die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “Namibië”

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_02_pylvak

Ons het vanoggend uit Kuruman vertrek, al vier van ons. Die rugsakke het saam met ‘n nuwe vriendin terug gery en die getroudes het gemaklik gesit. Al het ons ‘n paar gesprekke gehad wat mens kan laat dink dat die wêreld se probleme opgelos is, het die avontuur van terugry nie heeltemal ingeskop nie … dis eintlik ‘n rare ervaring.

Pretoria bly mooi, dit is altyd lekker om die stad uit die verte te benader. Vandag kom ons uit die weste en die geboue lyk indrukwekkend. Dit is Sondag.

Met dié dat die eerste geboue om ons toring en ek moet opkyk, ver na bo, om die blou lig te sien. Omhels sy my. Gaan my oë toe. Ervaar ek weer daardie bekende klem en meteens spoel die afgelope week se gebeure weer deur my wese en onthou ek daardie eerste keer toe ons op ‘n sandbank teruggekyk het en die klowe ons omhels het. Ure vroeër was die vlaktes agter ons en sug die aarde weg om die spilpunt van ‘n silwer lyntjie doer onder …

Die reis het eintlik met daardie eerste SMS begin en nou, nou dat ons hier op die rand van ‘n diep dalkloof met steil wande staan, kan ons nie meer omdraai nie.

Ek en Franszo het ‘n dag voor die ander deurgery – eintlik het ek gedink daar gaan meer mense wees met dié idee, helaas nie en net voor donker die dag voor ons begin stap, het van die eerste medestappers in Ai-Ais begin arriveer. Van ons het darem al soortvan by ‘n vergadering voor die tyd ontmoet en sommige was reeds kennisse, tog het ek seker meer as die helfte van die mense glad nie geken nie.

Ek het soms ‘n uitdaging met die onthou van name. Dié wat my ken kan al die tekens onderskei sou ek daardie oomblik die naam vlugtend in my gedagtes beleef. So, ek maak assosiasies – dit help … soms.

Maki was maklik, dink “Sushi”. Haar vriend se naam is Henk (hulle hou hande vas en maak ogies vir mekaar) beide Maki en Henk het k’s in hulle name (onthou dit!). Maki het ‘n rubber hoender saamgebring, ek en die hoender het nie juis gesels nie maar ek dink sy naam is Hoender (maklik genoeg). Hoender kom saam, soms agter op Maki se sak en soms dra Henk hom. Ek is eintlik nie 100% seker hoekom hy saamgekom het nie, maar Hoender lyk super op foto’s. Henk se duur stapskoene is kort voor die tog gesteel, so hy loop met ‘Converse’ ‘sneakers’. Ek kan dink dat geharde stappers vies sal wees dat Henk so goed gedoen het met wat sommige mense sal bestempel as ‘winkelsentrum pantoffels’. Hy doen animasie en ander media gefokusde werk in die Kaap terwyl Maki kuns veroorsaak en ‘n krale winkel in Pretoria het.

Magdel het ek darem van sien en ander skrams ontmoetinge geken. Ons het ook gemeenskaplike vriende. Sy doseer kuns en veroorsaak skilderye. Ja, ons was nog op pad af die eerste dag van die tog en terwyl ander mense na hulle asem snak (party omdat dit so mooi is en ander omdat hulle bloot net uit asem was) het sy argeloos kwassies, ‘n verfbordjie en houertjie water te voorskyn gebring en ‘n landskap geverf. Niks vreemd daaraan nie. Sy was ook so gaaf om uit rooi en blou velt lap vir ons almal (29 stappers) vissies met geel knoopogies wat met daardie klein kopergeel doekspeldjies kan vassteek, te maak. Ek het nou nog myne.

Voor my het Elaine soms gestap. Sy het ‘n kettie agter aan haar rugsak vasgemaak en twee Smurfs soms saam met haar kamera te voorskyn gebring. Haar vriendin het vroeër die jaar ook dié roete gedoen, ook met twee soortgelyke Smurfs byderhand en strategiese foto’s van dié animasie karaktertjies afgeneem. Otto het ‘n plastiekpyp by hom, dit het my ‘n oomblik geneem maar ek het wel tot insig gekom dat dit niks anders as ‘n visstok daar binne in is nie. Dit is immers die VISrivier!? Hy het sommer by die eerste watergat al ietsie uitgetrek. Daniel, wat ek darem al ‘n paar jaar ken en ons het saam geswot, het ‘n toilet saamgedra. Dink: opvoustoel sonder rugleuning met wit toilet ring en deksel. Jy grawe die tradisionele veldtoiletgat, maar eerder as om jou konsentrasie tussen balans en waarvoor jy die gat gegrawe het te koördineer kan jy dié stoel gedoente bo-oor die gat korrel en rustig op hom sit. ‘n Eenvoudige luuksheid wat die dames terdeë waardeer het.

Soos wat dit maar in die lewe gaan dink ons ander mense is vreemd omdat hulle nie ons eie vreemdheid deel nie. Dit was toe heel normaal vir my om moeite te doen om my selfoon saam te neem. Nie omdat ek gedink het ek kan iemand spesiaal uit die kloof bel nie (geeeeen sein!!!), nee, omdat ek nie juis ‘n digitale kamera het nie en die eenvoud van my selfoon se kamera geniet. Dit is ook oulik dat my selfoon ‘n tweetalige woordeboek op hom het en ‘n GPS. Ek was lanklaas so tevrede met ‘n stukkie tegnologie soos wat ek met my foon is. Vir die rekord en nie omdat ek ‘n sent van hulle gaan kry nie: dis ‘n Nokia E72 wat in sy “offline mode” die volle vyf dae van die tog gehou het en my ‘n dag of wat na die tyd toegelaat het om oproepe te maak – alles sonder om batterye te ruil of weer te laai!

Daar was nie enige gebrek aan uniekheid by die res van die geselskap nie, ek wou maar net ‘n paar van die karakters aan julle voorstel, veral Hoender.

Daar bestaan ‘n stilte wat min mense ken. ‘n Stilte wat in jou wese insyfer, jou kan deurtrek en in sy demper ritme ‘n dans tussen die slag van jou asem en die puls van jou hart laat wieg.

 

2010-08-07 – “Die Tweede Dag”

Ek vind spore van my begeerte

In die sagte kreet van ‘n horison

– ‘n Bakhand hunkering wat pleit

 

in spieëlbeeld met die kroes kinders,

is dit my hart wat angstig vir sielekos vra…

 

2010-08-08 – “Die Eerste Nag”

Ons ekspedisie lei ons af in ‘n kloof

Om ons groei die mure rots

En terwyl ons deur die skerwe van ‘n vóór vergete tyd loop

Breek nuwe betekenisse in ons wonder oop

– Mooi; het nie net een kant nie

En gedra haar glad nié tipies nie …


2010-08-09 – “Die Eerste Oggend Onder”

Dit was koud deur die nag, maar van so aard dat

jy die bewuswording-wakker waardeer het die oomblik

wat jy besef al die sterre is nog daar. Wanneer die

enigste gordyn tussen jou en die hemel twee ooglede is,

en jy weet die klowe oor jou waak. Dan rus jy anders.

Waak jy nie uit vrees nie maar uit die gemoedsrus

van duisend helder ligte – wel nie om jou nie,

maar BO jou.


Na die Nag se windjie

Het die duine van ons vergeet

Spook slegs skimme van spore

By dié wat daar was en dit wee


Met die oggend jonk en vaak

Kry die rimpels hoendervleis

Waar ‘n luggie die water raak

Soos die dag uit die aarde ruis


2010-08-11 – “Voetnota”

Stapstok haak voor ete in klippe vas.

Duct tape korrigeer die skade …

(Dit was eintlik die tweede keer op die tog waar ek en die duct tape slaags raak. Die eerste keer was net voor die eerste skemer toe ons begroet is deur ‘n trop bobbejane wat op die oorkantse oewer amok gemaak het. Elaine se kettie het handig gekom om net-net die grens tussen mens en dier te bevestig. Tog was dit soms nie genoeg nie. Ek het ekstra skoenveters uit my sak gekry, duct tape en “baby wipes”. ‘n Paar toetsmodelle en ‘n stel veters later staan ek toe met Dawid se getroue wapen aan my sy. ‘n Slingervel.

Ek het jarre laas een van dié primitiewe uitvindsels bedryf en is redelik bly ons moes nie reuse of kos jag met die ding nie, hy het wel geen respek gehad vir die afstand na die oorkantste oewer nie en het gemaklik my klippe tussen die bossies doer anderkant laat spat.)

 

2010-08-12

Hoor jy die sterre?

Snaaks hoe die stilte om jou

Die dreuning binne stilmaak …


Dis anders as om stil te word in die stad

Dáár maak die stilte jou alleen.

Hier word jy en die stilte een.


Stilword

Vandag was soms harde pad

Onder ‘n genadelose son

Ek wonder of dit regtig te veel raak?


Saterdag, “Die Sewende Dag” 14 Augustus 2010

Iets in die Natuur voel of dit die

Genadeloos in ons wil toets

Asof die barre aarde my bloed soek

Om die grond weer Rooi te vlek

So soek die genadelose natuur sy

Genadelose kinders in my

Wil sien hoe my lippe bars

Hoe ek dors word …


My oë gaan oop … jakarandas? Beton en teer verneuk my hart en ek sukkel om die stille waters van die kloof te vind.

Die laaste stukkie huis tóé wonder ek of ek dalk nie te min geskryf het nie. Ou bekende strate smeer deur die ruite van die BMW maar my hart dwaal nog iewers anders. Iewers waar ek nie woorde het nie, en dit is genoeg.


125x125_Make_Money_Online_NO_LIST

Loer gerus!

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_01_paaiement

Dis al ná nege in die aand toe Franszo se wiele hier stop, hy kyk vaag rond, dan vir my: “Waar is die waentjie?”

Waentjie?!

Ons is vier mense wat tot in Upington ry. Gerrit en Carné gaan Kalahari toe en ons skuif dan aan Ai-Ais toe. Ons tel hulle so drie uur môreoggend op – die ding is net dat die voertuig se bak al vol is as net ons twee rugsakke daarin gelaai word …

Gerrit en Carné gaan Kalahari toe om foto’s te gaan neem, so 180km noord van Upington by ‘n plekkie met die naam Noenieput. Hulle moet warm goeters vir die nag vat en koel goeters vir die dag. Carné gaan alle toerusting wat sy nodig het moet saamvat …

Die slaap was min, maar dis in. Ons stap op by die trappe na getroudes se woning en word vriendelik begroet met ‘n voorkamertjie vol goeters. Ek weet nie of ons maar deur die slaap was en of ‘n kinderlike geloof ons getakel het nie, maar ons het rustig die voorkamer begin leegdra, wetend dat daar niks plek in die kattebak is nie.

Gelukkig is dit nie soooo ver Upington toe nie en die getroudes is immers een, so met als gelaai en hulle wat soms liefderik styf teen/op mekaar sit, is ons Upington toe. Het ek genoem dat Gerrit ‘n nekstut dra? Dit het wel gehelp toe hy regop moes sit en slaap.

Knus langs mekaar (en hulle bagasie) het hulle die rit Upington toe oorleef.

‘n Voorsmakie van vlaktes lei ons na die grens en deur die hekke spoel ons in ‘n ou bekende Namibië in. Meteens roer beelde weer deur my gedagtes van vorige kere wat ek nag of dag die landskap deur vensters bewonder het en al was daar met tye glas tussen ons kon dit nie die aanraking keer nie, ken my hart nie die verskil in sy verlange nie.

Karasburg in ligblou pienk …

Karasburg het ons hartlik begroet, toe ons met die uur se terugskuif in tydsverskil tussen RSA en NAM nog ‘n SPAR oop kon kry vir die volgende twee dae se proviand. Met dié dat ek en Franszo by die vulstasie uit die wit Duitse motor klim, verwelkom Karasburg se straathoekbeamptes* ons toe in hulle volle glorie. Op ‘n afstand het ek gedink hulle is bietjie vroeg uit om sommer so helder oordag hulle dienste te verkwansel totdat ek met ‘n skok besef dat dié beamptes … nie tannies is nie …

Flitse van Priscilla Queen of the Desert kom saam met die rasperstem-komplimente in my gedagtes op en ons besef die broers het dalk net die verkeerde afleiding gemaak. Sonder om te skroom het ons nie juis ons tyd in die winkeltjie gevat nie en redelik doelgerig ons uit die voete van die “stad en sy geraas” gemaak.

Jy was heel moontlik nog nie in Namibië tot jy nie minstens ‘n honderd kilometer teen 100km/h op een van hulle grondpaaie gery het nie. (Jy sal ook kennelik knik met ‘n skelm glimlaggie wetend dat mens soms sukkel om by 100km/h te hou …) Naas die soutpaaie noord van Swakopmund bly dit een van die belewenisse in NAM wat my elke keer verras – hulle grondpaaie is anders as ons s’n. ‘n Eufemisme om die minste te sê.

Al was dit reeds donker …

Toe ons by Ai-Ais insluip, het die warm gloed van die son se onder die nag verloën met landskappe binne in my gemoed vertoon.

Sulke dae – al is hulle soms in wakker-ure bietjie lank en ver as mens die pad net as ‘n afstand ag – sulke dae roer rykdomme in my hart en waardering vir die eenvoud van elke oomblik in sy pag.

Eintlik gaan hierdie storie oor die Visrivier … Die doel van die paaiemente is nie om jou te verwar nie, maar bloot om stukkies in te skadu voor die kleur by kom of om die raam van die legkaart te bou voor die prentjie blom.

… word vervolg …

*Straathoekbeampte: Ek is redelik onder die indruk dat dié woord my eie letters is. Dit is ‘n eufemisme vir mense wat nie letterlik op straat werk nie, maar wel van die toeganklikheid van strate gebruik om hulle kliënte te ontmoet. Hierdie konsulterende amptenare is deel van een van die oudste bedrywe in die geskiedenis van die mens. Die rede hoekom ek soms verkies om my eie woord te gebruik is omdat kinders in die gesprek nie noodwendig gaan weet waarvan ek praat nie, maar ook omdat ek geen bewyse het van die werk wat dié mense doen nie. Jy kan ook nie net links en regs mense van ‘n sekere misbedryf beskuldig nie, so dan voel dit of ek hulle darem die voordeel in die twyfel gee deurdat mense soms twyfel oor wat ek dan nou regtig bedoel met dié woord straathoekbeampte.

NS: Jy het opgelet dat ek niks van seks in die bg. beskrywing genoem het nie. Jy het eintlik jou eie afleiding gemaak oor wat ek met die woord bedoel.

2007-10-27 ‘n Gedagte vol los gedagtes …

Die afgelope tyd was nogal interessant. Daar was tye waar ek die son sien opkom het, waar ek saam met die nag se laaste mis die slaap uit my oë gevee het. Tye waar die nag soos die pad voor my net aangehou het. Stryders onder die storm het ons van ‘A’ na ‘B’ gejaag, soos perde in die voorste linies amper ongeteuel om die pas te stel maar met waansin in die oë wat weet die oorlog kom!

Wat weet daar is geen omdraai meer nie.

Tye waar ek gehunker het na die ink, my digitale blad en veer om vlerke aan my gedagtes te gee. Gedaante aan die vloed van lewe waardeur ek soms sleur, soms sny en soms die spanning van die water ry.

Partykeer wil ek skryf
Só dat ek dit amper
Kan voel, kan proe
Kan ruik hoe die
Bloed uit my gebarste
Lip loop

Ek wil my woorde wees
Letterlik my siel
In hulle grein laat loop
Dan kan jy dalk daar
My spore vind
En iets beleef van wat ek
Droom as kind …

(nota: Die vorm is as gevolg van die langwerpige papiertjie waarop ek geskryf het, ek was op pad Brooklyn toe, dit het Donderdag redelik gereën en ek moes gou hardeskywe en ander toerusting gaan aflaai. Dit was al na 9nm. Ek het waaragtig my dagboek by die huis gelos en kon net ʼn brandstof strokie in die hande kry, darem het ek ʼn pen gehad.)

Tussen die gewone spoel van goeters het ek mense afneem wat soms probeer belangrik klink en walglike woorde soos “auspicious” gebruik … net soos die vorige drie ander mense en waar die gehoor amper ʼn merkbare “ooh” en “aaah” gee gevolg deur daardie ongemaklike stilte waar hulle probeer uitwerk wat dit dan nou EINTLIK beteken. Die spreker hou lustig aan met sy gotiese verwerking van iets wat seker in die Sarie gestaan het.

Teen dié tyd het die gehoor lankal opgehou om te wonder wat die ‘leenwoorde’ beteken. Immers praat ons almal maar net kombuis-Afrikaans en aksént-verwardé-Engéls.

Tussendeur dít het ek na die Universiteit gegaan en studente se opinies afgeneem. Ewekansig.

Ek beveel dit aan.

Ek beveel dit aan want jy is ongeken en die persoon met wie jy praat is onbekend. Dis veral lekker wanneer iemand naby jou gaan sit, ek het hulle net uit die hoek van my oog gesien terwyl ons besig was om met die huidige kandidaat ʼn onderhoud te hou. Hy lyk rof en die meisie sal jou seker mooi kan vertel … ek dink hulle is Engels. Ek WíL met hulle gaan praat …

Dan is dit soms verbasend wat mense bereid is om vir jou te sê terwyl jy ʼn kamera in hulle gesigte het. Dan het ek ook al ‘belangrike’ mense sien hap na woorde en wonder wat om volgende te sê.

Sal die roetine van elke dag ons insluk en in die regte boksie uitspoeg? Sodat die groter kubus vierkantig in die niet kan hang terwyl daar na die volgende boksie gesoek word?

Partykeer as ek begin skryf is
daar net niks. Behalwe die stilte van
ʼn blinde stuk papier en ʼn pen wat kwyl,
angstig om sy ink in verhale
te borduur.

Partykeer as ek begin skryf
Bars ʼn oorlog los
Moet ek koes vir koeëls
Letters wat swets
En paragrawe gemors.

Partykeer as ek begin skryf
Dek my pen tafel net vir twee.
Wil ek skryf, wil ek hoor
Wil ek lees, wil ek plekkies in my hart
Vir die woorde maak, gaatjies waar
Ek hulle weg kan steek …

(nota: Weereens op die stuurwiel geskryf, op pad terug in hoog spitsverkeer van Sandton af. Die son wil sak, ek wil by die huis wees, maar nie een van ons twee gaan nou ons sin in kry nie …)

Ek dink dit was in Shoshanguve. Die een oomblik is daar huise en die volgende oomblik volg ek die motortjie voor my na die hek van ʼn erfie waar daar net ʼn bruin verroeste sinkhuisie staan. Dis Sondagoggend en ek is in Afrika. Daar is ongelyke grondpaadjies met hier en daar iemand wat verby stap. Ek kan hoor hoe nie te ver in die buurt af nie daar vurig kerk gehou word. Meteens is ek terug in Noord-Namibië. Net suid van die Angola-grens het ons ook in ʼn sink kerkie gesit. Jy kon soms in die nag selfs skote hoor. In die oggend was Afrika op die stoep, het sy pap gemaak, mopanie wurms en vissies uit die poele water langs die pad. In Zambië het ons tussen die sakke mielies wakker geword, amper asof die oomblik te groot was om te mis het die haan lankal begin aankondig. In die donker het die skadu’s en silhoeëtte gewaak totdat die son hulle eers lank maar stadig uit die weg kom kleur.

Daar is nog. En nog steeds te min.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kinders se klam handjies
In die oggend, as ek kaalvoet
Oor die gras gaan stap.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar dae wat soos ʼn
Vuurherd brand en eindig
As ʼn Pêrel in die
Roet kom lê.

Ek mis die reuk van Afrika,
Haar kaja tussen die kakiebos
Haar liefde wat my hart opdroog
Haar drome wat ek vir eendag los.

(nota: Ek onthou soos gister een dag toe ons gaan water haal. Daar was net een kraan in die area. Agter op die waentjie was twee 44 galon dromme, die paadjie was vol gate en plasse water en ek het versigtig met die Toyota Venture hulle probeer mis ry. By die kraan gekom het ons begin om die drink- en kookwater in die dromme te tap. Die son het in ʼn hemelbed van rooi en geel gesak. Dis toe wat ek onthou hoe ek menigte male in die wiskunde- of wetenskapklas gesit het en gewonder het hoe dit sou wees om nou iewers in rou Afrika goeters te doen. Spilpunt-swaai.

Ek wonder nie meer nie.)

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

2008-08-24 ‘n Gedagte Draadloos_02

Op die rusbank. ʼn Onderhoud. Ek dink dit gebeur selde dat ons onsself vir ʼn onderhoud aan die kaak stel.

Die voëltjies sing vrolik buite terwyl die oggend breek. Behalwe vir die ketel wat kook is dit stil in die huis, dis half ses. Hy moet netnou lughawe toe en kan darem dié tydjie afstaan vir ʼn onderhoud.

“Ek dink dis meer die idee van ‘Draadloos’ wat my fassineer en hoe ons dit eintlik in ʼn klomp areas van ons lewe het.” Een suiker, sonder melk, eintlik verkies hy heuning. Die lepeltjie roer so asof hy die dag aandraai al is dit net rooibostee. Hy gaan aan: “Dis ʼn ondervinding-ding, een waar ons iets beleef het en die feit van daardie belewenis kan nie verander word nie. Ek dink aan die gesegde ‘Hulle het oor die tou getrap’. Dit het gebeur, niks wat jy daaraan ongedaan kan maak nie.”

Hy leun vorentoe, asof om iets vertroulik te sê: “ … wel, dis wat ek gehóór het, anders sou die titel seker ‘Touloos’ gewees het.”

“Op ʼn ernstiger noot dink ek dat dit eerder oor ʼn bevryding of ontdekking gaan waar jy nie net iets nuuts beleef het nie, maar waar dit die res van jou bestaan beïnvloed omdat jy dit deurgegaan het.” Dit is eintlik nogal rustig dié tyd van die oggend. Hy kyk vir ʼn oomblik nadenkend by die venster uit.

“Dit gaan oor meer as net Mosambiek.”

“Dis asof, wanneer jy deur die grens gaan, daardie ‘draad’ tussen jou en ʼn ander land afbreek. Ek onthou toe ons op ʼn uitreik in die noorde van Namibië was en ons die een dag by Ruacana na die watervalle op die grens met Angola gaan kyk het. Dit was ongelooflik. Om daar te kom moes ons met ons paspoorte uit Namibië gaan, iets soos 500 meter verder in Niemandsland en daar is die valle. Net regs was ʼn vervalle houthuisie – die Angolese grenspos – met twee wagte, ietwat onwillig om ons in te laat vir dié wat net ʼn stempel in die boekie soek.”

“’n Bietjie teleurgesteld het ons teruggedraai en op ʼn rots gaan sit met ʼn panoramiese uitsig oor die rivier waar hy nog in Angola loop voor hy dawerend breek oor die rand en magtig voor ons uitstort om sy pad grenslangs na die see toe te vind. Tog was dit vir party van die spanlede nie genoeg nie, hulle móés net aan die anderkant kom.”

Hy sit die leë koppie in die skinkbord terug en mik kombuis se kant toe, dit lyk of ons maar die res so in die loop deur die huis sal moet gesels. “Iewers het hulle ʼn gat in die draad gevind, deurgeklim en teruggekom. Studente is mos maar ʼn spesie op sy eie …” skerts hy terwyl hy die koppies langs die wasbak neersit.

“… tog verstaan ek nou eers wat hulle gedoen het.”

“Ons praat ook daarvan om die ‘ys te breek’, daardie plek van waar ons ʼn nuwe vrymoedigheid neem, waar ons met gemak in die ander land ingaan en kan sê ‘ek was al hier’, al is dit net om die storie te vertel dat jy eendag deur ʼn gat in die draad moes klim.”

Die motorsleutels klingel om die laaste rondte in te lui. “Jy wou weet waaroor ‘Draadloos’ nou eintlik gaan?”

“Ons is draadloos, vry agente wat nie aan ʼn leiband volg nie, maar vanuit die oortuiging in ons hart leef. Hoe kan ek dit stel? … dis wanneer die skanse tussen ons en die wêreld afbreek en ons waarlik met vrymoedigheid begin leef.”

Ons waai totsiens vir ʼn laaste keer sommer so by die verkeerslig toe hy afdraai snelweg toe en ek reguit stad se kant toe moes gaan. Die koerantverkoper wou nog nuus verkwansel, maar ek het my kans met die geel lig gewaag. “… onthou ons is nie van dié wêreld nie, al ons is nog in hom …”

Post Navigation

%d bloggers like this: