die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “pantoffel”

2007-11-12 ‘n Gedagte Pantoffels

Dis weer troukoors in die kontrei en behalwe vir die gewone gang van seremonies wat ek vir ʼn ekstra inkomste bywoon, begin ek al meer van die knoophakers ken.

Natuurlik kyk ek al lankal self ʼn bietjie rond, maar in my roer kom geen gedaante op nie. Behalwe vir die ritsel in die gras en oomblik op die horison het die jagtog nog geen sukses getoon nie. Persoonlik is ek ook nie ʼn bakkie-jagter nie, nee, van loop en bekruip is ek gemaak, so die gebruik om Vrydagaande met die skietlampe en koelbokse te gaan trofees jag is nie juis deel van my ideale ekspedisie nie. Vir die rekord en uit die ondervinding wat ek het, is troues as sulks glad nie die tipe opskop waar jy met jou roer opdaag nie, dis soos om by ʼn spitbraai op te daag met ʼn tollie aan die leiband …
(verskoon tog die vergelyking –ed)
(ʼn Nota vir die stadsjapies: tollie =s. Jong ossie)

Wat dan gemaak as die ruggie in die nagte koud bly? As daar net een stel slippers langs die bed staan?

Ons het altyd van ‘sweeties’ gepraat en eintlik is dit ‘lekkers’, ek het toe vir amper dieselfde rede gaan kyk of ‘slippers’ net dalk nie ook ʼn Afrikaanse woord is nie, stellig nie, dit heet pantoffels. Gewapen met die regte taal was ek gereed om soos die Mite Polisie uit te vind wat dan nou in dié Pantoffels steek.

Soos meeste goeters uit die volksmond is daar seker ʼn storie agter elke rympie. Ek het al agtergekom dat goeters wat rym mense laat dink dis waar of selfs wet, een ‘sêding’ wat ek aan die kaak wil stel is “sy kan maar haar pantoffels onder my bed kom in skop …” (daar is variasies op die tema).

Daar mag dalk by sekere mense die verkeerde indruk opkom. Dit is byvoorbeeld nie vir my dieselfde as die klassieke fliek-dubbel-betekenis wat die uitnodiging om “gou in te kom om koffie te drink”, het nie. (Dis veral verwarrend as hulle vroeër die aand juis in ʼn koffiewinkel ontmoet het … –ed) Ek het ʼn langer termyn van verbintenis gekoppel aan die hele pantoffel-ding. Tog dink ek dat ek dieselfde uitdaging beleef as sekere kulture toe die Westerse samelewing gekom het met hulle reghoekige beddens, vierkantige kaste en stowe. Hoe gemaak as jy jou bed teen die muur wil vas stoot, as die muur rond is … halfpad deur die nag het die kussing in daardie halfmaangaatjie ingeval, dêmmit.

Wat gemaak as my bed se basiseenheid amper aan die grond raak, dus is daar nie plek onder my bed nie!? Dadelik dink ek aan my ouers se bed en waaragtig staan hy op pote en is daar plek vir pantoffels en ʼn trompet. Ek sal iets moet doen as ek wil plek maak vir daardie pantoffels.

Voor ek verder gaan sal ek net graag ʼn oomblik wil neem om aan te kondig dat die Gedagtes nou al vir ʼn jaar aan die gang is. Vir die wat al vergeet het en die wat nie weet nie: “ ʼn Gedagte” is die venster wat ek oopgemaak het aan die einde van verlede jaar na die letterpret wat ek soms beleef. Dis iets wat teen daardie tyd al vir lank stem gesoek het, tot een aand in die geselskap van vriende met ʼn lekker Jazz orkes in die agtergrond ʼn uitlating gemaak is en iemand gevra het dat ek dit vir hulle aanstuur met ʼn epos.

“Dit is tyd dat ons onmisbare oomblikke, onvermydelik, ráák moet leef …”

Raakgeleef.

In die begin het ek ingeloer by Skype gesprekke en geselsies om tafeltjies Jazz, groot kuiers op soek na die antwoorde van die heelal en selfs net die eenvoud van ʼn glasie tonic (dis nou die “T” sonder die “G” …).

Terug by die pantoffels onthou ek hoe as jong seuntjie ek een vakansie ʼn tand getrek het. ʼn Ander legende van die pantoffels het sy kop hier uitgesteek, dié van die tandemuis. Mens moet dié legendes nie sommer ligtelik benader nie, ek het ook nie, die tandjie is mooi geborsel en in die pantoffel gesit.

Alles was reg en in hul plek toe ek gaan slaap daardie aand, die muisie moet tog net die rotgif op die plafon misloop …

My oë was skaars oop toe ek die munt sien blink in die haak van die pantoffel. “YESss! “

Ek kan seker nie namens my voorgeslagte praat nie maar iewers was daar seker ʼn Jood gewees … minute later is dit ek, my pantoffel, die logika van ʼn laaitie en ʼn 5c muntstuk, paraat.

Muise (Mus musculus) is sekerlik gebiedsgebonde of so iets (ek dink ek het dit op TV gesien of by iemand gehoor wat dit in die Huisgenoot gelees het), so as ek my pantoffel in ʼn ander deel van die huis gaan sit en die 5c sit waar die tand was …

ʼn Verskeidenheid van faktore maak dat ek nie die volle detail kan onthou nie, die punt is dít: dat deur watter meganisme dit ook al gebeur het, het ek daardie dag geld geruik en die arme muis twee of drie keer kon oes voor die fontein in my pantoffel opgedroog het. Ek was ligtelik ingenome met die ‘feit’ dat ek kan GELD MAAK UIT MUISE! (al was dit net dié één dag en met die klein belegging van ʼn uitval tand …) ʼn Meevallertjie nie te min en raakgevat!

Ek soek nie meer geld uit leë pantoffels nie, maar eerder ʼn paar voete.

Ek is gefnuik: daar is nie plek onder my bed nie en die pantoffels staan verlate aan die voet-en-ent. Dalk gaan dit glad nie eens oor die pantoffels nie, dalk het daardie muis my net gespeel vir nog ʼn tand en toe hy aan die einde van sy kanse kom besef my glimlag gaan nêrens heen nie (of iemand in die huis se kleingeld was op?).

As dit dan nie in die pantoffel steek nie?

ʼn Gedagte wat lank gesoek het na sy ink en pen vind meteens ʼn groter waarheid uit. Dit ís nie in die pantoffels nie, nie in die wag en loer nie, nie in die blinde kuiers of skietlamp ekspedisies nie …

“Dit is tyd dat ons onmisbare mense, onvermydelik, raak moet lééf …”

Advertisements

Post Navigation

%d bloggers like this: