die Moukissie

letters – my little black children running wild in the world …

Archive for the tag “tog”

2010-08-23 ‘n Gedagte Aanstap Rooies_02_pylvak

Ons het vanoggend uit Kuruman vertrek, al vier van ons. Die rugsakke het saam met ‘n nuwe vriendin terug gery en die getroudes het gemaklik gesit. Al het ons ‘n paar gesprekke gehad wat mens kan laat dink dat die wêreld se probleme opgelos is, het die avontuur van terugry nie heeltemal ingeskop nie … dis eintlik ‘n rare ervaring.

Pretoria bly mooi, dit is altyd lekker om die stad uit die verte te benader. Vandag kom ons uit die weste en die geboue lyk indrukwekkend. Dit is Sondag.

Met dié dat die eerste geboue om ons toring en ek moet opkyk, ver na bo, om die blou lig te sien. Omhels sy my. Gaan my oë toe. Ervaar ek weer daardie bekende klem en meteens spoel die afgelope week se gebeure weer deur my wese en onthou ek daardie eerste keer toe ons op ‘n sandbank teruggekyk het en die klowe ons omhels het. Ure vroeër was die vlaktes agter ons en sug die aarde weg om die spilpunt van ‘n silwer lyntjie doer onder …

Die reis het eintlik met daardie eerste SMS begin en nou, nou dat ons hier op die rand van ‘n diep dalkloof met steil wande staan, kan ons nie meer omdraai nie.

Ek en Franszo het ‘n dag voor die ander deurgery – eintlik het ek gedink daar gaan meer mense wees met dié idee, helaas nie en net voor donker die dag voor ons begin stap, het van die eerste medestappers in Ai-Ais begin arriveer. Van ons het darem al soortvan by ‘n vergadering voor die tyd ontmoet en sommige was reeds kennisse, tog het ek seker meer as die helfte van die mense glad nie geken nie.

Ek het soms ‘n uitdaging met die onthou van name. Dié wat my ken kan al die tekens onderskei sou ek daardie oomblik die naam vlugtend in my gedagtes beleef. So, ek maak assosiasies – dit help … soms.

Maki was maklik, dink “Sushi”. Haar vriend se naam is Henk (hulle hou hande vas en maak ogies vir mekaar) beide Maki en Henk het k’s in hulle name (onthou dit!). Maki het ‘n rubber hoender saamgebring, ek en die hoender het nie juis gesels nie maar ek dink sy naam is Hoender (maklik genoeg). Hoender kom saam, soms agter op Maki se sak en soms dra Henk hom. Ek is eintlik nie 100% seker hoekom hy saamgekom het nie, maar Hoender lyk super op foto’s. Henk se duur stapskoene is kort voor die tog gesteel, so hy loop met ‘Converse’ ‘sneakers’. Ek kan dink dat geharde stappers vies sal wees dat Henk so goed gedoen het met wat sommige mense sal bestempel as ‘winkelsentrum pantoffels’. Hy doen animasie en ander media gefokusde werk in die Kaap terwyl Maki kuns veroorsaak en ‘n krale winkel in Pretoria het.

Magdel het ek darem van sien en ander skrams ontmoetinge geken. Ons het ook gemeenskaplike vriende. Sy doseer kuns en veroorsaak skilderye. Ja, ons was nog op pad af die eerste dag van die tog en terwyl ander mense na hulle asem snak (party omdat dit so mooi is en ander omdat hulle bloot net uit asem was) het sy argeloos kwassies, ‘n verfbordjie en houertjie water te voorskyn gebring en ‘n landskap geverf. Niks vreemd daaraan nie. Sy was ook so gaaf om uit rooi en blou velt lap vir ons almal (29 stappers) vissies met geel knoopogies wat met daardie klein kopergeel doekspeldjies kan vassteek, te maak. Ek het nou nog myne.

Voor my het Elaine soms gestap. Sy het ‘n kettie agter aan haar rugsak vasgemaak en twee Smurfs soms saam met haar kamera te voorskyn gebring. Haar vriendin het vroeër die jaar ook dié roete gedoen, ook met twee soortgelyke Smurfs byderhand en strategiese foto’s van dié animasie karaktertjies afgeneem. Otto het ‘n plastiekpyp by hom, dit het my ‘n oomblik geneem maar ek het wel tot insig gekom dat dit niks anders as ‘n visstok daar binne in is nie. Dit is immers die VISrivier!? Hy het sommer by die eerste watergat al ietsie uitgetrek. Daniel, wat ek darem al ‘n paar jaar ken en ons het saam geswot, het ‘n toilet saamgedra. Dink: opvoustoel sonder rugleuning met wit toilet ring en deksel. Jy grawe die tradisionele veldtoiletgat, maar eerder as om jou konsentrasie tussen balans en waarvoor jy die gat gegrawe het te koördineer kan jy dié stoel gedoente bo-oor die gat korrel en rustig op hom sit. ‘n Eenvoudige luuksheid wat die dames terdeë waardeer het.

Soos wat dit maar in die lewe gaan dink ons ander mense is vreemd omdat hulle nie ons eie vreemdheid deel nie. Dit was toe heel normaal vir my om moeite te doen om my selfoon saam te neem. Nie omdat ek gedink het ek kan iemand spesiaal uit die kloof bel nie (geeeeen sein!!!), nee, omdat ek nie juis ‘n digitale kamera het nie en die eenvoud van my selfoon se kamera geniet. Dit is ook oulik dat my selfoon ‘n tweetalige woordeboek op hom het en ‘n GPS. Ek was lanklaas so tevrede met ‘n stukkie tegnologie soos wat ek met my foon is. Vir die rekord en nie omdat ek ‘n sent van hulle gaan kry nie: dis ‘n Nokia E72 wat in sy “offline mode” die volle vyf dae van die tog gehou het en my ‘n dag of wat na die tyd toegelaat het om oproepe te maak – alles sonder om batterye te ruil of weer te laai!

Daar was nie enige gebrek aan uniekheid by die res van die geselskap nie, ek wou maar net ‘n paar van die karakters aan julle voorstel, veral Hoender.

Daar bestaan ‘n stilte wat min mense ken. ‘n Stilte wat in jou wese insyfer, jou kan deurtrek en in sy demper ritme ‘n dans tussen die slag van jou asem en die puls van jou hart laat wieg.

 

2010-08-07 – “Die Tweede Dag”

Ek vind spore van my begeerte

In die sagte kreet van ‘n horison

– ‘n Bakhand hunkering wat pleit

 

in spieëlbeeld met die kroes kinders,

is dit my hart wat angstig vir sielekos vra…

 

2010-08-08 – “Die Eerste Nag”

Ons ekspedisie lei ons af in ‘n kloof

Om ons groei die mure rots

En terwyl ons deur die skerwe van ‘n vóór vergete tyd loop

Breek nuwe betekenisse in ons wonder oop

– Mooi; het nie net een kant nie

En gedra haar glad nié tipies nie …


2010-08-09 – “Die Eerste Oggend Onder”

Dit was koud deur die nag, maar van so aard dat

jy die bewuswording-wakker waardeer het die oomblik

wat jy besef al die sterre is nog daar. Wanneer die

enigste gordyn tussen jou en die hemel twee ooglede is,

en jy weet die klowe oor jou waak. Dan rus jy anders.

Waak jy nie uit vrees nie maar uit die gemoedsrus

van duisend helder ligte – wel nie om jou nie,

maar BO jou.


Na die Nag se windjie

Het die duine van ons vergeet

Spook slegs skimme van spore

By dié wat daar was en dit wee


Met die oggend jonk en vaak

Kry die rimpels hoendervleis

Waar ‘n luggie die water raak

Soos die dag uit die aarde ruis


2010-08-11 – “Voetnota”

Stapstok haak voor ete in klippe vas.

Duct tape korrigeer die skade …

(Dit was eintlik die tweede keer op die tog waar ek en die duct tape slaags raak. Die eerste keer was net voor die eerste skemer toe ons begroet is deur ‘n trop bobbejane wat op die oorkantse oewer amok gemaak het. Elaine se kettie het handig gekom om net-net die grens tussen mens en dier te bevestig. Tog was dit soms nie genoeg nie. Ek het ekstra skoenveters uit my sak gekry, duct tape en “baby wipes”. ‘n Paar toetsmodelle en ‘n stel veters later staan ek toe met Dawid se getroue wapen aan my sy. ‘n Slingervel.

Ek het jarre laas een van dié primitiewe uitvindsels bedryf en is redelik bly ons moes nie reuse of kos jag met die ding nie, hy het wel geen respek gehad vir die afstand na die oorkantste oewer nie en het gemaklik my klippe tussen die bossies doer anderkant laat spat.)

 

2010-08-12

Hoor jy die sterre?

Snaaks hoe die stilte om jou

Die dreuning binne stilmaak …


Dis anders as om stil te word in die stad

Dáár maak die stilte jou alleen.

Hier word jy en die stilte een.


Stilword

Vandag was soms harde pad

Onder ‘n genadelose son

Ek wonder of dit regtig te veel raak?


Saterdag, “Die Sewende Dag” 14 Augustus 2010

Iets in die Natuur voel of dit die

Genadeloos in ons wil toets

Asof die barre aarde my bloed soek

Om die grond weer Rooi te vlek

So soek die genadelose natuur sy

Genadelose kinders in my

Wil sien hoe my lippe bars

Hoe ek dors word …


My oë gaan oop … jakarandas? Beton en teer verneuk my hart en ek sukkel om die stille waters van die kloof te vind.

Die laaste stukkie huis tóé wonder ek of ek dalk nie te min geskryf het nie. Ou bekende strate smeer deur die ruite van die BMW maar my hart dwaal nog iewers anders. Iewers waar ek nie woorde het nie, en dit is genoeg.


125x125_Make_Money_Online_NO_LIST

Loer gerus!

2009-02-16 ‘n Stofpad Gedagte_05 Privaat

Hopetown. Eintlik is ons al by Strydenburg oor die halfpadmerk van die tog, maar hier het die spilpunt in die mielies gestaan.

Dalk gaan dit tussen twee episodes gebeur wanneer julle dit kyk. Iets is wel aan die gebeur, so tussen die bossies en oor die bulte is die landskap en alles wat daarmee saamgaan besig om te verander. Maar laat ek eerder stuk-stuk so van ʼn kant af begin om dié storie se drade uit te lê.

In die vorige gedagte het ek genoem dat dinge eintlik baie veilig op die tog gaan, dis glad nie meer snaaks om met die huis se deure oop te slaap of om goeters iewers net so te los as ons iets anders moet gaan doen nie. Mense wat ons nou ontmoet sal netnou sommer hulle plaashuis vir ons oopsluit en ons daar laat bly terwyl hulle eintlik op die dorp is vir die naweek. Netso.

Ek het ʼn redelike fassinerende boek in Pretoria begin lees, Freakonomics – ek sal dit ten sterkste aanbeveel! Hulle kyk bietjie na statistiek en wat dit eintlik beteken. “Gaap”? – nee! Woes interessant!* Ek is nog besig om in hom rond te loer en het toe begin wonder oor goeters wat ek om my sien.

My gebrek aan belangstelling op skool in vakke soos Aardrykskunde en Geskiedenis byt my nou dat ek nie seker is waar die Karoo eindig en die res begin nie. Tog het ek die volgende observasies gemaak en dis juis húlle wat my aan die dink het. By Strydenburg was die wêreld nog vaal en mooi, het ons ondervinding nodig gehad om die groen in alles te sien en was die romanse van die Karoo en sy hoë wolke nog vars in ons gemoed. Mense is vriendelik, plaashekke oop en daar groei net bossies tussen die klippe.

Iewers het die kwaai begin. Het ek begin oplet dat daar slotte en kettings aan die hekke is, het die gevaarlike bordjies jou begin waarsku.

“Pasop!”

Saam met dit het die gras begin uitloer tussen die korrels, miershope het soos pokke op die landskap uitgeslaan.

“Pasop!” “Gevaar!”

Prente van gewere, honde en skedels het in geel van pale en hekke op jou begin skree.

“Gewapende Reaksie!” “Geen Ingang!”

Die skape het in die gras verdwyn – langer bene werk hier beter – en so het die beeste verskyn.

“Privaat Eiendom!”

Bome het opgekom, met dorings aan, soos die drade ook al meer dorings begin kry het.

“OORTREDERS SAL VERVOLG WORD!”

Water, groener en groter bome.

“WAARSKUWING! PASOP vir die HOND!”

En die volgende dorp se naam: Hopetown. Die Oranjerivier. In ʼn oogwink het die Karoo verdwyn, ek wou nog koebaai sê.

Dis Sondagoggend, ek sit in my bakkie en boek lees langs die N12 aan die buitekant van die dorp, net oorkant die stadion waar die geel party gister ʼn saamtrek gehad het. Ben moet vandag terug huis toe, daar is dinge daar waaraan hy moet gaan aandag gee. Ek wil hom groet voor hy die bus in Kimberley moet vang en hulle ry netnou hier verby op pad soontoe. Dis meestal die inwoners van die informele nedersetting wat my groet en glimlag. Terwyl ek lees wonder ek wat mens moet aflei van die landskap wat so verander en die ondertone daarmee saam.

Twee begrippe uit Freakonomics het my aan die dink gesit. Die een is dat sekere goeters maar net saam loop en ander mekaar veroorsaak. Wolke in die lug beteken nie noodwendig dat dit besig is om te reën nie, maar daar is meeste van die tyd wolke in die lug wanneer dit reën. Net omdat daar ʼn klomp statistiek is beteken nie dat die faktore die statistiek se ‘gevolgtrekking’ veroorsaak nie. ʼn Klomp van daardie goeters loop maar net saam maar die werklike oorsaak het jy dalk nog nie raakgesien nie. Lees die boek.

Terwyl ek met die wolke voorbeeld besig is gaan ek hom gou bietjie skeef trek. Gestel die persoon wat ons aanstel om die reënval van ʼn sekere gebied te monitor slaap baie diep en werk nagskof. Iewers in die opname gaan hy die volgende afleiding dalk maak: “Dit reën meestal net in die nag, dus het die son ʼn negatiewe uitwerking op die vorming van wolke en reën.”

As ek nie van sy werk en slaap gewoontes weet nie, gaan ek hom glo.

Dit dan klaar gesê, wil ek nog steeds weet hoekom die wêreld al kwater word soos ons noord gaan. Kom dit saam met die bossies wat minder raak, of die miershope, of die miere? Of die miervreters? Maak die gras mense kwater, of is dit die dorings aan die bome en die drade?

Rooigrond. Ons is in die gevegte distrik, boere en engelse het al hoe meer met mekaar begin slaags raak. Diamante? Water? Elektrisiteit … ESKOM! Ek moes dit geweet het!

Ernstiger noot. Aan die begin was die water skaars, elektrisiteit ʼn weelde en het meeste mense van sonpanele, dieselkragopwekkers of windlaaiers gebruik gemaak. Die grond was meestal lig van kleur. Dit was droog. Nou is die veld groen en mooi.

Net gister praat ons met ʼn oom wat op 75 nog boer. Sout van die aarde. Nou is ek ʼn bietjie deurmekaar. Hoe kan die mense as jy hulle alleen kry nog net so gaaf en vriendelik wees soos oral langs die pad, tog as jy terugstaan word die wêreld al hoe kwater? Dié kwaad moet tog iewers boublokkies hê. Ek het gedink dis in die water. Gedink dat dit die grootste faktor is wat maak dat mense meer kan plant, beeste kan boer en dus meer geld kan maak. Mammon.

Steeds is ek nie tevrede nie. Ek sien al die donderwolke, maar nie ʼn druppel reën nie.

Die gemiddelde dorpie deur die Karoo is oorwegend kleiner as die dorpe in die noorde, mense in die kleiner dorpe ken mekaar beter en soos iemand van die Loxton distrik ons vertel het, “Daar is klieks in alle klein dorpies. In Loxton is dit ook so en is daar net-net genoeg mense vir EEN so kliek.”

ʼn Bietjie statistiek bestaan wat reken dat mense moeiliker steel van iemand wat hulle ken, veral as dit in ʼn klein gemeenskap is waar almal dit kan uitvind. Reg deur die tog het inwoners van klein dorpies daarop geroem dat hulle ondersteun word deur die gemeenskap sou hulle deur ʼn moeilike tyd gaan. So lief vir skinder en venynig as wat mense kan wees, is ons nie so ten volle oorgegee aan die/ons? slegte natuur dat ons nie eens ʼn bietjie vir ander kan omgee nie.

Daar is net een probleem met die oplossing. Wat is dan die grootte van die dorpie waar mense nie meer omgee nie? Is dit dan die geheim van deure oop los en veilig lewe? Of is dit dalk net die verkeerde vraag? Het dit nie dalk iets met die kleur van die mense te doen nie? Ek wil stuitig wees en kliphard ‘JA’ sê en amper dadelik kleur weer net ʼn klomp wolke noem.

Ek is nie deel van die kampie wat misdaad op ras blameer nie. Want wat is die kleur van die misdadigers in sogenaamde ‘wit’ plekke? Wit. Party mense kies om slegte goeters te doen en ander kies om beter dinge met hulle tyd te doen.

Hoekom sê ek dan dat dit met ras te doen het? Maklik. Die bruin mense in die suide praat Afrikaans, en solank die oorheersende taal van die gemeenskap en die dorpie dieselfde was, het daar ʼn groter begrip vir mekaar geheers. Diep in die Karoo waar daar min mense was, het ons nie kleur gesien nie. Mense moet bymekaar staan om te oorleef. Alles in hulle verstaan dit en vanaf daardie begrip deel hulle die bietjie water mooi en help hulle mekaar die paar skapies grootmaak. Hulle het verstaan dat as dit met die een sleg gaan dit met die ander ook swaar gaan. Tog hoe meer noord ons beweeg, het die “gemeenskapsgevoel” van die klein dorpies al meer gepolariseer om die duideliker taal en kultuur grense.

Tussen Hertzogville en Hoopstad het die een tannie nie ʼn sterk vaardigheid in Engels nie. Sy het twee werkers in die huis, die een dame kan nie Afrikaans praat nie, so nou vertaal die ander dame vir haar wat die tannie in die huis gedoen wil hê. Iets wat ongeken aan die begin van die tog was.

Ons kom nog steeds in dorpe waar die grootte van die dorp ʼn samesyn kweek waarvoor die platteland so bekend is, tog, omdat taal- en kultuurgrense so sterk skei, bloei die liefde tussen rasse al meer water vir mekaar.**

Die goeters buite ons beheer het nie regtig so ʼn groot invloed op ons samesyn as wat ons dink nie, dit is eintlik maar in die begrip tussen en vir mekaar waar die reën werklik val of nie. Soms is daardie begrip maklik as ons mekaar se taal verstaan. Ek word herinner aan die huwelik en een van die tekens van koestering wat gebruik word. Diamante. Tussen man en vrou is daar gewoonlik ʼn diamant of twee, jy weet dat daar in Kimberley tussen die engelse en die boere ook diamante was. Albei wit rasse, maar soos in ʼn huwelik kan hulle mekaar se woorde hoor en nie die keuse maak om samesyn in hulle klein gemeenskap met mekaar te koester nie. Jy moet wil verstaan, wil begryp en wil verander.***

*Which is more dangerous, a gun or a swimming pool? What do schoolteachers and sumo wrestlers have in common? Why do drug dealers still live with their moms? How much do parents really matter? How did the legalization of abortion affect the rate of violent crime?

These may not sound like typical questions for an economist to ask. But Steven D. Levitt is not a typical economist. He is a much-heralded scholar who studies the riddles of everyday life—from cheating and crime to sports and child-rearing—and whose conclusions turn the conventional wisdom on its head.

Freakonomics is a ground-breaking collaboration between Levitt and Stephen J. Dubner, an award-winning author and journalist. They usually begin with a mountain of data and a simple, unasked question. Some of these questions concern life-and-death issues; others have an admittedly freakish quality. Thus the new field of study contained in this book: Freakonomics.

** ‘ʼn Verwysing na die gesegde “Bloed is dikker as water”.

*** Hierdie spesifieke verandering verwys na jouself en nie die begeerte om jou maat te wil verander nie. Ons sit voor ʼn paartjie wat 48 jaar met mekaar getroud is. Dol gelukkig. Die tannie beken na ons haar vra hoe sy dit regkry, dat jy jou maat moet aanvaar en dit laat vaar om hulle te wil verander. Die oom het saamgestem.

Los verse uit die Eerste Derde

Ons is wel hier onder die plaas geledere, maar dié is nie van die wulpse of sedelose tipe kalfies nie … nee, dié is stukkies sinne wat hier-en-daar so deur die tog se voortswoeg los skaaf. Saagsels en krulle wat ek van die landskap kan saamvat, los skuur, afskilfer. Vanaand wanneer die ligte aansit en die stof in die laaste horison verdwyn brand daar nog ʼn rooi gloed in die stegies van my gemoed. Hier kan jy nie foto’s neem of letters pen nie. Hier moet jy net wees


Ek het my gevoel vir jou
die verte in verskeep
die drome onder ʼn boom
met wolke toe gesleep.

Tog, soos ʼn waterlek,
glinster die druppeltjie
blinkoog iewers deur die kante

ʼn Helderskoon liefde.
ʼn Lafenis in die dorsland.

ʼn Droogte eens vergete


“As jy gelukkig is –
Waar jy is elke dag.
Het jy outomaties ʼn gelukkige
Verlede …” Pieter, Ceres


Hy lag uit sy maag
Dat sy tande glinster
Soos die kalk stralekranse
In sy oë …


Mens het ʼn pad eers gesien
as jy hom van twee kante af geloop het.

Mens het ʼn pad eers leer ken
as hy bereid is om vir jou sy stories te vertel.


Elke dag in ʼn ander plek …
My spore lê verslete
in die vorige dag se gebede
maar in die swymel van die loodreg dag
is daar ʼn steeksperd hoop
wat onverpoos op jou wil wag …


Die berge by Karoopoort
skaaf die laaste druppels uit die wolke
voor hulle in skadudrifsels oor die vlaktes verdwyn.


Bang-agie loer die wolkies
Skugter oor die berge
Mot na ʼn vlam
Verteer die vlakte …


Ek sal ‘n ogie op die horison hou,
daar waar mens die verste sien.
Jou spore noord van die Boland soek,
en saam met die sterre … miskien?

Ek sal die stof vergaar,
daar waar mens dit die minste pla.
Dit in die aand tussen my vingers vryf,
aan jou dink, sonder om te kla.

My Karoo, kind van ʼn ander somer
gebore en grootgeraak
terwyl in die verte
grondpad langs ʼn stofsinjaal my jaag.

Maar vanaand,
wanneer die sterre in hul skitter dans
sal ek my oë vir jou toemaak
en verder droom …


soms is al wat ek van jou kan wegdra,
die prentjies wat ek het


Saam met die wit velle
het die wind-water en groen bome ook gekom
en oral waar hulle klippe gepak het
kom dié volksvreemde skadu’s op.

Want sien, die Karoo kamoefleer
sy groen só in die bossie-bruin
nie soos die denne, bloekom en populier.


Ek wil my eie stilte
in jou landskap sus,
soos ʼn moeder loop
wieg en haar kosbaar kus.

Só wil ek my stilte
in jou fluitjiesriet kom paai,
die eensaamheid in my
op jou horisonne laai.


Ek wonder of jy die wit
tussen die lyne kan lees,
die geraas van die lettertjies
kan stilmaak


Soos die skaduwees oos kruip
en ʼn kartel windjie met my hare speel

sug my siel

terwyl die nag stadigaan
haar oopknoop oor die veld
sypel die blou weg tussen die sterre

word die hemelruim ontbloot …

ek het haar al op die hoeke gesoek
haar flikkers in die strate probeer vind
maar in dié stad
is ander liggies se kind

ʼn goedkoop glans
wat op sy beste net die oë verblind


die skemer het ʼn ander gloed
ʼn sorgelose gister nog vars in die bloed


my hande voel en lyk soos ou bruin brood

sinjaal, ..jale. 1. Teken, sein. 2. Waarskuwingsteken. 3. Instrument of toestel waarmee tekens gegee word, of wat as teken dien. 4. Voorteken of aanduiding van iets wat kom. sinjaalklok; sinjaallamp; sinjaallig; sinjaalskyf; sinjaaltoestel. sinjaalarm

Dus sal ‘n stofsinjaal die stofwolk wees wat in ‘n streep agter die voertuig opblaas dat jy van baie ver af al die stofwolk kan sien sonder om die ding te sien wat hom maak.

2009-01-17 ‘n Stofpad Gedagte_02 Loop

“Kyk, ons het hier groot geraak …” Die hande wys asof hulle aan iets vat wat die gedagtes nog vars kan voel, vir ʼn oomblik speel die verlede in sy oë af en wonder ek wat hy sien. Die huisie was van klip gemaak en net die modder en klei tussen die klippe onthou hom van kindsbeen af. “Die draadloos het hier gestaan en die six volt batterie sommer hier langs die muur.”

Ons het nog vir ʼn rukkie tussen die beelde van sy verlede rondgeloop, staaltjies onthou en aan klippe gevat wat dekades terug nog huis was. “In die somer is dit té warm hier dan loop vat ons die skape na die ander plaas toe en dit neem gewoonlik so sewe dae. Anders as vandag kon die skape wei al die pad, maar deesdae ka’ mens dit nie meer doen nie …”

Dis ʼn ander wêreld dié, een wat genadeloos koud én warm kan word. Mense wat hier woon lyk of hulle langer leef, vat nou maar vir oom Willem, hy is 70 jaar oud en het vir ons vertel hoe hulle as kinders hier in die kliphuisies gewoon het. Dit vertel hy vir ons terwyl hy knap in die veld rondstap, selfs goeters uit sy voor-verlede kom helder te voorskyn en dans teen die rante. Ons hoor die ossewaens kreun en sien hoe die wiele teen die rante af skommel.

Mense hier ‘loop’ doen dinge en ‘raak’ groot. Dis dalk hoekom hulle so fiks is, self as hulle praat wemel die woorde in die ‘R’ wat brei en prentjies inkleur terwyl hulle praat. ʼn Man het die een dag grof gevloek en selfs dit het vir ʼn oomblik tussen die ander woorde mooi geklink.

Die Karoo het ʼn ander plek geword, een waar ek nou darem ʼn paar gesigte al ken en die landskap nie meer so gewetenloos lyk nie. Ons spore trap skaars merke in die stof van ʼn plek waar mense geslagte terug hul stambome tussen die berge kan plot. Hulle vertel van oumas en grootjies wat “kyk, in daardie huisie het hulle gebly en die Engelse se laer was net om die draai.” Dit voel soos gister wat die gevegte nog hier tussen die koppies gewoed het en met ʼn bietjie mooi soek kan jy dalk van die doppies ook optel.

Dis ʼn landskap wat deur sy mense leef en so kom kleef die plek jou aan. So, waag dit om deur sy stof te kom loop en stil te raak.

2009-01-05 ‘n Stofpad Gedagte_01 Kaptein

“Sy naam is Kaptein.” Dit lyk nie of jy die twee kan skei nie. “Kyk gou hieRr! Gee dié viRr hom.” ʼn Stuk droë wors word aangegee en Mocke probeer kyk wat die geheim van die gebaar is, maar Kaptein staan net daar. Ek moet wel sê dat Kaptein nie ʼn klein hondjie is nie, hy is raafswart en het die gemoed van ʼn rustige Labrador.

Ordentlik gee Kaptein in en vat die wors, hy wou nog begin eet toe ons gasheer die stukkie blitsig gaps. “Kyk, dis ʼn geleeRrde hond dié, hy vat net kos van my af.” Vergewe die baas sy dier deur self vir hom die worsie te gee. Kaptein kou versigtig, maar sonder om sku te verdwyn met die lekkerny, want hy ken sy baas se hart.

Dis my eerste dag saam met die span en ons duik toe sommer lens en driepootjies in die skietery in. Oom Barrie loop vandag op die treinspoor en dis nog so 10km tot by die tolhuis langs Michele’s Pas. Daar was nie rêgtig beplan dat ek en Mart moet saamloop op die spoor nie, tog was dit ʼn gawe stappie wat aan my ʼn besondere ervaring verleen het, eintlik twee. Die eerste was die ongelooflike natuurskoon wat ek met die selfoon probeer afneem het, maar soms is ʼn foto net nie genoeg nie; die tweede was een wat ek glad nie verwag het nie, een wat eers later sy teenwoordigheid bekend gemaak het: Kreefkuite.

Soet en gedweë het ek my skouers en arms met die room gesmeer, selfs ʼn poetsie op die neus en wange, maar die verbleekte kuite het ek geheel en al gemis.

Daar is ʼn peerboer op Ceres wat sommer van die eerste oproep af besluit het dat ons nie by hom gaan tent opslaan nie, “Njee man, julle kan mos nou nie in tente bly as ek plêk in die huis het nie. Kom net, êk sal vir julle soRrg!” So gesê en so gedaan.

Dis waar ons vir PM en Kaptein ontmoet, “Julle moet net die Rreëls van my huis veRrstaan.” Dit was ʼn lang dag en ons is almal maar pê … “HieRr veRrstaan die mense al, maaRr ek sal julle net moet leeRr, in my huis maak jy soos jy wil, hooRr!”

Sorgvuldig lei hy ons deur die een vertrek na die ander, selfs die buitekamer en maak kaste en deure oop sover hy gaan, “Sien, hieRr is genoeg vleis, wat wil julle bRraai? Vat sommeRr van dit ook saam viRr die pad, julle gaan mos vêRr Rry …”

Met al die beplanning wat ʼn tog soos dié voorafgaan duik daar tog goeters op wat jy nie heeltemal verwag het nie. Vat nou maar dié eenvoudige opdrag: Skoon Water.

Maklik, ons het mos daarvoor beplan. Ek het ʼn bakkie, ons koop al in Pretoria ʼn groen 220 liter ‘Jo-Jo’ drom, laai hom agterop die Hilux, skroef ʼn kraan in en tap hom vol water. Gaaf en gedoen. Wag-wag, dan ons kan mos ʼn watersuiweraar aan hom koppel en super skoon water hê, nè?!

Ja.

ʼn Kraan is mos ʼn kraan is mos ʼn kraan? Die boks hét gesê dat dit binne 5min installeer, maar ek is nie ʼn huisvrou nie en die plaasdrom agter op my bakkie het nie ʼn Cobra swaan-swaainek kombuiskraan aan nie. Toe ek dus in Ceres weer die gevoel van kleuterwees beleef en die waterfilter soos Lego wil begin bou pas die stukkies nie. Glad nie. In ʼn oomblik verander die onskuld in my na die gevoel wat ek as klein seuntjie gehad het in die speelkas van die kleuterskool, “… maar tannie, al die blokkies wil nie op mekaar pas nie …”. Jy kan nie verskillende tipes Lego meng nie, net soos jy nie kan koek bak met die verkeerde bestanddele nie. Die suiweraar se inloop wou net geensins op die kraan aan die drom pas nie. So toe ry ek en Martiens (PM se voorste voorman) gou dorp toe … Dis mos nie ʼn probleem nie.

Onthou dis Ceres.

Intussen is die bakkie goed gelaai, en so in die ry het dié gesprekkie afgespeel:

ʼn Stem kom van die straat se kant af: “Hey Martiens! Gooi ʼn bietjie wyd?!”

“JA! Langpad.”

Ou Martiens sit hier langs my en ek ontsyfer gou wat sopas gekommunikeer is, vir die stadsjapie Transvalers sou dit seker so klink:

Koos staan aan die een kant van die pad, hy waai vir Piet en stap oor na waar Piet in sy bakkie sit.

“Middag, ek sien jou voertuig is swaar gelaai.”

“Ja, middag. Ek gaan ʼn bietjie ver ry.”

Die man by die Midas het ons skeef uitgekyk, so ook by die koöperasie, die hardeware, die Pick-‘n-Pay, die gas-en-sweisplek en toe ons eindelik by die mikrobesproeiingshandelaar kom en hulle kon oortuig dat daar hopelik iets in die winkel is wat ons gaan help, al pas ons dit buite die ontwerpstoepassing toe. Dis moeilik om ʼn ding te soek wat jy in jou kop goed ken, maar die mense om jou verstaan nie die naam wat jy hom gegee het nie. “Ek soek ʼn koppeldingetjie om tussen die kraan en die inloop te staan.”

“Eintlik verkoop ons dié goeters net in grootmaat.” Dit het die hele dag gevat, maar ons het ʼn stukkie pyp gekry en twee plastiek skroef-in-mekaar goetertjies. Darem het ek nou omtrent die hele dorp ook gesien.

********************

Om met ʼn perd van Tafelberg af na die Voortrekkermonument toe te ry vat nie ʼn dag nie. Daar is lang stukke wat die ruiter en sy dier langs mekaar stap. Ek dink dis tweeledig, die een word dalk moeg om die ander te dra en die ander se sitters word verseker lam.

Alhoewel ons ʼn TV-reeks skiet, het ons nie 40 perde om om te ruil nie so die een wat in die Kaap wegtrek is ook die een wat in Pretoria opdaag. Ek gaan nie maak of ek meteens in ʼn fluisterende perdekenner verander het nie, so om dit eenvoudig te stel is die twee perde wat ons op die tog het, nie dieselfde nie, selfs jy sal hulle kan onderskei.

Dis maklik: Tornado is die wit een en Queen is die bruin een. Tegnies is Tornado die hings en Queen die merrie. Ek weet nie of dit is as gevolg van die verkiesing wat op pad is dat ons eerder vir Queen in die reeks gebruik nie.

Terug by die huis het die tyd om Lego te speel ook verstryk en ons moet ʼn onderhoud iewers gaan skiet, ek sal maar later my hidrouliese stelsel moet toets. Gelukkig het ons voorlopig water want die Jo-Jo agter op my bakkie is darem vol.

Een ding het ek wel van Kaptein se baas besef, hy het ons nie net in sy huis in verwelkom nie, hy het sy lewe en sy hart onvoorwaardelik vir ons oopgemaak, iets wat ek dink ons baie meer van kort in ʼn wêreld wat soms so nors kan raak.

2009-01-02 Welkom by die Stofpad Langs Gedagtes

Welkom by die Stofpad Langs-Gedagtes
Deur Reinard Bekker

Deur in die huis sal ek sommer met die intrapslag die formaliteite uit die weg wil ruim. Kry die koffie of gooi ʼn goeie pinotage want dié langpad het nie tyd vir jaag nie.

Stofpad Langs is ʼn tv-reeks waaraan ons huidig werk. Dit het op 25 Desember 2008 op Tafelberg begin en eindig in die draai van Maart-April 2009 by die Voortrekkermonument. Want ons kan!

Stofpad Langs is seker soos ʼn bak lasagne, eenvoudig en, sonder om enige geheime resepte te probeer uitlap, kom dit bloot neer op pasta, maalvleis, kaas en ʼn witsous. Die pasta sal ons vergelyk met geskiedenis en ʼn redelike fokus op “Die Vergete Grootpad” s’n in spesifiek. Oom Barrie, ʼn sendeling van Noenieput, ry nou vir die sewende keer verder as 1000km met sy perd – hy is ons maalvleis vir dié gereg. Ons volg sy spore op die hakke van vergete togryers.

Maar om die hele spulletjie saam te bind benodig ons ʼn goeie sarsie kaas en witsous, dit sal vertolk word deur die talle onderhoude met boere, museumtannies, knapwinkeleienaars en soms eksentrieke karakters soos hulle uit die stof reis …

Vir die inhoud van die program sal julle moet wag tot dit op die kassie skyn.

Die res van die volgende drie maande se gedagtes sal straaltjies in hê van die mense wat jy heel moontlik net as ʼn naam, van en funksie aan die einde van die program sien verbyrol.

Barrie Burger kom van Noenieput in die Kalahari, Noord-Wes van Upington af. Hy is ʼn sendeling wat met sy perd (Queen) lang afstande aflê– soos die togryers van ouds – in sy geval meestal alleen.

Anita Erasmus is die regisseur van die produksie en ook een van die direkteure van Everland Productions – die maatskappy wat Stofpad Langs vervaardig. Sy was 12 jaar lank as MD by Maranatha Platemaatskappy betrokke. Sy en Ansie is die ‘Executive Producers’ van die film ‘Tornado’ wat later die jaar uitkom.

Ansie Nel is ook hier al is dit nie fisies so nie. Sy behartig Everland se sake in Pretoria en verslind die foto’s wat ons op Facebook laai.

Mart-Marie Schoeman is die produksie sekretaresse en reël die meeste van ons logistieke dinge, sy is die stem wat al die mense met wie sy die afgelope paar maande oor die foon gesels het, wil ontmoet. Sy bestuur saam met Sarina die kiekiemakers vir die prentjies wat ons wil onthou.

Mocke Prinsloo is die ou sonder hare wat sy beeldhou vernuf met die videokamera toepas en so die hart van die tog opvang. Hy is gelukkig met Sarina getroud en ek dink sy stem saam. (Hie-hie)

Sarina (ja, haar van is net soos Mocke s’n ook Prinsloo), sy vis vir ons foto’s uit die plekke wat ons besoek en hou Mocke se hand vas. Sy, soos Eva, het ook die mag oor die Appel en redigeer saam met Anita die beelde dat hulle op die kassie kan riel.

Bennie Jansen is ons jongste ruiter op die tog, hy is 15 maar sal jou herinner dat hy darem dié jaar ook verjaar en 16 word. Hy ry agter die skerms saam op Tornado, die perd waaroor die film gaan wat oom Barrie en sy perd se storie vertel. Hou die teaters dop – die film kom aan die begin van April uit.

Estiaan Cronjé is die logistieke bestuurder en vorm saam met Bennie deel van oom Barrie se ondersteuningspan. Hy is veral vernuftig om na ʼn lang dag in die son nog steeds plek te hê vir ʼn glimlag. Hy gaan nog ʼn stuk grond van sy eie hê waar die mens en natuur mekaar kan bekyk. Ek hoop hy sal my nooi om te kom kuier …

Ek dra ook ʼn loerkas rond en help om die prentjies in te roep, soms voel ek meer soos Noag wat maar net die skippie het en die diere daag self op. Meer van wat ek aanvang sal deur die gedagtes skemer.

Aan die praktiese kant: ons ry ʼn gemiddeld van 20km per dag, daar is plekke waar ons in tente langs die pad slaap en plekke waar die boere amper handgemeen raak met mekaar om vir ons slaapplek te verskaf.

Voorlopig sal dit dan al wees.

Die boeretroos se beker daar langs jou is seker al leeg of, as dit ʼn glas van die rooies was, het dié ook al klaar gesneuwel, so as jy gou voor jy aangaan ʼn tree saam met my wil stap: Soek ʼn plekkie wat regtig stil is, sit …

Luister

Die mense van hier sê dat die Karoo is stil genoeg dat jy jou eie hart kan hoor klop …

Post Navigation

%d bloggers like this: