die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “herfs”

2007-05-05 ‘n Gedagte (nr een van drie)

Dis alwéér winter. Behalwe vir die blare-ding wat verby is en die onwilligheid om op te staan is winter soms vir my ‘n groter aanduiding dat seisoene verander en nog ‘n jaar verby is. In die helderheid van die lente en die somer draai die aarde nie vir my in tyd wat verloop nie. Selfs die herfs is soms net ‘n romantiese gedagte in skakerings van bruin, geel en helder oranje.

Ek dink ek het dié jaar se herfs gemis. Soos iemand wat jy in ‘n oorwink sien verskyn en verdwyn was dié herfs ‘n geliefde met wie ek nog wou praat maar in die losgemaal net ‘n ‘hello’-kyk van kon kry. Die “aand” is verby en al wat oorbly is blare wat soos rommel na ‘n partytjie rondlê. Die wêreld word ‘n leë dansbaan waar die blink konfetti van die vorige seisoen sy glans verloor het en nou vuil op die vloer lê.

Die vorige seisoene se lewe raak skugter en skuil in die herberg van kaal bome en in die beton-oerwoud skarrel elkeen na sy poshokkie toe waar ‘n bietjie warm-en-knus hom kan beskerm van die koue, … en die leed?

Sien, die herfs is amper soos ‘n voorbehoedmiddel wat keer dat die winter ‘n verrassing is – al kom die winter nogsteeds, anders as met voorbehoedmiddels …

Dan is die herfs seker eerder soos ‘n swangerskap. ‘n Tyd waar dinge stadig verander, waar verwagting letterlik daagliks groei en die ongemak wat jy beleef ‘n inleiding raak vir die opoffering wat jy nog gaan maak. Dan baar die nuwe seisoen sy volle implikasie en meteens stort jou vooropgestelde wêreld in duie as realiteit sy pond vleis kom haal.

Nou, voor die slapelose nagte en die donker-wakker-ure ‘n tronk word waar die tyd van jou vergeet en die dag-en-nag-en-vroeë-môre jou laat sidder en beef. Weet dit. Die winter is ook net ‘n seisoen. Die pokkel word ‘n peuter en ‘n kleuter en ‘n kind en die eindelose nagte begin weer die toe-oë van jou siklus vind.

Die winter baar soms kinders wat na jare eers die wêreld in sy volheid wandel. Die ongemak en onrus wat onvermydelik jou kom ‘hael’, is ook net ‘n seisoen. ‘n Seisoen wat noodgedwonge kom, en weer gaan.

Dit is hoekom die herfs vir my belangrik is. In haar romantiek kom fluister sy saggies die waarheid in my oor, maar ook die hoop. Dans sy ‘n laaste skoffel saam met my voor haar lyf my teen die einde van die aand koud laat. Sy word die liefde waarna ek verlang.

Maar die herfs is meer as net die voorloper van ‘n koue leë tyd. Meer as net ‘n verlore liefde en meer as die rooi sinjaal wat verandering aankondig. Herfs is die sterfkreet van verganklikheid, die laaste uitroep van dit wat net ‘n seisoen lank hou. Dít is dan ook die verskil tussen ons en seisoene.

Ons hou langer.

Herfs raak die oproep na die skaal – winter – wat kom weeg of dit wat ons geleef het ook langer as die seisoen gaan hou …

Herfs is ‘n vriendin wat ek altyd wil ken, die vrou met wie ek my lewe wil deel, die aanslag waarmee ek wil leef en die ywer waarin ek die wêreld wil bewandel. Herfs is die waarheid van dit wat oorbly, en die uitdaging vol in my gesig. Herfs is die kind wat ek wil hê maar ook die ouer.

Nader as ‘n soen wil ek haar ken, maar beter as my gisters haar onthou, want herfs is ook net ‘n seisoen wat kom in die rooidag en verdamp saam met die dou.

Voor dié winter my kom weeg en die koue my totaal uitklee, gaan ek eers ‘n bietjie herfs hou. ‘n Oomblik neem om die dou te waardeer voor die ryp kom versteen.

Herfs, soos die nag in die tuin. (Getsémané)

Ontroerd, maar verwagtend.


428x60_No_List_No_Problem_See_Results_From_Day_One

Het jy al daaraan gedink om aanlyn te werk?

Advertisements

Post Navigation

%d bloggers like this: