hulle dink wapper die vreugde wat ons daar beleef het. So, hoe kan ek nou vir jou wat nog nie in Mosambiek was, ʼn opvou vlerk tussen letters versteek waarmee jy die vlug kan baan? En jy? Waarmee sal jy my beur op die toere waar jou foto’s megastrukture van gevorderde samelewings postuur?

Nietemin gaan ek probeer.

So in die naeltjie van Mosambiek teen die een sy van ʼn plantasie wat homself bos hou, vind ʼn gemeenskappie sy herd. Haar kinders se klere is soms minder as heel en magies duin onder hempies uit. Ja, ʼn snotstrepie is daar ook en die ogies glinster sku sou jy vir ʼn oomblik stop om die wêreld in hulle te sien.

Met hierdie uitreik was dit meer van ʼn reis, ʼn ontdekkingstog waar Afrika my kom soek het. Soms kan mens net iets soek sou jy weet wat dit is en ek het nie altyd geweet nie, maar deur die hele tog is dit meer asof iets my kom vind het en dus van die begin af geweet het wat gesoek word. Dis seker ook so met die dinge wat ons glo, het ons ooit regtig geweet wat ons soek, wat ons gaan kry? Tog voel ek al meer gevind in die proses waar ek ontdek dat dit waarvoor ek gesoek het nie naastenby dit was wat ek wou hê nie. Dat dit wat ek gekry het eintlik dit was wat ek nodig gehad het …

Vir iets soos agt jaar jaag die begeerte met wispelturige verlange my om die buurland te kom besoek. Soek. Toe ek meteens een oggend net na ses deur die waas van ʼn nag se bus die grensdraad tussen ‘ons’ en ‘hulle’ sien, was ek alles behalwe weggeblaas. Maar soos die verkopers in die vroegoggend deur die voertuie sypel en hulle ware wou verkwansel kom sluip ʼn land in my hart in.

Ritmies in die wieg so tussen gehuggies, bouvalle en slaggate deur spoel die kleure deur die ruite en skud en dans ons met dit tot ons saam met die kinders langs die bus hardloop en lag. Plantasies palmbome swaai heupe soms so ver soos die horison en vir iets soos R3 koop ons botteltjie-coke, van daai met die regte blik doppie.

Die uitreik deel maklik in twee, bos en see. In die bos het die span help bou en grawe aan wat ook al nodig was en so tussendeur hare laat vleg en by krane gou met die inwoners gesels. Kleuters op die heup en klam handjies om die nek het Afrika alles gedoen om harte te verower. Dit het gewerk. Tog gaan dit oor meer as dit. Die Afrika waarvandaan ons kom is soms ook donker, en in die hande wat bone en pap voorsit met die legendariese happie of twee sand, kry ons ʼn liefde wat verby taal of kleur reik.

ʼn Liefde wat waterkloofdollars nie kan koop nie en ʼn liefde wat nie vigs gee nie. ʼn Liefde wat verder as ons teologiese verwarring strek en diep in jou hart kom troon soek.

So vinnig gaan ons ongenaakbaar deur die lewe en as dinge te erg raak smeer ons nog ʼn lagie shatterprufe tint aan die ruite. Bly net buite! Ons soek nie meer nie en is eintlik bang as daar na ons gesoek word. Iewers het ons geleer dat arms daar is om jou op jou afstand van my af te hou.

My voetstappe kou rice-crispies in die gruis langs die grootpad. Ek kyk op.

Ek is alleen. Ek is nie bang nie.

ʼn Trossie huisies begroet my met kinders wat skamerig naderkom om ondersoek in te stel. Gebare-vra ek of ʼn paar fotos in orde is, ʼn soortvan-ja kom deur en die wat nie wou nie het gou iets in die huis gaan soek. Later het ʼn steenbouer my eintlik kom vra om sy onderneming af te neem. ʼn Gat en torinkieoond daarby herinner hy my aan van die ‘hooggeplaastes’ wat ek al afgeneem het, baie beïndruk met sy eie idee al verstaan niemand wat hy daarmee wil doen nie …

Ek kan nie sê of ek in die bos of by die see gevind is nie, dalk op die bus?

Eintlik hou ek nie eens van die see nie. Was dit nie vir ʼn bietjie verspottigheid nie het ek seker ook nie eens geswem nie.

(ʼn Paar mane het die een aand in die branders gedraai … hie-hie …)

Terug by die punt: Tofo sal my weer by die see uit vrye wil kan kry.

Seker meer te danke aan die atmosfeer as die uitsig oor die dam …

Amper ʼn duisend woorde later kort ek nog kryte vir dié prentjie. Soek. Ontdek ek nog my eie ontdekking. Hoe sal ek dan Mosambiek in die verbygaan beskryf? Hou op om die boeke te lees en gaan sien die plek! Kom dan terug en lees weer. Net om te sien wat jy dalk die eerste keer gemis het. Gaan weer. Herhaal prosedure.

Dan, dink ek, is jy gevind.

Kan ons na al die lees, dit wat ons gedink het ons soek, los, of selfs gedink het ons gaan kry – vergeet – en net die Man ontmoet vir wie Hy is.

Ek sien meer uit daarna om terug te gaan as in agt jaar om net te gáán.

ʼn Hele generasie het die Man wat daagliks tussen hulle was gesoek, terwyl Hy hulle eintlik deur die kruis wou vind …

Wat is erger: niemand wat jou vind nie, of niemand na jou soek nie … ek het gehoor van Iemand wat 99 sal los om een te soek tot Hy hom vind …

Post Navigation

%d bloggers like this: