die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “Afrikaner”

2009-02-22 ‘n Stofpad Gedagte_06 Orania

Ek weet nie of jy die TV/radio advertensies van “Boys’ Town” kan onthou nie? Iewers het die stem gesê: “Ek het gedog daar gaan tralies voor die vensters wees …” Dan gaan die grappie aan “… maar die eerste vensters was eers op die derde verdieping”.

Snaaks hoe mens vanuit jou vooropgestelde idees leef of die wêreld beskou. Ek het sulke idees oor Orania gehad en sal graag my uitstappie aan die dorpie aan jou wil beskryf, maar om die belewenis so raak as moontlik oor te dra sal ek my vooropgestelde idees aan jou bekend moet maak. Reg of verkeerd, mooi of lelik, dis wat ek gedink het.

ʼn Gatkant dorpie, waar ongeveer 600 stoere Afrikaners gaan wegkruip met die hoop dat die wêreld wat hulle skep ʼn wit een sal wees of dalk om Suid Afrika weer iewers in die onbeduidende toekoms oor te neem. Ons was oor die 1000 leerlinge toe ek op nog op hoërskool was, 600 mense wat oor iets saamstem is nie baie nie.

Stofstraatjies. ʼn Maer wit laitie wat by die vulstasie vir jou brandstof ingooi. Om daar te kom moet jy iewers in die Karoo inry, probeer om nie te verdwaal nie en hopelik die droë plekkie raak ry voor die son jou alleen kry. Boere met groot baarde wat nog met sannas skiet en die Zoeloes haat.

Ja, ek het ʼn klein bietjie vet gesmeer. Net ʼn bietjie. ʼn Vriendin het gedink die vrouens dra Voortrekkerkappies. (Om die tafel waar ek sit en tik val sinne soos dié uit mense se gedagtes: “Ry hulle met karre rond?” “Het hulle darem TV?” “Ja, ek sal kan glo dat hulle ʼn eie radiostasie het.” “KykNet is seker bietjie wild vir hulle.” “Is daar ʼn teerpad soontoe?” “Ek dog hulle ry nog met ossewaens?”)

Tussen Petrusville en Hopetown is daar ʼn teerpad en so 30km uit Hopetown het ons ʼn 4-rigting kruising met stoptekens gekry. Orania. ʼn Groot bord teen die dak van ʼn gebou aan die regterkant lees ‘ORA’ en in kleiner lettertjies by die ingang kan jy van die pad af sien dis ʼn ‘OK Grocer’. Met wit kryt op ʼn swart bordjie word jy aan die 5% afslag herinner wat jy kry indien aankope met die plaaslike geldeenheid, die ‘Ora’, betaal word. Die ekonome tussen ons sal dan bespeur dat dié geldeenheid tegnies en teoreties sterker as die Rand is as gevolg van dié afslag.

Ons sien baie klein dorpies.

Orania is oulik. Daar is ʼn ‘Aan die Oewer’ vakansieoord wat skoon en netjiese houthuise het, laat my dink aan ʼn oord by Amanzimtoti waar ek as kind was. Lower groen met pragtige donker bruin verniste houtgeboue. Rustig. Die dame sê hulle geniet dieselfde tipe aandag as die ou ATKV oorde. Daar is ook ʼn Spa waar jy jou van jou tone tot jou kroontjie kan bederf en die gebou is toegerus met ʼn eko-temperatuurbeheerstelsel. Die een hele muur is van rivierklippe in ʼn draadstruktuur gemaak. Water drup stadig oor die klippe wat dan, wanneer die wind daaroor waai, die hele gebou afkoel. In die winter is daar deurskynende panele wat soos blinders oor die muur toemaak, die water word toegedraai en die muur word warm wat die gebou weer verhit.

ʼn Stukkie geskiedenis om die oorsprong van Orania te beskryf. Ek parafraseer verskriklik, want ek kan nie al die inligting in detail onthou waarmee hulle media offisier-persoon ons bombardeer het nie. Jammer. Iewers in 1963 het Waterwese ʼn dorpie gebou om van hulle mense te huisves sodat hulle nader aan die Vanderkloofbesproeiingskanale kan wees. (Dis na my mening baie tipies van ‘tydelike dorpies’ dat mens betonstrate en asbeshuise in Orania kry.)

Die projek is afgehandel, die mense het begin wegsyfer en Orania het in ʼn spookdorpie verander. Rondom 1990 het die dorp op veiling gegaan. Die witmense het dit deur ʼn maatskappy van soorte opgekoop en hulle ideale gevestig in die skulp van dié dorp iewers in 1991. Hulle hamer nogal op die feit dat dit wel vóór 1994 was.

Buite by die publieke swembad het ons ʼn monument gekry. ʼn Reuse koeksister. Ek het begin wonder oor dié plek …

Orania het vele aspekte wat mens laat dink dat daar darem meer as ʼn paar aande oor bier en braaivleis aan dié idee gedink is. Hulle sit vierkantig in die ‘groen’ stoel met hulle energie en omgewingsbewuste projekte. Jy sien sommer oral op straat trossies asblikke mooi gemerk: ‘Glas’, ‘Plastiek’, ‘Papier’, ‘Blikkies’, ens. Behuisingsprojekte word van strooibale tot polistireen gebou om goedkoper en volhoubaar te bou. Selfs droë toilette is op die lys.

Hulle probeer alles.

Selfs die landbou spring nie ‘groener’ ideale vry nie, diere wei in die boorde om sodoende te help bemes aan die grond en van die boere breek ook nie meer die grond in hulle landerye wanneer daar geplant word nie.* Trots kondig die persoon wat ons rondlei aan oor hoeveel joernaliste hulle besoek en van al die mense uit die buiteland wat na hulle ‘volhoubare nedersetting’ kom kyk en bewonder.

Daar is iets geniepsig wat my net nie wil los nie. ʼn Stoute seuntjie in my wat die ou oom oorkant die straat permanent die josie in wil kry. Sy kat wil pers verf, dagga in sy blomtuin plant of wasgoedseep in die fonteintjie by die voordeur gooi. Wat gebeur in Orania wanneer die son sak? (Jy het huiswerk. Gaan kyk die film ‘The Village’.)

Die geniepsig in my het eindelik beelde uit die film in my geheue los getorring. Ek wil weet wat gaan deur ʼn burger van Orania se kop wanneer hy of sy in die regte wêreld daar buite kom?

Die wêreld is nie ʼn wit plek nie.

Soos met ʼn broertjie of tannie in die tronk het mense traag geantwoord wanneer ek hulle oor dié buurdorp uitgevra het. Niemand wil skinder nie. Maar alles is nie reg nie. Dít het my die hele tyd gepla, want dis regtig ʼn oulike dorpie al stem ek nie saam met hulle rassebeginsels nie.

Soos met die film ‘The Village’ blyk dit ʼn goeie idee te wees, glimlag al die mense mooi op die foto’s teen die muur. Maar …

Dié vier lettertjies wat my vrede steel as ek aan die plekkie dink. Ek was al in dorpe waarvan ek doodeenvoudig net nie gehou het nie. Dis soos sekere mense wat glad nie van olywe of tamatiesoustoebroodjies hou nie. Niks persoonlik nie. Daar is net meer plekke waarvan ek oorwegend meer hou. Dis maar dit.

Ek het wel net weereens besef dat my Afrikanerskap nie van ander mense afhang nie. Net omdat ʼn dorpie ʼn string ideale aan die grensdraad hang en dit oor die ‘Afrikaner’ kam skeer, maak nie noodwendig dat ek daaraan vashaak omdat ek wit is nie.

NS. Ek was tot voor die tog deur die land ʼn groot voorstaner van tuisonderrig, maar isolasie van die samelewing is nie gesond nie. Ek is wel dankbaar vir vriende wat deur die proses is en gebalanseerd aan die anderkant uitgekom het. Al sê die mense van Orania wat, hulle isoleer hulleself, hulle kies om eksklusief te wees. Dit is jammer.

*Dié boerdery beginsel maak baie sin, sal jou aanspoor om bietjie meer hieroor uit te vind. As daar genoeg navraag oor die onderwerp is sal ek dalk ʼn gedagte daaroor skryf.

Interessante bladsye:
http://www.news24.com/News24/South_Africa/Decade_of_Freedom/0,,2-7-1598_1515558,00.html
http://en.wikipedia.org/wiki/Orania,_Northern_Cape
http://news.bbc.co.uk/2/hi/africa/3670441.stm
http://www.orania.co.za/


428x60_ZAR_Earn_Gold_Dollar_Globally

Betaal ‘n paar rekeninge uit die buiteland.

Advertisements

2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie

2008-09-30 ‘n Gedagte Porsie

“Strokie asseblief” sê ek amper outomaties terwyl ek my kaart vir die dame gee. Ons is hoflik met mekaar. Sy vra toe “So, hoe celebrate jy dié Heritage Day?”. Ek dog dis Braaidag …

“Ek gaan dit vanaand verseker op ’n spesiale manier doen …” mompel ek deur die valhelm.

Net soos die tolhek in my spieëltjies spoedig verdwyn en ek my oorgee aan die rustige verlaat van die stil snelweg waai die herdenking ook uit my gedagtes.

Maar ’n paar dae later het dit weer begin knaag, soos ’n slegte hoesie wat net nie wil paai nie. “Goed” gee ek oor aan die eerste wonder: “Wát is my erfenis?”. Dadelik dink ek aan kulture wat ek as ryk aan erfenis ag en besef dat 350 jaar skaars ’n tiener is in hulle geselskap. Kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dis dalk seker hoekom dit so stil is.

Nukkerig neul ek toe dat al wat ons as Afrikaners op Erfenisdag saambind ’n kosmaak ritueel is wat terugdateer na die oermens toe.

Ek luister Tori Amos, dis ná twaalf, slaap is seker ‘n goeie idee, ek tap skottelgoedwater in en al waaraan ek kan dink is my eerste vakansie in Jeffreysbaai Desember 1996. Daar was ’n oom in die woonwapark wat my en ’n vriend in sy motor gelaai het. Ons het baie draaie in die dorp gery tot ons in ‘n woongebied voor ’n vervalle huis tot stilstand gekom het. Hy het heel opgewonde uit die motor geklim en ons R50 of so iets belowe as ons sy gras (wat halflyf hoog was) sal sny en die erf bietjie opruim.

Ons was nie daarvoor te vinde nie.

Ek besef nou meteens ek kan bly wees hy was nie ‘n pedofiel nie. Goddank!

Nou dat ek daaraan dink, het ek daardie vakansie iets van my erfenis begin beleef! Afrikaans.

Dis die vakansie waar ek in Afrikaans begin skryf het. Daar bestaan wel ’n volle 11 bladsye van skryfwerk voor daardie vakansie – als in Engels. Die pad af see toe en die tydjie daar het letterlik vuur gemaak onder die lettertjies in my wese en hulle het uitgesmet* tussen daardie eerste blou lyntjies van ’n klein notaboekie.

Iewers in die jare voor dit het ’n liefde vir letters en hulle rangskikkings in my grein kom ínvlek dat, selfs nou, ek hulle in arms vol wil laat bos-staan in die vase van hierdie aardse kruik.

Oulaas

Hopies verdriet lê alleen,

met net ’n naam

’n datum,

wat as merker dien.

Gestasioneer

weg van liefde,

tussen kroesies halfwoestyn klipkoppies.


’n Blom het verskyn,

tussen klip en harde grond,

soutwater-liefde

het hom gestreel,

en in die Sondagoggenddou

wat soos ’n diamante lê en glimlag

het dominee, “Amen” gesê.


Swart geklee,

het ons in die somerson

weggestap

van dié rusplek

in stilswye

vir die laaste keer …

Mens moet seker ook eers iets hê, voor iemand anders dit kan erf?

Lina is seker een van die meer vreemder dames wat al by ons gewerk het. Soms as ek wakker word en nie ten volle besef dis al weer Maandag nie bevestig haar giggel so vroeg in die oggend dit vir my.

(Wat dínk jý?)

Ja, die ou siel het die gewoonte om sommer vroeg in die oggend by ons huis op te daag en met die intrap gou ’n geselsie aan te knoop. Dis nie dat sy een of ander verbale diarree of iets het nie, sy wil net sê hoe dit gaan en ook graag weet hoe dit met ons gaan.

“… hie-hie … kyk hoe maak hulle. Hulle bel in, tsjik en antwoord die vraag daar by die radio en wen dan sommer ’n duisend rand. Hie-hie … hoor daar!” Verduidelik-vertaal sy vanmiddag terwyl haar stasie oor die draadloos blêr. Ek sit en eet terwyl sy langsamig aan ’n beker tee sit en drink. Ons het vir ’n tyd – toe sy alleen in die dag by die huis gewerk het – gedink sy luister skelm Radio Pretoria, net om later te besef sy skakel na die naaste Afrikaanse stasie toe net voor sy in die middae loop.

Dis dalk deel van die erfenis wat ons generasie moet probeer nalaat, ’n verlore vyandskap verdoesel deur jare se wedersydse aanvaarding en begrip …

Wedersyds.

Mag ons eendag om dieselfde vuur sit, verskillende stasies luister, maar dieselfde vleis braai.

Ek luister na Eva Cassidy wat haar weergawe van John Lennon se “Imagine” voordra. Dis eintlik hartseer? Eintlik wou ek dié gedagte op die vorige bladsy sy punt laat bereik het waar mens goed voel oor jou liberale opinies en jou aandeel in die goedheid van die wêreld. Waar ek voel my kinders gaan in ’n ander Suid-Afrika woon waar ons mekaar nie haat nie.

Toe nou nie. Ek het van Erfenisdag af net te veel oor die hele ding gedink om dit soo maklik te laat verby gaan. Waaragtig spoor ek toe iewers deur een nag in die Beeld ’n beriggie raak oor die stoere Afrikaner wat 16 Desember 2008 ’n 170 jaar se bestaan wil vier.

Ek wonder of hulle weet COPE wil dit hulle ‘stigtingsdatum’ roep. Ja, waaragtig!

Of almal dit wel stigtelik gaan vind, weet ek nie.

So “ons” foeter weer met een of ander ossewa-replika deur na die regse dorpies om 170 jaar te vier. Soos ou Steve en meeste van die res van die Afrikaanse “ek en my kitaar het ’n CD”-troepe, kom dié stukkie ‘erfenis’ nie noodwendig in my boksie trousseau wat ek nalaat vir my ongebore kroos nie. Ja, ek weet die boere het die Here belowe. Ja! Ek weet hulle het die geveg gewen. MAAR wat ek wil weet is wat presies jy dink hulle belowe het en hoe die wen daarin pas.

Terwyl ons klippe in die bosse gooi: nee dié is nie ’n Belhar belydenis nie. As ek alles in die Voortrekkermonument opvreet beteken dit dat ek die vrymesselaars ook in my erfenis absorbeer? Nie ’n manier nie. (Oeps! Het ek dit hardop geskryf? Toemaar, almal in ons verlede was sulke sout van die aarde dat hulle NOOIT met sulke goeters betrokke sou raak nie … belowe.)

Sover ek die geskiedenis reg verstaan (en ek weet dis subjektief tot die regerende party …) wou die boere die ‘donker kontinent’ betree met die ‘lig’ van hulle boodskap. Was daar ’n bloedige geveg om juis dáárdie boodskap die duisternis in te dra … het hulle in die mis gebid vir oorwinning in die stryd tussen lig en donker.

Vandag glo ek nog stééds dat daar duisternis in dié kontinent is en wil ek deel wees van die span wat die Lig inbring. Dat ons in die proses met Taal en kwas die akoestiek van elke dag omlyn en ons belewenis uitsprei oor doek en esel is ’n voorreg wat ek waardeer.

Dít is my erfenis.

*’uitgesmet’: ʼn Konsep tussen uitgesmyt en besmet. Ek dink dat iets jou aansteek om te begin skryf en dat daar soms oortollige woorde ook in die proses uitkom. Van daar af begin die woorde konsepte oopkloof in mense se gedagtes om vir hulle óf ook die oortuiging te gee óf dit te laat verwerp óf selfs net te daag om daaroor te dink. Nie alle konnotasies van siekte is dus regtig relevant met die beskrywing nie tog vind ek soms dat die enigste effektiewe kroniese behandeling vir my siekte is om te skryf.

Post Navigation

%d bloggers like this: