die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “Angola”

2007-10-27 ‘n Gedagte vol los gedagtes …

Die afgelope tyd was nogal interessant. Daar was tye waar ek die son sien opkom het, waar ek saam met die nag se laaste mis die slaap uit my oë gevee het. Tye waar die nag soos die pad voor my net aangehou het. Stryders onder die storm het ons van ‘A’ na ‘B’ gejaag, soos perde in die voorste linies amper ongeteuel om die pas te stel maar met waansin in die oë wat weet die oorlog kom!

Wat weet daar is geen omdraai meer nie.

Tye waar ek gehunker het na die ink, my digitale blad en veer om vlerke aan my gedagtes te gee. Gedaante aan die vloed van lewe waardeur ek soms sleur, soms sny en soms die spanning van die water ry.

Partykeer wil ek skryf
Só dat ek dit amper
Kan voel, kan proe
Kan ruik hoe die
Bloed uit my gebarste
Lip loop

Ek wil my woorde wees
Letterlik my siel
In hulle grein laat loop
Dan kan jy dalk daar
My spore vind
En iets beleef van wat ek
Droom as kind …

(nota: Die vorm is as gevolg van die langwerpige papiertjie waarop ek geskryf het, ek was op pad Brooklyn toe, dit het Donderdag redelik gereën en ek moes gou hardeskywe en ander toerusting gaan aflaai. Dit was al na 9nm. Ek het waaragtig my dagboek by die huis gelos en kon net ʼn brandstof strokie in die hande kry, darem het ek ʼn pen gehad.)

Tussen die gewone spoel van goeters het ek mense afneem wat soms probeer belangrik klink en walglike woorde soos “auspicious” gebruik … net soos die vorige drie ander mense en waar die gehoor amper ʼn merkbare “ooh” en “aaah” gee gevolg deur daardie ongemaklike stilte waar hulle probeer uitwerk wat dit dan nou EINTLIK beteken. Die spreker hou lustig aan met sy gotiese verwerking van iets wat seker in die Sarie gestaan het.

Teen dié tyd het die gehoor lankal opgehou om te wonder wat die ‘leenwoorde’ beteken. Immers praat ons almal maar net kombuis-Afrikaans en aksént-verwardé-Engéls.

Tussendeur dít het ek na die Universiteit gegaan en studente se opinies afgeneem. Ewekansig.

Ek beveel dit aan.

Ek beveel dit aan want jy is ongeken en die persoon met wie jy praat is onbekend. Dis veral lekker wanneer iemand naby jou gaan sit, ek het hulle net uit die hoek van my oog gesien terwyl ons besig was om met die huidige kandidaat ʼn onderhoud te hou. Hy lyk rof en die meisie sal jou seker mooi kan vertel … ek dink hulle is Engels. Ek WíL met hulle gaan praat …

Dan is dit soms verbasend wat mense bereid is om vir jou te sê terwyl jy ʼn kamera in hulle gesigte het. Dan het ek ook al ‘belangrike’ mense sien hap na woorde en wonder wat om volgende te sê.

Sal die roetine van elke dag ons insluk en in die regte boksie uitspoeg? Sodat die groter kubus vierkantig in die niet kan hang terwyl daar na die volgende boksie gesoek word?

Partykeer as ek begin skryf is
daar net niks. Behalwe die stilte van
ʼn blinde stuk papier en ʼn pen wat kwyl,
angstig om sy ink in verhale
te borduur.

Partykeer as ek begin skryf
Bars ʼn oorlog los
Moet ek koes vir koeëls
Letters wat swets
En paragrawe gemors.

Partykeer as ek begin skryf
Dek my pen tafel net vir twee.
Wil ek skryf, wil ek hoor
Wil ek lees, wil ek plekkies in my hart
Vir die woorde maak, gaatjies waar
Ek hulle weg kan steek …

(nota: Weereens op die stuurwiel geskryf, op pad terug in hoog spitsverkeer van Sandton af. Die son wil sak, ek wil by die huis wees, maar nie een van ons twee gaan nou ons sin in kry nie …)

Ek dink dit was in Shoshanguve. Die een oomblik is daar huise en die volgende oomblik volg ek die motortjie voor my na die hek van ʼn erfie waar daar net ʼn bruin verroeste sinkhuisie staan. Dis Sondagoggend en ek is in Afrika. Daar is ongelyke grondpaadjies met hier en daar iemand wat verby stap. Ek kan hoor hoe nie te ver in die buurt af nie daar vurig kerk gehou word. Meteens is ek terug in Noord-Namibië. Net suid van die Angola-grens het ons ook in ʼn sink kerkie gesit. Jy kon soms in die nag selfs skote hoor. In die oggend was Afrika op die stoep, het sy pap gemaak, mopanie wurms en vissies uit die poele water langs die pad. In Zambië het ons tussen die sakke mielies wakker geword, amper asof die oomblik te groot was om te mis het die haan lankal begin aankondig. In die donker het die skadu’s en silhoeëtte gewaak totdat die son hulle eers lank maar stadig uit die weg kom kleur.

Daar is nog. En nog steeds te min.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kinders se klam handjies
In die oggend, as ek kaalvoet
Oor die gras gaan stap.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar dae wat soos ʼn
Vuurherd brand en eindig
As ʼn Pêrel in die
Roet kom lê.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kaja tussen die kakiebos
Haar liefde wat my hart opdroog
Haar drome wat ek vir eendag los.

(nota: Ek onthou soos gister een dag toe ons gaan water haal. Daar was net een kraan in die area. Agter op die waentjie was twee 44 galon dromme, die paadjie was vol gate en plasse water en ek het versigtig met die Toyota Venture hulle probeer mis ry. By die kraan gekom het ons begin om die drink- en kookwater in die dromme te tap. Die son het in ʼn hemelbed van rooi en geel gesak. Dis toe wat ek onthou hoe ek menigte male in die wiskunde- of wetenskapklas gesit het en gewonder het hoe dit sou wees om nou iewers in rou Afrika goeters te doen. Spilpunt-swaai.

Ek wonder nie meer nie.)

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

Op die rusbank. ʼn Onderhoud. Ek dink dit gebeur selde dat ons onsself vir ʼn onderhoud aan die kaak stel.

Die voëltjies sing vrolik buite terwyl die oggend breek. Behalwe vir die ketel wat kook is dit stil in die huis, dis half ses. Hy moet netnou lughawe toe en kan darem dié tydjie afstaan vir ʼn onderhoud.

“Ek dink dis meer die idee van ‘Draadloos’ wat my fassineer en hoe ons dit eintlik in ʼn klomp areas van ons lewe het.” Een suiker, sonder melk, eintlik verkies hy heuning. Die lepeltjie roer so asof hy die dag aandraai al is dit net rooibostee. Hy gaan aan: “Dis ʼn ondervinding-ding, een waar ons iets beleef het en die feit van daardie belewenis kan nie verander word nie. Ek dink aan die gesegde ‘Hulle het oor die tou getrap’. Dit het gebeur, niks wat jy daaraan ongedaan kan maak nie.”

Hy leun vorentoe, asof om iets vertroulik te sê: “ … wel, dis wat ek gehóór het, anders sou die titel seker ‘Touloos’ gewees het.”

“Op ʼn ernstiger noot dink ek dat dit eerder oor ʼn bevryding of ontdekking gaan waar jy nie net iets nuuts beleef het nie, maar waar dit die res van jou bestaan beïnvloed omdat jy dit deurgegaan het.” Dit is eintlik nogal rustig dié tyd van die oggend. Hy kyk vir ʼn oomblik nadenkend by die venster uit.

“Dit gaan oor meer as net Mosambiek.”

“Dis asof, wanneer jy deur die grens gaan, daardie ‘draad’ tussen jou en ʼn ander land afbreek. Ek onthou toe ons op ʼn uitreik in die noorde van Namibië was en ons die een dag by Ruacana na die watervalle op die grens met Angola gaan kyk het. Dit was ongelooflik. Om daar te kom moes ons met ons paspoorte uit Namibië gaan, iets soos 500 meter verder in Niemandsland en daar is die valle. Net regs was ʼn vervalle houthuisie – die Angolese grenspos – met twee wagte, ietwat onwillig om ons in te laat vir dié wat net ʼn stempel in die boekie soek.”

“’n Bietjie teleurgesteld het ons teruggedraai en op ʼn rots gaan sit met ʼn panoramiese uitsig oor die rivier waar hy nog in Angola loop voor hy dawerend breek oor die rand en magtig voor ons uitstort om sy pad grenslangs na die see toe te vind. Tog was dit vir party van die spanlede nie genoeg nie, hulle móés net aan die anderkant kom.”

Hy sit die leë koppie in die skinkbord terug en mik kombuis se kant toe, dit lyk of ons maar die res so in die loop deur die huis sal moet gesels. “Iewers het hulle ʼn gat in die draad gevind, deurgeklim en teruggekom. Studente is mos maar ʼn spesie op sy eie …” skerts hy terwyl hy die koppies langs die wasbak neersit.

“… tog verstaan ek nou eers wat hulle gedoen het.”

“Ons praat ook daarvan om die ‘ys te breek’, daardie plek van waar ons ʼn nuwe vrymoedigheid neem, waar ons met gemak in die ander land ingaan en kan sê ‘ek was al hier’, al is dit net om die storie te vertel dat jy eendag deur ʼn gat in die draad moes klim.”

Die motorsleutels klingel om die laaste rondte in te lui. “Jy wou weet waaroor ‘Draadloos’ nou eintlik gaan?”

“Ons is draadloos, vry agente wat nie aan ʼn leiband volg nie, maar vanuit die oortuiging in ons hart leef. Hoe kan ek dit stel? … dis wanneer die skanse tussen ons en die wêreld afbreek en ons waarlik met vrymoedigheid begin leef.”

Ons waai totsiens vir ʼn laaste keer sommer so by die verkeerslig toe hy afdraai snelweg toe en ek reguit stad se kant toe moes gaan. Die koerantverkoper wou nog nuus verkwansel, maar ek het my kans met die geel lig gewaag. “… onthou ons is nie van dié wêreld nie, al ons is nog in hom …”

Post Navigation

%d bloggers like this: